Podlitiek: Maimane laat almal lag, China soek krag en Wellington se ou vlag

Pres. Ramaphosa en pres. Xi Jinping. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Opgestel deur die Podlitiek-span

Die Podlitiek-span neem vandeesweek weer die swaard op teen ideologiese moerasse, filosofiese lokvalle en politiese paniek.

Daniël Eloff open die gesprek met ’n verwysing na ietwat vreemde politiese skuiwe binne die Demokratiese Alliansie. Die DA sou, op 16 September, amptelik hul premierskandidaat aankondig. Ondanks die feit dat daar reeds ’n proses gereed was om die kandidaat aan te wys, het Mmusi Maimane homself genomineer vir die posisie. Waarom hierdie skuif? Hoewel dit sekerlik ’n uiters tipiese streek is van Gautengers om Kaap toe te trek, is daar rede om te glo dat hy dalk sodoende sy posisie meer skade as goed gedoen het. Natuurlik het hierdie skuif ook implikasies vir die DA – dit verteenwoordig ’n geïmpliseerde erkenning dat die DA nie verwag om nasionaal te wen nie (wat seker nie te verbasend is nie, alles in ag genome). Die span is dit nie eens of dié geleentheid vir Maimane om praktiese regeringservaring op te doen, die risiko werd is nie.

Daniel du Plessis wys uit dat hoë risiko-gedrag egter nie beperk is tot die DA nie. Soos al hoe meer besonderhede van die Suid-Afrikaanse regering se ooreenkomste met die China bekend word, is daar al meer rede vir kommer. Hoewel die gebruik van Spesiale Ekonomiese Sones (SES) moontlik ʼn heel lewensvatbare oplossing vir Suid-Afrika se ekonomiese kwelpunte is, is dit onrusbarend dat China se belange reeds die regering se beleide verander het. In stryd met sy eie energieplan, wat poog om afhanklikheid van steenkoolkrag te beperk, het Suid-Afrika onderneem om, onder meer, ʼn groot steenkoolsentriese industrie te vestig – alles, natuurlik, onder waaksame Chinese oë.

Paul Maritz noem hierna dat Suid-Afrika ook elders internasionale aandag getrek het – en nie net vanweë uitstekende rugby nie. Tydens toetsrugby in Nieu-Seeland is die ou Suid-Afrikaanse vlag opsigtelik vertoon. Hoewel dit onmiddellik verwyder is, ontketen dit (weer) ’n geweldige debat oor die kriminalisering van die vertoon van simbole soos die ou vlag – en ook ander vorms van uitdrukking wat aanstoot kan gee.

Vandeesweek sluit die Podlitiek-span af met ’n nuwe insetsel. In ’n poging om tog ’n paar ligpunte in die Suid-Afrikaanse situasie te ontbloot (en aan te moedig!), word die Blink Kant Bo-segment van stapel gestuur. Vandeesweek is die span positief oor Johannesburg en Kaapstad se prestasies in die Global Financial Centres Index, die Springbokke se uitstekende spel op 16 September in Wellington, Nieu-Seeland en dan, tong in die kies, die moontlike vooruitsig van ’n nuwe pous vir die Katolieke Kerk.

  • Is jy onseker oor ons land se toekoms? Voel jy dalk oningelig oor politieke kwessies wat aan die orde van die dag is? Dan is Podlitiek die ideale instrument om jou opinie mee te slyp! Sit gerus die gesprek in die kommentaarafdeling voort, en onthou om Podlitiek op Iono.fm, YouTube en iTunes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jerry ·

Ek het geen onsekerheid oor SA se toekoms tydens CR se termyn. Daar is genoeg goeie ekonomiese intensies, ingesluit OSV. Wat my egter kwel is dit wat vir SA voorle na CR se termyn en indien n leier uit die Zuma stal weer oorvat en alles wat CR nou opbou word weer geplunder. Wat is die kanse dat dit kan gebeur, gevolge en sal SA weer kan herstel? Ek hoor graag wat julle se!

