SA’ners maak amok in Engeland

Dawid Malan (Facebook).

In Suid-Afrika word daar meer opslagballe in die raadsale as op die kolfblad afgestuur, maar in Engeland is daar ’n Malan, ’n Harmer en ’n Eksinazi wat darem ook hul staal op die krieketveld wys.

Die 33-jarige Dawid Malan het in ’n eersterangse wedstryd in Augustus 219 lopies vir Yorkshire teen Derbyshire geslaan, terwyl hy ook uitstekende krieket vir Engeland in die internasionale T20-arena speel.

Volgens die Internasionale Krieketraad se amptelike T20-ranglys is die oudleerling van Paarl Boys’ High tans die voorste mik-en-moker-kolwer ter wêreld. In die afgelope reeks teen Australië het hy 129 lopies teen ’n gemiddeld van 43 geslaan.

Dan sal Simon Harmer weer eens die bouler met die meeste paaltjies agter sy naam in die Bob Willis-reeks wees. Die 31-jarige draaier het tans 34 paaltjies ná vyf wedstryde teen ’n spoggemiddeld van 13,70 geneem.

Vroeër in die seisoen het hy vir die derde keer in sy loopbaan 14 of meer paaltjies in ’n wedstryd geneem toe hy Essex gehelp het om Surrey met 169 lopies te klop.

Hoewel hy ’n Kolpak-kontrak met Essex onderteken het, kan Brexit sy kanse om toetskrieket vir Engeland te speel in die wiele ry.

Stephen Eskinazi. Foto: Twitter.

“Met die Kolpak-regulasies wat verander sal die Kolpak-etiket teen die einde van die jaar heeltemal wegval wanneer Engeland die Europese Unie vaarwel toeroep,” het Harmer gesê.

Die krieketwebblad Cricinfo het hom gepols of hy weer na Suid-Afrika sal terugkeer om sy internasionale drome na te jaag.

“Dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Daar gebeur baie dinge in Suid-Afrika en ek is onseker oor wat die gevoel van mense daar is.”

Stephen Eskinazi is dalk ’n naam wat nie té bekend onder Suid-Afrikaners is nie, maar die voormalige Johannesburger is tans die tweede voorste lopiemaker in Engeland se Vitality Blast T20-reeks.

Hy het 273 lopies in ses wedstryde teen ’n treftempo van 149,18 vir Middlesex geslaan.

Eskinazi se stamboom sorg vir interessante leesstof: Hy het ’n Engelse ma, ’n Zimbabwiese pa, is in Johannesburg gebore en het sy hoërskoolkrieket vir Wes-Australië se o.17- en o.19-span gespeel.

Jason Roy. Foto: Facebook.

In gisteraand se Engeland/Australië-eendagwedstryd in Manchester het daar ook ’n hele paar spelers gespeel wat in Suid-Afrika gebore is.

Jason Roy (Durban) en Tom Curran (Kaapstad) het vir Engeland diens gedoen, terwyl Marnus Labuschagne (Klerksdorp) 48 lopies vir die Aussies geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre ·

Wys jou net… as jy as ‘n Suid Afrikaanse krieketer gebore is, die enigste manier hoe jy dit gaan maak is om weg van die land te beweeg.

Andrew ·

As iemand vir Engeland speel, is dit nog reg om na hom as n suid afrikaaner te verwys? Kom hy eendag terug om vir suid afrika te speel?

Hennie ·

Indien die persoon nog nie sy SA nationaliteit opgegee het nie dan kan daar natuurlik na hom/haar verwys word as ‘n Suid Afrikaner.

Kokerboom ·

Welgedaan SA spelers. Trots op jul . Bly ASB daar. Ons sal jul daar dophou!!!Jul verdien NIE die plaaslike krieket rassistiese katastrofe!!!

Boksombende ·

Engeland is nie immuun nie. Hierdie rasse malligheid is besig om reg oor die wereld te versprei. Die wereld is besig om heeltemal op sy kop te draai.

johan ·

Deesdae n moeilike besluit vir wie om te skreeu met al die Suid Afrikaners in verskillende wereld spanne, op die stadium skreeu ek vir die nie knie buigende Aussies, defnitief nooit weer vir die Proteas nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.