’n Ring vir Boer PF se Chantelle

Boer PF en Chantelle straal van geluk en liefde. (Foto: Werner Bentz Photography)

Dit is amptelik! Boer PF en Chantelle Pretorius van kykNET se gewilde werklikheidsreeks Boer Soek ʼn Vrou het die naweek verloof geraak.

Die paartjie straal behoorlik van liefde en geluk op die foto’s van hulle verlowing wat Maandag uitgereik is.

“Dit is so onwerklik; alles het nog nie mooi ingesink nie want ek het dit glad nie verwag nie,” het ʼn borrelende Chantelle aan Maroela Media gesê.

Boer PF (30) van Laingsburg in die Wes-Kaap, het dalk nie die top-5 van die 13de seisoen van dié reeks gehaal nie, maar Kupido se liefdespyl het hom behoorlik getref. Chantelle (28), ʼn voormalige Mej. Dowe SA en onderwyseres, het deur die program ʼn brief aan hom geskryf en die res is, soos hulle sê, geskiednis.

Dit was glo ʼn behoorlike gekonkel om alles gereed te kry sodat Boer PF op die regte manier vir Chantelle die jawoord kon vra op haar ouers se plaas naby Barkley-Oos in die Oos-Kaap, net mooi ʼn jaar nadat hulle ontmoet het.

“Ek het haar niggies gevra om my te help om alles reg te kry vir die sogenaamde fotosessie wat ek beplan het om ons eenjaarherdenking te vier. En daar gaan staan die een niggie met voertuigprobleme,” sê PF.

Gelukkig het Chantelle se ander niggie en die fotograaf gereed gestaan en alles vir die groot geleentheid het vlot verloop.

Boer PF sê hy het ses maande lank uitgevis wat Chantelle verkies as dit by ʼn verloofring kom, maar om die ring te laat maak moes hy arme Chantelle vir drie ure in ʼn winkelsentrum in Worcester los terwyl hy by Viljoen Juweliers was wat die ring gemaak het.

“Ek spot dit was die eerste keer dat ʼn vrou vir my kwaad was omdat ek haar in ʼn winkelsentrum gelos het.”

Boer PF en Chantelle lag heerlik oor die twaalf diamante in die ring wat glo die twaalf kinders verteenwoordig wat hulle aan Marciel Hopkins, die aanbieder van die werklikheidsreeks, beloof het.

“O nee, ek dink nie daar sal regtig 12 kinders wees nie,” skerts Chantelle.

En is daar al enige planne vir die troudag?

“Ons is maar 48 uur verloof, ons geniet dit nog eers! Ons sal seker of ʼn maand of twee saam sit en besluit wat moet gebeur,” sê boer PF.

Dit is die tweede paartjie van die betrokke seisoen wat verloof is. Boer Niel van Grabouw in die Wes-Kaap het Cheréze Maree in Juliemaand gevra om te trou.

  • Die jongste seisoen van Boer Soek ʼn Vrou skop in Januarie af en is op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ek kry altyd die gevoel die mense moet verloof raak, en dan drie maande na die show spat hulle uit mekaar.

Jan Seerot ·

Ag, jy sê die mooiste goed. ‘n Riem onder die hart, dié is jy. Het jy nog saligsprekeninge vir die mense wat die dag aangryp en in die oomblik leef?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.