Dricus gaan weer die UFC-hok skud

Dricus “Stillknocks” du Plessis. Foto: Twitter.

Ná ʼn rits goeie vertonings gaan Dricus “Stillknocks” du Plessis weer op 4 Maart die UFC-hok skud. Die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-ster sal dan teen Derek Brunson in Las Vegas te staan kom.

“Hulle het gesê dat ek dit nooit in die UFC sal maak óf onder die gekeurde vegters sal tel nie. Topvyf, hier kom ons!” het ʼn opgewonde Du Plessis op sosiale media gesê.

Volgens die amptelike ranglys is die Suid-Afrikaner tiende op die middelgewigranglys, terwyl die 39-jarige Brunson vyfde op dié lys is.

Die ervare Amerikaner is reeds sedert 2012 deel van die UFC-opset en hy het al onder andere teen Israel Adesanya, Anderson Silva en Jared Cannonier te staan gekom.

Maar waar Brunson se lig deesdae ʼn bietjie flouer skyn, is Du Plessis ongetwyfeld een van die sport se opkomende sterre.

Du Plessis in aksie teen Darren Till. Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP.

Hy is onoorwonne ná vier gevegte in die UFC-hok en hy het verlede Desember vir Darren Till laat les opsê toe hy hom in ʼn wurggreep beetgekry het.

“Ek het ná my vorige geveg [teen Brad Tavares] vir julle gesê dat ek voor die einde van die jaar onder die toptien sal wees. Nou ja, hier is ons en ek glo dat ek teen die einde van 2023 ʼn aanspraakmaker om die titel kan wees,” het Du Plessis ná daardie geveg gesê.

Oudergewoonte het hy ook ʼn slag vir Afrikaans geslaan en hy het sy ondersteuners op regstreekse televisie vir hul ondersteuning bedank.

Hy het die Amerikaners ook ʼn les gegee om sy naam en van korrek uit te spreek – die laaste “s” in Du Plessis word immers nie uitgespreek nie.

Du Plessis het al ná sy tweede geveg teen Trevin Giles vir UFC-liefhebbers aangemoedig om sy naam te onthou. Nou ja, danksy sy goeie vertonings is sy naam beslis nou op almal se lippe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik Marthinus ·

Dus altyd Baie goed om positief te wees, maar die knaap begin nou windgat word.
As jy die kampioen ook is moet jy nederig wees nie windgat.
Hy is trots Afrikaans, maar regte egte Afrikaanse man’s is nederig in hul oorwinnings
Des nieteenstaande, welgedaan Drickus ons hou duim vas vir jou

Watsenaam ·

Drickus, jy is nog nie ‘n Yank of n wêreld kampioen nie, Asb, ons Suid Afrikaners weet jy is n wêreld kampioen. Jou grootbekigheid gaan maak dat die mense nie van jou gaan hou nie, en jou oorsese ondersteung sal taan. Wees stil, wees strek, glo in jouself, doen jou ding. Ons weet jy kan. Sterkte “Champ”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.