Pluimpie vir Du Plessis

Dricus du Plessis in aksie teen Darren Till. Foto: Sean M. Haffey/Getty Images/AFP.

Dricus “Stillknocks” du Plessis het die afgelope naweek in Las Vegas vir Darren Till ore aangesit toe hy met een van sy geoefende bewegings die tweestryd in die derde ronde tot ʼn skielike einde gebring het.

Dié onderonsie in die UFC-hok is intussen as die beste geveg van die aand aangewys. Sodoende het Du Plessis ʼn bonustjek van $50 000 (R885 000) in die sak gesteek.

Oudergewoonte het die Suid-Afrikaanse gemengdegevegskuns-ster die daad by die woord gevoeg en hy tel nou onder die voorste atlete in sy middelgewig-afdeling.

“Ek het ná my vorige geveg [teen Brad Tavares] vir julle gesê dat ek voor die einde van die jaar onder die toptien sal wees. Nou ja, hier is ons en ek glo dat ek teen die einde van 2023 ʼn aanspraakmaker om die titel kan wees.”

Volgens Du Plessis was Till te lig in die broek om in die middelgewig-afdeling appels te swaai.

“Ek dink Darren het al bewys dat hy ʼn ongelooflike vergter is, maar ek glo dat hy as ʼn weltergewig beter af sal wees. Ek het die wêreld se respek vir hom, maar hy is nie groot en sterk genoeg om in hierdie gewigsklas te veg nie.”

Die Suid-Afrikaner is tans onoorwonne in die UFC-hok nadat hy vantevore ook met Tavares, Trevin Giles en Markus Perez afgereken het.

“Baie mense het vir ons gelag toe ons gesê het dat ʼn Suid-Afrikaner onder die topgekeurde vegters sal tel. Hulle het almal aangevoer dat Dricus goed is, maar dat hy nie saam met die groot honde in sy kategorie sal kan blaf nie. Nou ja, wie lag nou die lekkerste?” het hy destyds ná sy geveg teen Tavares gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Lekker man. Ek is bly ons het weer ‘n vegter op die wereld-verhoog.

Koos 100 ·

En een wat sommer Afrikaans praat tydens sy onderhoud. Dankie daarvoor al was daar net 43 mense wat dit kon verstaan!

kaplyn ·

Baie geluk Drikus jy maak die Afrikaans sprekendes trots om Afrikaners te wees! Jy vat nie binne die hok en buite die hok nonsens nie! Dit is ‘n voorreg om jou loopbaan te volg!

Chantel ·

Nog groot dinge wat hierdie man gaan bereik. Cameron het net so goed gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.