Video: Dié Afrikaanse treffers vier vanjaar twee dekades

‘n Skermgreep uit Steve Hofmeyr se video vir ‘Engele om ons’.

Die jaar 2002 was ʼn groot jaar vir die Afrikaanse musiekbedryf, want dit was ʼn jaar waarin talle van die treffers waarna ons vandag nog luister, uitgereik is.

In 2002 het die rocker Karen Zoid die Afrikaanse musiekbedryf op sy kop gekeer met haar wilde verwerking van die FAK-liedjie “Afrikaners is plesierig”.

Vandag, twee dekades later, is Zoid een van die land se gewildste kunstenaars, met talle vollengte albums, rolle in flieks soos Susanna van Biljon en selfs ʼn bekroonde kykNET-kletsprogram, Die Republiek van Zoid Afrika, agter haar naam.

Terwyl Zoid in “Afrikaners is plesierig” met “yuppie scum en millennium mans” die draak gesteek het, het ander kunstenaars ook in 2002 ʼn hele rits treffers uitgereik wat vandag as “goue oues” bestempel kan word.

Theuns Jordaan, die musikant wat in November verlede jaar in die ouderdom van 50 sy stryd teen leukemie verloor het, se liedjies “Hanne” en “Soos bloed” het in 2002 deel geraak van al wat ʼn Afrikaanse speellys was en is vandag nog twee van ons taal se gewildste liedjies.

‘n Skermgreep uit Die Campbells se video vir ‘Rooi rok bokkie’.

Die Afrikaanse groepe Klopjag en Ddsisselblom, wat destyds nog studente was en ʼn hele Afrikaanse musiekbeweging onder studente te weeg gebring het, se liedjies soos “Stof”, “24 uur” en “Nikotien en kaffeïen” het in 2002 groot opslae gemaak.

John-Henry Opperman en die broers Sallas en Dawie de Jager, wat deel is van Klopjag, is vandag nog gerekende musikante en vervaardigers in die Afrikaanse musiek- en rolprentbedryf.

Sallas het ook as regisseur ʼn paar trefferflieks, soos Dominee Tienie en Roepman, agter sy naam. Opperman het ook ʼn hoofrol in Roepman vertolk.

Johrné van Huyssteen, destyds voorsanger en liedjieskrywer vir Ddisselblom, is vandag ʼn gesoute en gewilde radio-omroeper en televisieaanbieder vir GrootFM en Die Groot Ontbyt. Hy het onlangs aangekondig dat hy binnekort dié rolle gaan prysgee om na Clarens in die Vrystaat te verhuis.

‘n Skermgreep uit Guillaume se video vir ‘Da-idi’.

Pop- en sokkiemusiekliefhebbers het ook twee dekades gelede die dansvloere aan die brand gedans met liedjies soos Guillaume se “Da-idi”, Juanita du Plessis se “Dis waar ek wil wees”, Kurt Darren se “Meisie meisie”, Die Campbells se “Rooi rok bokkie” en “Jaloers bokkie” en Die Broers se “Trein na Margate”. Dié snitte is vandag nog op al wat ʼn boeretroue of sokkie is te hoor.

Twee van Afrikaans se grootste kunstenaars, Jak de Priester en Steve Hofmeyr, het ook in 2002 massiewe treffers uitgereik.

De Priester het homself in daardie jaar in die Afrikaanse musieklandskap gevestig met die treffersnit “Sally Williams- nougat”, terwyl Hofmeyr die ballade “Engele om ons” bekend gestel het.

Pieter Cloete, musiekhoof en omroeper by GrootFM, het ʼn video saamgestel van 20 van die gewildste Afrikaanse liedjies wat vanjaar twee dekades vier.

Kyk hier na dié video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.