‘OppieStoep’ se Andries: ‘Ons is ambassadeurs van storievertel’

Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen is die aanbieders van 'OppieStoep'.

Pietman Geldenhuys en Andries Vermeulen is die aanbieders van ‘OppieStoep’.

OppieStoep is die tuiste van storievertel in Afrikaans en in die tradisie van Spies en Plessis en Maak ʼn las ontgin aanbieders Andries Vermeulen en Pietman Geldenhuys Suid-Afrika se beste stories en storievertellers.

“Die Afrikaanse taal en kultuur is ryk aan baie dinge, maar storievertel en ons manier van stories deel oor dekades is tot ʼn groot mate uniek en deel van ‘n platform van ons taal,” vertel Vermeulen.

“Ek en Pietman het die voorreg gehad om saam met van die grootste geeste in Afrikaanse storievertellery te beweeg, soos oom Ollie Viljoen. Hy was die vader van programme waarmee ons grootgeword het soos Spies en Plessis en Maak ʼn las. OppieStoep was ook een van sy drome. Die naam OppieStoep was ook sy idee, want Sondagmiddag-kuiers en groot geselsies gebeur op die stoep.”

Die program het eers gerealiseer ná Viljoen se dood in 2014. “Nou het ons al die voorreg gehad om byna 100 episodes te skiet en ons kon storievertel weer terugneem sitkamer toe. Dit is ʼn groot voorreg om die aanbieders van hierdie platform te wees .”

Hy sê daar is baie kontreie, soos Boesmanland, die Kalahari, die Karoo en die Weskus, waar storievertellersgoud lê, maar dit is nie slegs in daardie gebiede waar ongeslypte vertellers is nie.

“Daarom maak ons dit ons missie om die uithoeke van die land, en selfs Namibië, te besoek om storievertellers te soek en om met OppieStoep storievertel terug te bring na die mense. Ons gesels om ʼn vuur of oor ʼn koppie koffie, om sodoende storievertellers en rou diamante raak te boor.”

Vermeulen sê dit maak hom opgewonde om te sien hoeveel jong mense die OppieStoep-aanbiedings bywoon. “Dit maak my so bly om te sien hoe jong mense ook weer lief raak vir storievertel.”

OppieStoep.

OppieStoep.

Hy vertel hoe hy eenkeer by ʼn vulstasie gestop het en ʼn Sotho-man hom gevra het wanneer is OppieStoep weer op die kassie. “Ek was so verbaas, dit het my tot stilstand geruk. Dit wys jou net hoe ons kleur- en kultuurgrense kan oorsteek met stories.”

Die kustoer, wat van 13 tot 19 Desember aan die Weskus beplan word, is binne enkele dae beplan en Vermeulen is opgewonde om weer die langpad aan te durf.

“Ons bied die verhoogproduksie omtrent vyf keer per jaar tydens geleenthede aan, en met die laaste paar vertonings het ons agtergekom die sale bars weer uit hul nate. Daar het ons besef hierdie ding het werklik veel groter trefkrag as wat ons dink. Deur groot genade en guns uit die Here se hand het ons reeds meer as ‘n 1 000 kaartjies binne vier weke verkoop.”

Geldenhuys en Vermeulen beplan ook om sommer so kuier-kuier langs die kus af weer nuwe talent te begin soek vir die volgende reeks van OppieStoep, wat in 2020 in die Paarl opgeneem word. Blitsoudisies sal plaasvind ná afloop van elke aanbieding en as jy nie daar kan uitkom nie, stuur gerus ʼn video van nie langer as twee minute na 068 147 1028. Jy kan dit ook stuur na [email protected].

“As jy byvoorbeeld van Mpumalanga kom, maar in die Weskus vakansie hou, kan jy ook die geleentheid kry om jou stories te kom vertel,” sê hy.

“Ons is ambassadeurs van storievertel en besef die rariteit van hoeveel storievertellers daar oor is en hoe min dit toegepas word. Ek en Pietman het die verantwoordelikheid om die passie vir storievertellery verder te kweek onder ons mense.”

As jy voorheen dié storievertellers op die kassie misgeloop het, kan jy eersdaags op Maroela Media inskakel vir sewe splinternuwe regstreekse uitsendings. Dié uitsendings sal 15 minute lank wees. Kapenaars en vakansiegangers kan die volledige vertoning bywoon deur kaartjies aan te koop. Geldenhuys en Vermeulen toer saam in Desember met die Weskus langs tot in die Suid-Kaap vir die beste stories uit die monde van gesoute storievertellers.

OppieStoep maak ʼn draai op Doringbaai, Hermanus, Struisbaai, Hartenbos, Gansbaai, Melkbosstrand en Dwarskersbos. Van die storievertellers wat die stoepstoele warm gaan sit, is onder andere Arno van Zyl, Jan Ponk van Zyl, Human du Toit, Alan Hughes en Gertjie Odendaal.

Die kaartjies kos R150 per persoon en is slegs aanlyn beskikbaar by  https://www.quicket.co.za/organisers/21896-oppiestoep/ of besoek net www.oppiestoep.com.

Die plekke wat besoek word, is as volg:

13 Desember – Doringbaai/Strandfontein by Fryers Cove om 19:00 – kyk dit hier

14 Desember – Dwarskersbos by Soverby Lapa – kyk dit hier

15 Desember – Melkbosstrand by Damhuis-restaurant – kyk dit hier

16 Desember – Gansbaai Gholfklub – kyk dit hier

17 Desember – Hermanus by Sandbaai-saal om 19:00

18 Desember – Struisbaai by Sea Shack om 16:00

19 Desember – Laerskool Hartenbos-skoolsaal om 19:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Sal lekker wees om hul weer te sien, van die stories is baie goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.