Video: Gaste stof skoolbaadjies af vir première van ‘Die Val’

‘Die Val’ plaas die kollig op boeliegedrag. (Foto: Philip Robinson/AfriForum)

“Ek sê dit nie sommer vir mense nie, maar ek is op skool geboelie én was ook al self een gewees. Woorde het krag en ek hoop dié fliek sal as bewys daarvan dien.”

Só sê die akteur Jaco Schoeman, wat die rol van skoolboelie Wian van Zyl in die nuwe Afrikaanse kortfilm Die Val vertolk.

Dié fliek vertel die verhaal van die hoërskoolleerling Melissa Strauss en haar uiteenlopende struikelblokke in die hoërskool-milieu, wat boelies, liefde en akademiese druk en prestasie insluit, het Maroela Media vroeër berig.

‘n Paar nuwe én bekende gesigte is in dié fliek te sien. (Foto: Philip Robinson/AfriForum)

Schoeman is een van vele nuwe talentvolle gesigte in dié nuwe fliek, wat van vandag af, op Wêreldselfdood-bewusmakingsdag, gratis op AfriForumTV te sien is.

Die rolverdeling sluit ook onder andere Deoudoné van der Merwe, beter bekend as die fiktiewe kykNET-karakter Stella, asook Bertha le Roux, bekend as Emma in 7de Laan, in.

Righard van Jaarsveld, wat die rol van die hoofkarakter se voormalige vriend en liefdesbelangstelling, Stefan, vertolk is ook eersdaags in die nuwe kykNET-telenovela Diepe Waters te sien.

Die draaiboek is uit die pen van Tarryn-Tanille Prinsloo, ʼn dosent in drama en rolprentstudies aan die Universiteit van Pretoria terwyl Katelynn Labonté van AfriForumTV in die regisseurstoel gesit het.

Leandie Bräsler, bestuurder van die Teenboelie-veldtog, en haar man, Riaan. (Foto: Philip Robinson/AfriForum)

Die fliek se spoggerige première is vandeesweek by die Atterbury Teater in Pretoria gehou en gaste is gevra om hul skoolklere en matriekafskeidrokke in die gees van nostalgie vir ʼn aand af te stof.

Fliekgangers kon ook Vrydagaand dié fliek onder die sterre geniet by ʼn gratis vertoning by Hoërskool Zwartkop in Centurion.

“Ek dink regtig hierdie fliek gaan mense se harte aanraak en hoop dit leer vir mense wat deur dieselfde struikelblokke as Melissa gaan dat daar altyd iemand is wat vir jou omgee,” het Van der Merwe by die première gesê.

Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.