Juffrou wil egskeiding-kinderboek in Afrikaans laat vertaal

Natalie Knox is ‘n laerskoolonderwyser en berader. Sy het ‘n boek geskryf wat jong kinders help om egskeidings van hulle ouers te verwerk. (Foto: Verskaf)

Volgens Statistieke Suid-Afrika sneuwel ses uit elke tien huwelike binne die eerste tien jaar.

Natalie Knox, ʼn laerskoolonderwyser en berader, wil kinders help om die emosionele uitdagings en verwarring van ʼn egskeiding die hoof te bied. Dit het haar genoop om ʼn kinderboek, The Mending Chronicles of Liam en Emily, te skryf.

Knox (46), wat tans in Spanje woon, beskryf die boek as ʼn handboek gevul met raad en aktiwiteite vir kinders wat hulle kan help om hulle gevoelens uit te druk wanneer hulle ouers die moeilike besluit neem om te skei. Die boek bevat ook ʼn inspirerende Christelike boodskap.

“Egskeidings is ʼn moeiliker onderwerp as wat ons besef, veral wanneer daar jong kinders betrokke is.

“Dit is al so algemeen om te skei dat ʼn mens geneig is om te dink dat kinders dit maklik kan verwerk. Ongelukkig is dit my ervaring dat kinders wat nie ondersteuning kry of ʼn veilige ruimte het om hulle emosies hieroor te verwerk nie, later in hul tienerjare en as volwassene met verwante kwessies sukkel.

“Die kinders kan baie lank dink dit is hulle skuld dat die ouers geskei het of selfs glo hulle is nie die moeite werd om voor in ʼn verhouding te bly nie,” verduidelik sy.

The Mending Chronicles of Liam en Emily is tans slegs in Engels beskikbaar. Dié boek was ook ʼn finalis by die 14de nasionale Indie Excellence Awards, ʼn toekenningsgeleentheid vir selfuitgewers in die VSA.

Knox se droom is nou om die boek in Afrikaans te laat vertaal om nog kinders te bereik. Met die boek wil sy gesinne help om te genees.

ʼn Skarefinansieringsveldtog is op die BackaBuddy-platform van stapel gestuur en Lana Potgieter, ʼn jare lange vriendin van Knox, dryf die plaaslike been van die veldtog.

Die plan is om “The Mending Chronicles of Liam and Emily” in Afrikaans te laat vertaal. (Foto: Verskaf)

“Egskeidings ken geen grense nie en gebeur in elke kultuur en taal. Ongelukkig is die hulpbronne om gesinne en kinders te help nie altyd maklik beskikbaar in ander tale buiten Engels nie.

“Boeke wat hierdie persoonlike en sensitiewe kwessies behandel, is toegankliker en doeltreffender vir ʼn jong leser as dit in sy of haar moedertaal is. Ek dink The Mending Chronicles of Liam en Emily kan ʼn handige handboek wees vir Afrikaanse kinders wat egskeiding ervaar het, en ʼn uitstekende toevoeging tot die Afrikaanse kinderliteratuur,” sê Knox.

Sedert die BackaBuddy-veldtog se afskop is daar reeds byna R30 000 van die mikpunt van R70 000 ingesamel om die koste van ʼn vertaler, redakteur, proefleser, ontwerper en die eerste oplaag se druk van die Afrikaanse weergawe van die boek te dek.

“Ek hoop kinders wat ʼn egskeiding ervaar, kan op reis gaan met die hoofkarakters, Liam en Emily, van my boek. The Mending Chronicles of Liam en Emily moet hulle help om hulle eie reaksie op die egskeiding te verwerk en die veranderinge wat hulle in die gesig staar, te help hanteer.

Knox glo vas in die krag van emosionele intelligensie en om kinders te help om hulself doeltreffend te kan uitdruk. So kan kinders hulle gedagtes en behoeftes kommunikeer en die hulp en ondersteuning kry wat hulle benodig.

“Liam en Emily onderneem ook ʼn geestelike reis, wat ek hoop aanklank by die Afrikaanse gemeenskap sal vind. Ek is opgewonde om te dink dat hierdie wonderlike bron binnekort beskikbaar sal wees vir Afrikaanse kinders in hulle eie taal, wat die volgende generasie genesing en welstand sal bied.”

  • Ondersteun Knox se BackaBuddy-veldtog om haar boek in Afrikaans te laat vertaal en maak ʼn skenking hier.
  • Potgieter het op YouTube gepraat oor die veldtog om The Mending Chronicles of Liam en Emily te laat vertaal. Kyk die video hier.
  • Kyk hier na Knox en Potgieter se onderhoud op Vimeo oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carel ·

Beter idee; Aangesien vrouens ±70% van alle skeisake aanhangig maak . . . . vra eerder hulle ma’s om dié boek te lees.

The Proper Care and Feeding of Husbands by Laura Schlessinger

Jaaaa; ek weet mans is baie keer die oink in die verhaal.
Maar dié boek het my huwelik gered

Gert ·

Plaas skryf sy n boek oor respek, geloof, hoop, liefde….. Dan sal ons nie nodig he om te skei nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.