Meghan se podsending eers op ys; plan met blomme-huldeblyke bekend

Meghan Markle kyk na huldeblyke buite die koningin se woning in Windsor. (Foto: Chris Jackson/Pool/AFP)

Meghan Markle, die hertogin van Sussex, se opspraakwekkende Spotify-podsendingreeks, Archetypes, is op ys geplaas tydens die amptelike rouperiode ná koningin Elizabeth II se afsterwe.

Spotify het Maandag ʼn kennisgewing op sy platform geplaas wat dié nuus bevestig.

Die eerste episode van Archetypes het op 23 Augustus verskyn en ʼn nuwe episode is sedertdien elke Dinsdag uitgereik. Dit sal nou vermoedelik eers ʼn week ná die koningin se begrafnis op 19 September hervat word.

Maroela Media het vroeër berig dat Archetypes, ʼn woordspeling op Meghan en prins Harry se oudste kind, Archie, se naam, een van verskeie winsgewende ooreenkomste is wat die egpaar met media-instansies die afgelope twee jaar gesluit het.

Daar word beweer dat die stromingsreus die voormalige koninklikes $20 miljoen (ongeveer R340 miljoen) vir dié inhoud, wat twee jaar geneem het om die lig te sien, betaal het.

‘n Skermgreep uit die voorskou van Meghan Markle se podsendingreeks. (Foto: YouTube/Spotify)

Daar is tot dusver drie episodes uitgereik waarin Markle met onder andere Serena Williams, Mariah Carey en Mindy Kaling gesels.

Die hutsmerk #VoetsekMeghan het kort ná die première-episode plaaslik voorgeloop nadat die hertogin Suid-Afrikaners woedend gelaat het oor kommentaar wat sy oor Suid-Afrika in dié episode gemaak het.

Markle het vertel van die angswekkende oomblik toe die egpaar verneem het dat hul seun se babakamer aan die brand geslaan het terwyl hulle ʼn besoek aan ʼn informele nedersetting in Nyanga, Kaapstad, afgelê het. Die Sussex-gesin het luidens mediaberigte by die amptelike woning van die Britse hoëkommissaris gewoon gedurende hul verblyf in Kaapstad, en die hertogin het egter na dié kolossale herehuis as ʼn “wooneenheid” verwys.

Daar word berig dat die Kalifornië-gebaseerde Sussex-egpaar in die Verenigde Koninkryk sal aanbly om die koningin se begrafnis by te woon.

Hulle was per toeval in Europa toe die nuus verlede Donderdag bekend gemaak is dat die koningin onder mediese toesig geplaas is. Sy is dieselfde aand dood.

Markle het gevolglik ʼn rits afsprake in die VSA, onder meer ʼn verskyning op die Tonight Show with Jimmy Fallon asook ʼn besoek aan die VN se kantoor, gekanselleer.

Harry en Meghan is Saterdag vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer saam met William en Kate, nou die nuwe prins en prinses van Wallis, gesien toe hulle in swart geklee buite die Windsor-kasteel na die blomme wat vir die koningin neergelê is, gaan kyk het.

Die twee pare is laas in Januarie 2020 saam gesien by die Statebonddagdiens in die Westminster-abdy. Dit was dae voordat Harry en Meghan aangekondig het dat hulle van hul koninklike titels en pligte onthef wil word.

Publiek gevra om speelgoed en plastiek van blomme-huldeblyke te laat vaar

Koninklike aanhangers is aangesê om nie sagte speelgoed, ballonne, aangesteekte kerse of blomme met plastiekomhulsels as huldeblyke aan wyle koningin Elizabeth II neer te lê nie.

Royal Parks het aangekondig dat geen geskenke of artefakte aanvaar sal word wat nie van organiese of afbreekbare materiale gemaak is nie.

Berigte dui daarop dat veral marmelade-toebroodjies – soos dié wat die koningin vroeër vanjaar in ʼn platinum jubileum- skets saam met die fiktiewe karakter Paddington geniet het – asook speelgoed van dié einste kinderboekkarakter, as huldeblyke gegee is.

Talle Paddington-beertjies is as huldeblyk vir die koningin neergelê. (Foto: Stephane de Sakutin/AFP)

Verskeie opruimingsinisiatiewe om dié plastiekomhulsels en sagte speelgoed te verwyder is van stapel gestuur nadat duisende huldeblyke sedert die koningin se dood by koninklike parke en wonings soos Green Park, Sandringham, die Windsor-kasteel en Balmoral neergelê is.

Werkers in dié parke het begin versoek dat lede van die publiek volhoubaarheid in ag neem. Kaartjies word egter steeds verwelkom en sal van die blomme geskei word.

Volgens Royal Park-bestuurders sal die blomme-huldeblyke deurlopend na die Hyde Park-kwekery geneem word en in kompos verwerk word om in die nabygeleë Kensington Gardens gebruik te word.

Britse kwekerye en blommarkte het ook rede om te glimlag.

AFP het berig dat daar Sondag op Londen se Columbia Road-blommemark toegesak is om kleurvolle ruikers op te raap nadat Brittanje se langsdienende monarg verlede dood is.

Daar word voorspel dat die aanvraag na ruikers selfs in die komende week nog groter sal wees as ná die dood van prinses Diana in 1997.

Ongeveer 60 miljoen ruikers het vir tien dae lank by die Buckingham- en Kensington-paleis gelê ná Diana se dood.

Bronne: AFP, Daily Mail, Buzzfeed News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.