‘Die Kaplyn’-akteur ondergaan prosedure ná ineenstorting

Ilán van Staden in “Die Kaplyn” (Foto: Jannes Erasmus/Facebook)

Ilán van Staden, wat oorspronklikheid bekendheid verwerf het vir sy rolle in die musiekspele, Die Gelofte en Die Kaplyn, ondergaan Vrydag ʼn hartprosedure.

Dit kom nadat Ilán tydens een van Die Kaplyn se vertonings in Mei verlede jaar inmekaargesak het.

“Ek sou nie sê dat ek oorwerk was nie, maar ek was beslis in ʼn ritme van eet, slaap, teater. Dit is ʼn wonderlike ritme om in te wees, maar daardie gegewe dag was ek dalk bietjie gedehidreer en oormoeg,” het Ilán vroeër aan Maroela Media vertel.

In die laaste toneel van die tweede bedryf moes ʼn paar spelers ʼn liedjie sing terwyl hulle erge oefeninge gedoen het. Teen die einde van die toneel het Ilán besef dat iets drasties fout is. Hy het die verhoogbestuurder gevra of hy ʼn bietjie buite kan gaan staan tydens die pouse, maar het inmekaargesak voordat hy behoorlik kon asemskep. Sy hart het 226 slae per minuut geklop.

Sedert dié voorval, het Ilán verskeie dokters gaan sien om agter die kap van die byl te kom. Hy is intussen met supraventrikulêre tagikardie gediagnoseer, ʼn hartkwaal wat ʼn abnormaal vinnige hartklop veroorsaak.

(Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“As ʼn 28-jarige jong man, moet ek ingaan vir ʼn hartprosedure,” het Ilán op Instagram gedeel.

Alhoewel Ilán die prosedure moet ondergaan, vloei sy beker oor met dankbaarheid.

“Kort daarna [die ineenstorting], het die guns begin uitstort. Direk daarna het wonderlike mense my op Facebook gekontak en my in die regte rigting gestuur in terme van die chirurge om te sien. Ek kan eerlikwaar hier staan met ʼn dankbare hart.”

Kyk na Ilán se boodskap op Instagram hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê maar net ·

Baie, baie sterkte, Ilán. Mag die Here die dokters se hande seën en jou volkome genees en weer sterk maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.