Britse koninklikes: Laggende Louis verjaar, Meghan ontken konflik met Charles

Prins Louis en sy ma, Kate Middleton, die prinses van Wallis. (Foto: Instagram/@The Prince and Princess of Wales)

Louis word vyf

Kate Middleton en prins William, die prins en prinses van Wallis, het die afgelope naweek pragfoto’s van hul jongste kind, prins Louis, op sosiale media gedeel om die kleuter se vyfde verjaarsdag te vier.

In een van dié foto’s, wat deur die fotograaf Millie Pilkington vasgevang is, word ʼn laggende Louis deur sy ma in ʼn kruiwa vol blare deur die Windsor-landgoed gestoot.

Prins Louis van Wallis (gedoop Louis Arthur Charles) soos hy amptelik heet, is op 23 April 2018 gebore en is een van die jongste lede van die Britse koninklike familie.

Hy is die derde kind en tweede oudste seun van die prins en prinses van Wallis, en gevolglik die vierde aanspraakmaker op die Britse troon.

Sy eerste en laaste naam is onderskeidelik ter ere van sy verlangse oom, lord Mountbatten, en sy oupa, koning Charles III.

Dié foto’s volg kort nadat die prins en prinses van Wallis op 21 April ʼn spesiale foto van koning Elizabeth II gedeel het ter ere van wat haar 97ste versjaarsdag sou wees.

Koningin Elizabeth II saam met van haar kleinkinders en agterkleinkinders in 2022. (Foto: Instagram/@The Prince and Princess of Wales)

In dié foto, wat nog nooit voorheen met die publiek gedeel is nie, poseer die koningin met twee van haar kleinkinders en agt van haar agterkleinkinders. Die prins en prinses van Wallis het in die sosialemediaplasing geskryf dat dié foto in die somer van 2022, kort voor die koningin se afsterwe in September van dieselfde jaar, by die Balmoral-landgoed in Skotland geneem is.

Prins Louis sal na verwagting sy broers en susters na sy oupa se kroningseremonie volgende maand vergesel.

Meghan sê media maak hul eie sirkus

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, het bewerings dat sy weens konflik nie haar skoonpa, koning Charles III, se kroningseremonie op 6 Mei gaan bywoon nie as ” belaglik en vals” afgemaak.

Buckingham-paleis het op 12 April bevestig dat prins Harry sy pa se kroningseremonie sonder sy gesin sal bywoon. Dít sal die eerste keer wees wat hy sy familie sien na die publikasie van sy boek, Spare – waarin verskeie aantygings teenoor sy pa en broer gemaak word.

“Buckingham-paleis is bly om te bevestig dat die hertog van Sussex die kroningsdiens in Westminster-abdy op 6 Mei sal bywoon. Die hertogin van Sussex sal saam met prins Archie en prinses Lilibet in Kalifornië agterbly,” het dié amptelike verklaring gelui.

Meghan Markle. (Foto: Paul Edwards, AP)

Daar word bespiegel dat die hertogin in die VSA agterbly om die egpaar se oudste kind, prins Archie, se vierde verjaarsdag op 6 Mei (toevallig dieselfde dag as die kroningseremonie) te vier, maar die Telegraph het beweer dat daar meer agter haar besluit lê.

In ʼn berig, wat op 21 April geplaas is, beweer die publikasie dat die hertogin kort ná haar en haar man se opspraakwekkende onderhoud met Oprah Winfrey ʼn brief aan haar skoonpa oor die koninklike familie se onbewustelike vooroordeling neergepen het.

Dit was glo in reaksie op ʼn brief wat hy eerste aan haar gestuur het om die voortdurende konflik tussen die Sussex-egpaar en die koninklikes te bespreek.

In dié televisieonderhoud het Meghan vertel dat daar kommer onder die familie was oor “hoe donker” haar seun se vel sou wees en of Archie koninklike beskerming sou geniet aangesien hy toe nie ʼn titel gehad het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat beide Archie en sy jonger suster, Lilibet, nie ʼn prins en prinses by geboorte was nie, maar outomaties reg op dié titels verkry met koning Charles III se toetrede tot die troon.

Koning Charles III lewer sy eerste toespraak as monarg. (Foto: Yui Mok/Pool/AFP)

’n Bron het aan die Telegraph gesê Meghan voel dat sy steeds nie ’n bevredigende reaksie gekry het op die kommer wat sy toe al aan die koninklike familie geopper het nie.

Dié koerant skryf ook dat die lid van die koninklike familie wat dié opmerking oor Archie gemaak het, in die koning en hertogin se briewe aan mekaar geïdentifiseer word én dat beide boonop erken dat die opmerking nie met kwaadwilligheid gemaak is nie.

’n Woordvoerder van Megan het aan verskeie publikasies, waaronder GB News en The Post gesê: “Die hertogin van Sussex gaan lewe in die hede en dink nie aan korrespondensie van twee jaar gelede wat verband hou met gesprekke van vier jaar gelede nie. Teenstrydige voorstelle is vals en belaglik. Ons moedig die poniepers en verskeie koninklike korrespondente aan om die uitputtende sirkus wat hulle alleen skep, te stop.”

Bronne: GB News, The Post, The Telepgraph, The Independant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Daleen ·

Enige laggende kinder gesiggie is enige tyd welkome nuus Miena.

Miena ·

Ek het glad nie n probleem met klein Louis en mamma nie… Dit is die ander nuusberig van Meghan wat die hele berig vir my half versuur het. Vir so n “belangrike dag” sit mens jou verskille & gevoelens eenkant toe en gaan ondersteun jou huweliksmaar & familie.

Nommer 7 ·

Ander nuus is dat daar ‘n verkeersophoping in Garies is. Oom Rooies van Zyl het skuins in die hoofstraat parkeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.