Suid-Afrika se korrupsie kom nie van gister af nie

Die voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is.

Staatskaping en korrupsie oorheers lank reeds ons nuusgebeure. Maar dit het begin nog voordat Jacob Zuma in die saal beland het.

Staatskaping is meer sistemies as ʼn koevert met banknote – dit is die proses waardeur personeel, regulasies en wette verander word om in die regering se guns te werk.

In Suid-Afrika is dit die kulminasie van die stryd tussen twee faksies: diegene wat die ANC as ʼn oesmasjien beskou en die mense wat hom as die voertuig vir bevryding en die skep van ʼn regverdiger samelewing bestempel.

Transparency International, die waghond teen korrupsie, definieer staatskaping as ʼn situasie waar magtige individue, instellings, maatskappye of groepe binne of buite ʼn land korrupsie aanwend om ʼn land se beleid, wetsomgewing en ekonomie vir hul eie private voordeel te gebruik.

Voorbeelde van instansies wat in die proses hul hande verbrand het, sluit in Bell Pottinger, KPMG, die Duitse sagtewaremaatskappy SAP en McKinsey. Laasgenoemde het ophou sake doen met Eskom oor beskuldigings dat hy met Trillian Capital saamgewerk het om staatskontrakte te wen.

Transparency International se definisie pas die Suid-Afrikaanse situasie dus soos ʼn handskoen. Dit het egter reeds vóór die bewindsaanvaarding van Jacob Zuma en die toetrede van die Gupta-broers begin.

Middel 2000 het dit gelyk of Zuma se pad na die presidentskap versper is deur aantygings van korrupsie en verkragting, maar die Guptas het tussenbeide getree en in 2009 was Zuma die president in die plek van die ontsetelde Thabo Mbeki.

Thuli Madonsela se verslag van 355 bladsye bevat ook inligting oor die Guptas se verhoudings met die mynbousektor waarin hulle kontrakte vir lewering bekom het. En vreemd genoeg is hulle nie verhinder om landuit te gaan nie.

Verlore vertroue

In die middel van die tagtigerjare het Suid-Afrikaanse kapitalisme begin vertroue verloor in die Nasionale Party se vermoë om die gevare van ʼn rewolusie te bestry.

In die proses het ondernemings begin kyk na huisvesting binne die ANC. Op sy beurt het die ANC-leierskap begin besef dat ʼn rewolusionêre oorname van mag nie maklik gaan wees nie en homself aangebied as ʼn vennoot waarby grootskaalse kapitaal betrokke is.

Terwyl die politieke onderhandelinge die aandag afgetrek het, het individue boaan die korporatiewe leer begin om verhoudings met die ANC aan te knoop.

Die ANC was ʼn nasionalistiese beweging en sy groot fokus was die vernietiging van “interne kapitalisme” (die omverwerping van wit oorheersing oor die swart meerderheid) en die strewe na demokrasie.

Om dit te bewerkstellig was die vinnige groei van die swart middelklas en die skep van ʼn klas van swart kapitaliste nodig. Die gebrek aan kapitaal en kapitalistiese kundigheid het egter in die pad hiervan gestaan. Een van die oplossings was beheer oor die staatsdiens en staatsondernemings, wat ongeveer 15% tot die bruto nasionale inkomste bygedra het.

Rykes word ryker

Die ANC se beheer van die staatsmasjinerie is as “transformasie” beskou en die party se beheer het ʼn bron van tenders vir sy kaders geword. In die proses het die rykes en magtiges die oorweldigende voordele van die demokrasie bekom.

En almal – ook leiers in die ANC – weet nou tot watter gemors dit gelei het. Haas elke departement – tot die eens wêreldklas SAID – stort in duie en die land moet die gelag betaal. En Zuma voorkom steeds dat hy vervolg word op 783 aanklagte van korrupsie en bedrog.

Tot dusver het die ondersoeke, kommissies en hofsake min opgelewer. Hier en daar is van korrupte kaders ontslae geraak of het hulle self met behoud van hul pensioene bedank. Die land wag op die uitdeel van oranje tronkpakke, maar dis ʼn vergeefse verwagting.

Die NP se Inligtingskandaal

Een van die gewilde aantygings is dat die apartheidsregering ook geldelik korrup was. In ʼn baie deeglike en wydlopende artikel het dr. Pieter Mulder verskeie onthullings oor die Inligtingskandaal gemaak. Dit was die NP se poging om byvoorbeeld die guns van The Washington Star vir sy beleid te koop en die stigting van The Citizen-koerant.

Hierdie geld het uit pres. PW Botha se geheime verdedigingsbegroting gekom. Mulder tref ook vergelykings tussen die Erasmus-kommissie wat deur Botha aangestel is. Anders as met die huidige Zondo-kommissie (hy is ʼn adjunkhoofregter) was Erasmus ʼn omstrede junior regter wat aangestel was om Botha en ander ministers te beskerm.

Sy ondersoek was in die geheim. Geen media of toeskouers is toegelaat nie en 95% van sy bevindinge was op ongetoetste getuienis gegrond.

