Faul tydelik hoof by KSA; Smith glo volgende

Chris Nenzani, president van Krieket Suid-Afrika. (Foto: Twitter)

Dr. Jacques Faul blyk die man te wees wat jy in ’n krisissituasie aan jou kant wil hê. In 2012 is hy as Krieket Suid-Afrika (KSA) se tydelike uitvoerende hoof aangestel nadat Gerald Majola die trekpas oor die IPL-bonusskandaal gekry het.

Nou moet dr. Faul weer eens probeer om die land se krieketkastaiings uit die vuur te krap nadat hy gister vir die tweede keer in sy loopbaan as KSA se tydelike uitvoerende hoof aangestel is.

Dit was ’n dramatiese week vir Suid-Afrikaanse krieket waar belangrike beamptes bedank het, Standard Bank wat as hoofborg besluit het om nie sy borgskap te hernieu nie, spelers wat met ’n staking gedreig het en joernaliste wie se wedstryd-akkreditasie ingetrek is.

En die persoon om wie die krisisspilpunt na bewering draai, is Thabang Moroe – die man wat sedert Julie 2018 KSA se uitvoerende hoof is.

Thabang Moroe – die geskorsde uitvoerende hoof van KSA. (Foto: Twitter)

Moroe is Vrydag geskors om die bewerings teen hom te ondersoek. Hy sal egter steeds gedurende die ondersoek sy volle salaris ontvang.

Tydens gister se mediakonferensie in Johannesburg het Chris Nenzani (KSA se president) gesê die voormalige Protea-paaltjiewagter en uitvoerende hoof van die Internasionale Krieketraad, Dave Richardson, kan dr. Faul in ’n raadgewende hoedanigheid bystaan.

Een van die eerste doelwitte op KSA se prioriteitslys is om Graeme Smith deel van die nasionale opset te maak.

Die 38-jarige oudkaptein van die Proteas is vir die rol as KSA se eerste direkteur van krieket genader, maar nadat daar berig is dat hy al op 1 Oktober in dié amp aangestel sou word, het die proses gesloer en Smith het intussen sy aansoek onttrek.

Samesprekings tussen die twee partye is egter intussen hervat en Nenzani het gister gesê Smith se aanstelling is om die draai.

Volgens Nenzani het Smith sy aansoek om ’n paar redes onttrek, waaronder dat hy nie vir Moroe vertrou het nie.

Smith was ook huiwering omdat hy gevoel het daar geen waarborg was dat hy sonder politieke, asook KSA-inmenging sy werk kon doen nie.

Graeme Smith kan binnekort die rol as KSA se eerste direkteur van krieket vervul. (Foto: ANA)

“As jy ’n direkteur van krieket het, kan die res van die legkaartstukke in plek val. Jy kan met die keuringsproses begin en die span kan begin voorberei,” het Nenzani gesê.

Die toetsreeks teen Engeland begin oor net meer as twee weke en daar is nog nie ’n Protea-groep vir die wedstryde aangekondig nie. Engeland het sy spelersgroep reeds aangekondig.

Ook dr. Faul het die erns van Smith se aanstelling beklemtoon.

“As hy nou deel word van die opset, is daar darem ’n mate van vordering. En dit is wat ons nou ongelooflik nodig het. Ons moet toesien dat die Proteas ’n mededingende krag in wêreldkrieket bly,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Linda ·

Ek is bly dat Smith binnekort weer by krieket brtrek word, hy is n aanwins vir Krieket Suid-Afrika !!!

André-Chris ·

Die saak is nog hoegenaamd nie gewonne nie en Smith het dit nog nie bevestig nie, dit hoop nou hy sal instem. Ek sien hier bo in die berig word ook beduie dat Smith op 1 Oktober aangestel sou word, maar dat hy hom onttrek het omdat die proses gesloer het. Ek het weer nou tydjie gelede gelees dat hy, toe dit bekend geraak het dat sy naam in die hoed gegooi is, hom onttrek het, want hy was nie bereid om die pos te aanvaar as daar met sy werk ingemeng sou word nie, DIT was sy groot protes, inmening van bo wat hom sou kniehalter.

André-Chris ·

Wat hier gebeur en die vertroue wat mens in die regering se ondernemings het, is wat mens vir der jare met ander aspekte ondervind. Daar is nog nie bewys gelewer nie, Eskom en nou SA Krieket, kom ons kyk die dag as die mense in hul poste is in hoe verre hulle Cart Blanche het om die beste in SA se belang na vore te bring en of een of ander ANC ideologie weer die oorhand sal kry.

