Hiér kan jy Mej. SA-kroning regstreeks volg

Demi-Leigh Nel Peters, Tamaryn Green en Catriona Gray by Time Square in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Dit is net ʼn bietjie meer as 24 uur voordat die nuwe Mej. Suid-Afrika gekroon word en in Pretoria word daar behoorlik geswoeg om die vere reg te skud vir dié glansgeleentheid.

Die kroning sal by die Sun Arena in Time Square plaasvind en vanoggend was die arena reeds ʼn miernes van bedrywighede soos daar gereedgemaak word vir die kroningsaand.

Diegene wat nie die geleentheid gaan bywoon nie, kan gerus wees: Die geleentheid kan regstreeks gevolg word op MNet (DStv kanaal 101) en Mzansi Magic (DStv kanaal 161).

Demi-Leigh Nel Peters, voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Heelal; Catriona Gray, die huidige Mej. Heelal; en Tamaryn Green, die huidige Mej. Suid-Afrika; het vroeër vandag by ʼn mediakonferensie by Sun Arena hul opgewondenheid oor vanjaar se kompetisie uitgespreek.

Nel-Peters en Gray sal môreaand deel vorm van die beoordelaarspaneel.

Gray het gesê sy is beïndruk met die finaliste vir die kompetisie. “Hulle is ʼn diverse groep vroue, maar almal so passievol en só vasbeslote om ʼn verskil te maak, selfs al wen hulle nie die titel nie. Dié van ons wat gelukkig genoeg was om titels te wen, kan die kollig laat val op kwessies waaroor ons passievol voel,” het sy gesê.

Tamaryn Green praat Donderdag by ʼn mediakonferensie in Pretoria terwyl Demi-Leigh Nel Peters toekyk. (Foto: Verskaf)

Nel-Peters, wat tans in die VSA woon saam met haar verloofde, Tim Tebow, het gesê dit is heerlik om weer terug in Suid-Afrika te wees. Sy was ook vol lof vir Green en haar tyd as Mej. SA. “Tamaryn het vanjaar die kroon haar eie gemaak. Ek kan nie wag om môre ʼn nuwe lid by die susterskap te verwelkom nie. As vorige wenners werk ons hard om ʼn nalatenskap te verseker.”

Green het op haar beurt gesê haar tyd as Mej. SA was beter as wat sy ooit kon verwag. “Toe ek aan Mej. Heelal deelgeneem het, kon ek voel die hele land is agter my. Ek is verheug om hierdie groep talentvolle vroue op so ʼn belangrike dag te kan vier,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg daar is beslis steeds ʼn plek vir skoonheidskompetisies in die huidige bestel. “Ons gebruik dit nie om mooi aandrokke te dra nie, maar om iets daadwerkliks te bereik. Gedurende my jaar kon ek oor my TB-veldtog praat, nie net hier nie, maar ook in Afrika, in Amsterdam en by die Verenigde Nasies. Dit is ʼn geleentheid om jou stem te laat hoor en om werklik ʼn impak te hê oor die kwessies wat jou na aan die hart lê.”

Die kroningsgeleentheid begin Vrydag om 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anka le Roux ·

Nee dankie. Dit laat my te veel dink aan n vee veiling

Jax ·

Pot nonsense! Té maer, té veel grimering, geld mors! Dis hoe ek dit sien. Hou verby!

Oujongvrou ·

En het n mooi vrou al julle te vet, grimeerlose, arm vrouens gekritiseer. Ek lyk oes so ek hou van om mooi mense te kyk.

Essa ·

Ek volg ook nie die “show” op tv nie, maar hierdie is tog mooi vroue wat werk in die mode-en die skoonheisbedryf – nie ons almal se belangstelling nie, maar ek het nog nie gehoor dat hulle ons daaroor kritiseer nie. En die kompetisies doen ook goeie werk in die gemeenskap waar hulle is. Leef en laat leef.

AkkedissiePietmanTonie ·

Hierdie hele affêre is erg verpolitiseerd. Hulle mag dit dalk ontken, maar meeste van die finaliste is gekies op grond van hul ras, eerder as meriete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.