Gerda en Irvette is pure marathon-goud

Gerda Steyn en Irvette van Zyl. Foto: Verskaf.

Die Suid-Afrikaanse vlag het gister trots in Italië gewapper nadat Gerda Steyn en Irvette van Zyl amok by die Toskaanse marathon gemaak het.

Die vlugvoetige Steyn het Colleen de Reuck se nasionale rekord van 2:26:35 – wat sy 25 jaar gelede in Berlyn opgestel het –  met ’n blitsige tyd van 2:25:28 verpletter.

Die 31-jarige Nedbank-atleet is in die sewende hemel nadat sy verlede jaar in Londen die rekordtyd met net ’n paar sekondes misgeloop het.

“Ek is ongelooflik gelukkig met my tyd en die nasionale rekord. Ek het baie hard daarvoor gewerk en ek wou die rekord so graag ná verlede jaar verbeter,” het Steyn op sosiale media geskryf.

Dit is egter ook die eerste keer in die geskiedenis dat twee Suid-Afrikaanse vroue by dieselfde wedloop vir die Olimpiese Spele kwalifiseer.

Irvette van Zyl het ook haar kaartjie na die Tokio-spele bespreek.

Die ster van die Soweto-marathon – ’n wedloop wat sy al ’n hele paar keer in haar loopbaan gewen het – het gister se 42,2 km in ’n tyd van 2:28:40 kafgedraf.

Foto: Verskaf.

Haar man, die 400 m-hekkieskampioen LJ van Zyl, is baie opgewonde oor haar kwalifiserende prestasie.

Tog het die senuwees ook maar lekker geknaag.

“Ek moes die aksie op sosiale media volg en jy kon nie lekker sien wat gebeur nie; my senuwees was omtrent op hol! Maar ek is baie opgewonde en ek weet wat dit vir haar loopbaan beteken,” het ’n trotse Van Zyl vir Maroela Media gesê.

Irvette het verlede September vir ’n knie-operasie gegaan en volgens Van Zyl het sy vrou ongelooflik hard agter die skerms gewerk om weer topfiks te word.

“Saans wanneer ek agter die rekenaar sit, het sy haar oefening in die huis gedoen. Soggens was dit weer tyd vir baan- en swemsessies. Hierdie prestasie gee haar ook weer hoop, want padwedlope het beslis ’n knou in die Covid-19-era gekry.”

Volgens Van Zyl is die kanse skraal dat hy saam na Tokio sal kan vlieg om haar by die Spele te ondersteun. Hy sal egter op wedloopdag voor die televisieskerm vasgenael sit om haar vordering te volg.

“Wat vroue-atlete betref, is Suid-Afrika se marathon-landskap in uitstekende hande. Nou kan hulle met vrymoedigheid in Tokio hardloop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronel ·

Om ‘n rekord op daai afstand met ‘n paar sekondes te verbeter, is verpletter in my oë. Kan jy beter doen?

Gawie ·

Ek weet nie hoe hulle kan praat van “rekord” in die marathon nie. Marathons word tog oor verskillende tereine gehou (op en af, party meer gelyk as ander) en nie een is dieselfde nie. Ek sou dink die term “die beste tyd” is beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.