Debuutalbum, splinternuwe musiekvideo vir Christia Visser

Christia Visser het verlede jaar die Afrikaanse musiekmark stormgeloop met haar smeulende stem en oorspronklike musiekstyl.

Haar lankverwagte debuutalbum getiteld Gemaklik verlore is vandag (Vrydag) uitgereik en ʼn splinternuwe musiekvideo vir haar jongste enkelsnit, “Wildste oomblik”, is ook vrygestel. Dié video is eerste op Maroela Media te sien.

“Wildste oomblik” volg op haar vorige drie treffers, “17 shots”, “Die deur” en “Kaal voor jou”, wat tans in die vyfde plek op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 pryk. “Wildste oomblik” is in die sewende posisie op dié treffersparade.

“Wildste oomblik” se video is, in teenstelling met haar vorige twee musiekvideo’s, in ʼn ateljee geskiet. “Ek is mal daaroor om musiekvideo’s te maak, want dit is vir my waar die musiek en toneelspel trou en ek is gaande daaroor,” het Visser, wat ook bekend is om haar rol as Adéle in die kykNET-reeks Fynskrif, onlangs gesê.

Die musiekvideo vir “17 shots” is reeds meer as 3,1 miljoen keer op YouTube gekyk, terwyl “Die deur” meer as 1,5 miljoen kykbeurte op YouTube het.

“My vorige twee musiekvideo’s het goed gevaar – [die regisseur] Uga Carlini het ʼn ongelooflike brein as dit kom by hierdie goed en haar idees is ongelooflik.”

Christia Visser.

Die konsep van die video vir “Wildste oomblik” is ligter as die vorige twee video’s, het sy gesê. “Die ander twee het ʼn storielyn van begin tot einde, waar hierdie een ook ʼn storie is, maar dit word op ʼn ander manier uitgebeeld. Vir my was dit ʼn pret-een om te skiet, want ek kon eintlik net mal gaan.”

Gemaklik verlore bevat tien snitte en Visser verklap dat die album “een of twee verrassings het wat mense nie van my sal verwag nie”.

“Daar is beslis ʼn deurlopende, kenmerkende klank, maar elke liedjie is spesiaal op ʼn ander manier en is geskryf oor iets wat vir my baie beteken. Mense wat van die eerste drie vrystellings gehou het, sal ongetwyfeld aanklank vind by die album,” het sy gesê.

“Die album is ʼn blik op ʼn fase in my eie lewe. Ek skryf self die lirieke oor wat ek met mense na aan my beleef, en ek kom self met die temas vorendag. ʼn Mens skryf makliker as jy ongelukkig is, want as jy gelukkig is, leef jy meer.”

Gemaklik verlore is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kletskous ·

Love haar! Sy kan act EN sing. Ons is mal oor jou songs. Welgedaan Christia!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.