Spike ·

Waar die comrades en kaders hul hande oplê gaan als totniet. Smith, as ek jy is los ek dit. Op die einde sal hulle jou ook vernietig.

Suzette Geringer ·

Stem saam Spike. Als vrot waar hulle kloue ingeslaan word. Kan nie verstaan dat hulle dit nog nie kon insien nie….

André-Chris ·

As ek Smith was, sou ek my net as sakereddingspraktisyn beskikbaar stel.

Werner ·

Graeme is die regte persoon vir die pos. Toe hy as 22jarige kaptein geword het, was hy hardegat genoeg, dat niemand ooit met hom gesukkel het nie. Administrateurs oor die wereld heen, respekteer hom omdat hy ruggraat het.

m.d.r. ·

Ou Graeme–as jy die pos aanvaar moet jy hare op jou tande he…..!
As ek mag raadgee….stel dit as voorwaarde dat jy by die geringste politiekery gaan loop en by die IKR gaan vra dat SA geboikot moet word vir rassisme in krieket…..
Omring jouself met mense uit die krieket wereld, nie die politieke wereld nie.
Jy kan begin om iemand soos Mark Boucher aan te stel as afrigter, ons verdien , en het beter as die flops wat ons die laaste tyd mee sit.
Ek is seker daar is baie van ons oud spelers wat gretig sal bydra om SA weer ‘n wenspan te maak.

Abie ·

Ek salueer Graeme Smith vir sy bereidwilligheid om KSA te red. My motto is steeds – gebruik leiers uit die industrie (in die geval krieket) wat nasionaal en internasionaal respekteer word en wat die sisteem en die deelnemers daaraan ken, wat ‘n geloofwaardige verwysingsraamwerk het en nie bang is om teen die aanslae sy rug styf te maak nie. Vergeet vd ongekwalifiseerde politieke gunstelinge wat nie oor hierdie genoemde eienskappe beskik nie en jy het ‘n goeie kans om die regte kandidaat vir die pos te bekom. En Graeme Smith is so ‘n persoon.m

Rupert Ashford ·

Ek sien op ander nuuskanale Dr Bacher is nogsteeds betrokke by hierdie proses… Katvoet loop Graeme…

Matt ·

Dit is vir my net wondewrlik hoe al hierdie top poste in die onderskeie sporte en die industrieë gevul is deur persone wie se name jy nog nooit gehoor het nie en wat geen benul het van hoe die bestuur van ‘n besigheid werk nie. Wanneer die besigheid dan ineenstort, word hulle geskors met betaling tot die ondersoek, wat natuurlik dan maande of jare neem, afgehandel is. Smith gaan moontlik, en dan hopelik sonder inmenging, die bestuur oorneem en dan na ‘n paar maande begin die inmenging.

George in Bloem ·

Innige simpatie Mnr Smith. Om iets wat op alle vlakke ge-choke het te un-choke,gaan iets of iemand spesiaal verg. Hoop maar jy’s dit. Sterkte.

ChrisE ·

Daar is baie belangriker knelpunte in die land as manne in wit of pajamapakke wat ‘n bal met ‘n seepspaan slaan en jaag in die land. Ek is van nature positief oor baie goed, maar so nou en dan klim die swart hond op my skouers. Die realiteit in die land is dat niks wat die wittes as belangrik of van waarde geskat het behoue gaan bly nie. Dit gaan my eenvoudige denke en beskouings van die lewe ten bowe. Hoe op dees aarde kan mens die kloutjie by die oor bring. As iets werk, of funksioneer wat besiel jou of wat gaan in jou klapperdop aan om dit te breek af te breek of totaal en al te vernietig. Ek dink ons wittes besef nie die diepgewortelde intense afkeur, misnoeë en weersin wat daar teen ons is nie. Alles moet eers met die grond gelyk gemaak word voordat die realiteit sal inskop, dit werk nie meer nie. Ek het nie woorde om my emosies daaroor uit te druk nie. SAA is van die oudste lugdienste en het ‘n uitstekende veiligheidsrekord. Ons gaan dit verbeter deur die vliegtuie op die grond te hou agv wanadministrasie. Ek praat nie eens van die Spoorweg nie. Ek kan die lys laat rek. Dit is tyd vir ‘n groot ommekeer, regruk en verandering in die land. Die tyd is ryp daarvoor. Maar die geleentheid is nog nie daar nie. Dit is elke dag al hoe nader.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.