Salamander ·

Jerry, wat ek glad nie betwyfel is die feit dat CR steeds ‘n Kommunis is wat op Kapitalisme teer solank hy kan. Die EWC progaram se skielike dringendheid het deels te doen met stemme werf, grotendeels te doen met die prima eiendom waar die SES tot stand moet kom en die eiendom vir n appel ei moet bekom. Ek kan glad nie sien dat daar enige goeie ekonomiese intensies met OSV gepaardgaan nie, volgens jou. Dis eerder ekonomiese selfmoord.

Paul ·

Dankie vir die luister! Ek glo vas dat die vrye mark die enigste ware manier is om hierdie saak op te los.

Paul ·

In terme van Post CR. Miskien is die ANC dan nie meer in die stoel nie, if ten minste nie alleen in die stoel nie? Ek stem saam dat kleptokrasie maklik weer ons viorland kan word.

Daniël ·

Ek is bevrees dat selfs CR se ekonomie het maar ‘n mistroostige uitkyk ongelukkig. Onder sy leierskap het die regering die brandstofprys en BTW verhoog, druk hulle voort met grondonteiening en is hulle besig om ons tradisionele handelsvennote te vervreem en ons in skuld met China te dompel.

Henry ·

Die kortstondige euforie wat vanaf April 1994 tot Nelson Mandela se uittrede geheers het en wat selfs gedurende Mbeki se bewind hardnekkig aan hierdie droewe land vasgeklou het, het met die Zuma era tot ‘n onafwendbare en dodelike einde gekom.

Maak vrede met die feit dat die snel groeiende meerderheid van 55 miljoen swart burgers geen vooruitsigte vir ‘n beter lewe het nie. Konserwatief bereken, is helfte van hierdie 55 miljoen mense sonder werk, sonder toekoms, sonder opleiding, sonder permanente behuising, sonder hoop. Hulle moet elke dag voort ploeter met geen vooruitsigte vir ‘n beter lewe nie.

Die korrupte regeerders/leiers en hul onbevoegde/kader staatsdiens wat tot op die laagste en kleinste dorpsvlak strek, is so diep gesetel en stewig gevestig, dat niks en niemand hulle kan/sal ontsetel nie. Om nie eers te praaaat van al die ander goggas soos grondgrype, vernietigde dienste, moord en doodslag ens ens ens wat tiperend van ‘n gefaalde staat is nie.

Ramaphosa en al die koning se perde en al die koning se impi’s, sal nie hierdie Afrikastaat red, of weer aan mekaar kan lap nie.

waarheid ·

Hoe gouer daar ‘n nuwe Pous kom hoe beter. Lyk my die huidige een beskerm die pedofiele tussen hom. Wat se dit van hom?

Een ·

Maimane staan nie meer as premier nie. Maar ek neem aan die opname is vroeer gedoen.

Paul ·

Jup, ons glo wel die algemene bespreking oor die DA se leierskap steeds relevant is. Hoop jy geniet dit!

Swanna ·

Wat is dit met die regering van die dag met die oosterse lande. Zuma met die Guptas ( Indië) en Ramaposa met Jinping(China). Daai mense soek moelikheid wat alreeds deur Zuma begin is en nou Ramaposa ook in dieselfde gat. Oosterlinge gee niks verniet nie. Langs die pad neem hulle wat hulle wil want jy skuld hulle en hulle sal jou daaran herinner wanneer begin kla of dwars trek.

humor ·

Henry ek stem volmondig saam mbt die al groterwordend 55 miljoen wat geen vooruitsigte en geen toekoms het nie. In stede dat daar erns gemaak word met hierdie oewerlose maatskaplike probleem word hierdie mense in hul haglike posisie as stemvee gebruik om slegs n revolusionere beweging wat belangriker is as die land aan die bewind te hou. Met hierdie onvoorkombare sinkende skip word na strooihalms gegryp, heel onbewus dat hierdie strooihalm n dodelike adder is. Of miskien is dit bewustelik, maar dit is blood terwille van n langer oorlewing. Die werklikheid is dat hierdie regering magteloos staan teenoor die ellende deur eie toedoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.