SA Rugby glo in Bongi se integriteit

Bongi Mbonambi vier die Springbokke se oorwinning oor Engeland. (Foto: Thomas SAMSON/AFP)

SA Rugby sê hy het volle geloof in die eerlikheid en integriteit van Bongi Mbonambi (32) wat in omstredenheid gedompel is nadat hy van ʼn rassistiese uitlating beskuldig is.

Saru het terselfdertyd Wêreldrugby se besluit om geen stappe teen Mbonambi te doen nie, verwelkom.

ʼn Klag van rassisme kon die Springbokhaker in die gesig staar ná ʼn beskuldiging dat Mbonambi tydens die afgelope naweek se Wêreldbeker-halfeindstryd uiters neerhalend na die Engelse voorspeler Tom Curry verwys het.

“Enige vorm van rassisme is afskuwelik vir SA Rugby en die Springbokspan wie se doelwit is om alles moontlik te doen om te help om ons diverse en multikulturele nasie te verenig,” het SA Rugby in ʼn verklaring gesê.

“Bongi Mbonambi is ʼn ervare en gerespekteerde toetsspeler en het, nodeloos om te sê, die bewerings uit die staanspoor ontken.”

Die Springbokspan bepaal nou sy volle aandag by die Wêreldbeker-eindstryd wat voorlê.

Duisende Suid-Afrikaners het in die rassisme-debakel bankvas agter Mbonambi gestaan en in sy onskuld geglo.

Sommige sosialemediagebruikers sê nou Engeland skuld die Bokke se haker ʼn verskoning.

“Engeland se rugbyspan wat voortgaan om hierdie leuen te propageer, is onaanvaarbaar. As ons aanvaar dat Curry die beskuldiging in goeie trou gemaak het, sal hulle dit sekerlik laat gaan en jammer sê nadat ons verneem het dat hy iets in ʼn ander taal verkeerd gehoor het?” skryf ene Lu op X.

Nicholas skryf op sosiale media dat Curry aangekla moet word vir naamskending en laster omdat hy Mbonambi valslik van rassisme beskuldig het.

Volgens Bheki Mathabathe, nog ʼn sosialemediagebruiker, is daar feitelik geen bewyse teen Mbonambi nie.

“‘Onvoldoende’ beteken nie genoeg nie. Watter bewyse het Tom Curry verskaf? Niks hoegenaamd nie. Dit is slegs ʼn bewering teen Bongi Mbonambi, wat nie eens deur die skeidsregter gestaaf kan word nie. Wie anders het dalk Mbonambi se rassistiese uitlating gehoor,” meen Mathabathe.

Maroela Media het vroeër berig die Engelse Rugbyunie (RFU) het sy teleurstelling te kenne gegee dat die klag van rassisme teen Mbonambi afgesluit is en dat hy aan die Wêreldbeker-eindstryd gaan deelneem.

Steve Borthwick, die afrigter van Engeland, hou ook vol dat Curry niks verkeerd gedoen het nie.

“Hy het ʼn slagoffer van die situasie geword waarin sy stem nie gehoor is nie. Dit is teleurstellend,” het Borthwick gesê.

“Curry het deur die hele situasie baie ondersteuning gekry.”

Een van diegene wat ʼn boodskap van steun aan Curry gestuur het, was Bokkaptein Siya Kolisi.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

gatgogga ·

Skuldig of onskuldig – ons weet nie.
Nodeloos om te se – hulle sal dit mos altyd ontken.

007 ·

Ek glo ook nie die onskuld heeltemal nie. Maar ja SARU sal altyd agter sy makkers staan.

Ore ·

Die reel is maklik…wie beweer moet bewys. Met al die tegnologie kan die Engelse nie konkrete bewyse lewer nie. Ek is seker daar is al erger woorde op ‘n rugbyveld gebruik. Curry is ‘n tjankbalie. Seker gehoop op ‘n geel kaart

Johann ·

Jammer om te noem dat dit lyk asof daar na uiters ongewone en dalk selfs onwaarskynlike “verklarings” gegryp word. Indien dit so sou wees – en hoop dit is nie – sal dit ‘n verskriklike onreg wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

En in die ANC kabinet. Dalk minister van inligting of sport.

Treurwilger ·

As Curry reg is dat Mbonambi ‘n soortgelyke oortreding verlede jaar begaan en daarmee weggekom het, word ‘n onreg gepleeg.
Waarom sou Curry ‘n jaar later weer met ‘n ‘leuen’ vorendag kom met die volle ondersteuning van sy span en bestuur as daar niks was nie?
En hoe kan daar “bewyse” gebring word vir woorde wat gesê is?
Die skuldige weet wie hy is …
Hoop die Bokke se “kant” is skoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.