Maar was dit die grootste bedrogspul – groter as die huidige staatskaping? Mulder sê daar is geen vergelyking nie. By Nkandla is R245 miljoen vermors. By VBS-bank is R1,9 miljard hoofsaaklik deur politici geplunder. Die koste van staatskaping word iewers tussen R700 en R1 000 miljard bereken.

Slegs Eschel Rhoodie is van selfverryking aangekla. Die bedrag was R62 000. En hy is op hierdie aanklagte onskuldig bevind.

Bronne:

Van die bronne vir hierdie artikel is David Pilling (Afrikaredakteur van die Financial Times) en Roger Southall (professor in sosiologie.)

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jerry ·

Die ANC se NDR transformasie strategie skep die klimaat vir die implementering van politieke en ekonomiese verandering. Die rand wat laat val is deur staatskaping en plunder, grense oop te stel, misdaad te laat eskaleer, grondbesetting en swak dienslewering ens. het die klimaat geskep wat nodig was vir verandering. Die pogings om die rand weer op te tel geskied tesame met die implementering van die veranderings soos bv OSV en isolering van Afrikanerorganisasies. Kommissies en hofsake is n klug en alles bly hang in die lug. Die wat afgedank word en self bedank word doodeenvoudig herontplooi of tree welaf af. Die wat tans aangestel word is die wat in die ry gestaan en wag het en wie se beurt dit is om te eet! Hulle is doelbewus bevoeg om die rand op te tel en wanneer die ekonomie weer goed op dreef is sal hulle vervang word met kaders wat doelbewus die rand weer sal laat val, hetsy deur plundering of konflik. Herhaling van die proses skep die klimaat vir voortgesette verandering totdat die ANC totale politieke mag asook ekonomiese mag bekom het. Zuma en sy administrasie het dus in opdrag van die ANC die rand doelbewus laat val. CR en sy administrasie moet doelbewus die rand weer optel om die veranderinge te implementeer. Alles wat binne die ANC gebeur, selfs die skep van verskillende faksies, geskied in opdrag van die ANC se kommunistiese meesters! Viva ANC, Amandla, beteken dat alle mag behoort aan die ANC!

John ·

Org se skrywe oor sy eie ou kaders sal nou aan die groot klok gehang word as die eintlike ware en grootste onheile wat die land nog getref het… Telkens gaan grawe ons mense ons ou derms uit en hang dit saam met ons vuilwasgoed uit. Die ou garde kan nie hulself verdedig nie en die huidige doen wat hulle wil. Miskien moes die vorige bedeling juis nie so beindruk gewees het met die toe so verontregte geniee nie en hul nie op goue trone geplaas het nie, dan sou ons nie nou met die gebakte pere gesit het nie. Etlike miljarders is destyds deur die private sektor met goeie guns en kruip geskep; fat cats wat nou gryp sonder vergoeding predik.

Frans ·

Wat was project Hammer presies ?Steek daar waarheid in?
Is dit dalk die rede vir die huidige plundering?

Frans C ·

Kyk na die volgende en vra jouself af wanneer gaan dit met korrupte ANC-lede gebeur?• “Hennie van der Walt, Schweizer-Reneke MP, sentenced in January 1988 to 10 years in prison (five years suspended) for 15 counts of theft of R800 000 in trust money while deputy minister of co-operation and development.
• Leon de Beer, former National Party MP for Hillbrow, jailed in 1989 for two years on 70 counts of electoral fraud. He served eight months.
• Peet de Pontes, resigned as the MP for East London city in 1989, fined R35 000 in 1991 for fraud, theft, bribery, forgery and uttering. He cheated a residence permit for controversial and alleged mafia financier Vito Palazzolo, bribed a public servant and stole a government file.
• Pietie du Plessis, a former cabinet minister, received a nine-year jail sentence in 1993 for 17 counts of fraud involving R30 million. He served two years and eight months, qualifying for early release because he was over 60 and ill.”

JAN ·

Ons is af gepers met ‘n burgeroorlog indien ons nie totaal selfmoord pleeg nie.
Die mees gesofistikeerde multimedia sielkundige offensief deur ons eie mense en media en mees suksesvol ooit.
Die hele wêreld weet dit. Selfs Thatcher was verstom.
Die moeder van korrupsie vir 50 jaar al deur die Wittes teen hul eie mense.
Moet net nie u verbeel dat die ANC soos die NP hulself totaal sal vernietig tot bywoner / slawe status van eie skelmgeit nie.
Skynbaar is net die Boere dinkskrums en bosberade tot sulke sothede instaat.

Maar nie almal nie – Goddank nie almal nie!!!

Rupert Ashford ·

Die inligtingskandaal was die dekmantel vir die eerste staatsgreep in die geskiedenis van Suid Afrika.

H.A. ·

WEG met die ou vlag asb. Veraaiers van die Afrikaners was ook deel van die ou vlag. Ons moet ñ nuwe vlag gekry het in 1994 vir die Afrikaners wat uitverkoop is !

dr. Sakkie van der Merwe ·

Net jammer dat ek nie die Winnie deurtrekker vlag kan of sal erken nie. Bring dan maar die Vierkleur.

Hans ·

Dit is ‘n feit soos ‘n koei: eens op ‘n tyd het die Boetas geskep, daarna was dit die Gupts en wees verseker die Duma’s is volgende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.