FAK, Voortrekkers bring hulde aan gestorwenes van ABO

Gr. 7-ratelspan bestaan uit die vlagdraers, JC Pretorius en Paul de Koker. MC Pieters het die krans gedra en dit is deur Chanelle Engelbrecht neergelê. (Foto: Lizané van Zyl)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), in samewerking met die Voortrekkers in Heilbron in die Vrystaat, het onlangs hulde gebring aan diegene wat in die Anglo-Boereoorlog (ABO) gesterf het.

“As Voortrekkers is dit vir ons ’n voorreg om die helde wat die hoogste prys vir hulle land betaal het, te eer en te sê ons sal julle nie vergeet nie.

“Elke tree wat ons gee, vertel ’n verhaal van waar ons was en waarheen ons gaan. Ons kinders moet terugkyk en dankbaar wees, maar ons wil hulle ook leer om vooruit te kyk en hoopvol te wees in die toekoms. Ons bedank die FAK wat hierdie geleentheid gefasiliteer het,” het Elna Cloete, kommandoleier van die Heilbron Voortrekkers, gesê.

Tydens die kransleggingseremonie op 27 Februarie by die Burgermonument voor die NG Moedergemeente op dié dorp, is ook hulde gebring aan Dirkie Uys wat volgens oorlewering op 27 Februarie 1902 dood is toe hy skaars 12 jaar oud was.

Ella Uys (91) vertel in ’n inskrywing op Facebook dat haar man, Dirk Uys, wat in 1905 ná die oorlog gebore en in 1968 oorlede is, die jongste seun was van ’n groot gesin en vernoem is na “’n broertjie wat op 12 jaar dapper op kommando gesneuwel het”.

“Hul pa was Cornelis Janse Uys en hul ma Miemie (Roeloffzestet) van die plaas Zwakfontein, Heilbron. Met haar man en vier van haar seuns op kommando in die distrik was my skoonma, haar baba van ses maande, Miemie, ’n dogter, Alida (13), en die drie jongste seuns, Pieter Lafras (6), Fanie (9) en Dirkie (11), alleen op die plaas.”

Luidens dié inskrywing vertel Uys dat Dirkie se woorde aan sy ma was: “Ek gaan nie saam met die Engelse nie. Ek gaan my by my pa en broers en die kommando aansluit,” toe hy gehoor het dat die Engelse die plase afbrand en vroue en kinders na konsentrasiekampe neem.

Klein Dirkie het sy woord gestand gedoen en sy ma gegroet toe hulle hoor die Engelse het die naburige plase afgebrand.

“Sy het gesien daar is geen keer aan haar kind nie en het hom omhels en gesoen. By die agterdeur het sy hom agterna geroep: ‘Dirkie, my kind, jy moet onthou om te bid’.”

Hy het luidens Uys se inskrywing “ja” geantwoord en gesê: “Ek sal bid, maar ek gaan nié met die Engelse saam nie.”

Dit was op haar oudste kind, Uysie, se verjaardag op 27 Februarie 1901, dat sy Dirkie die laaste keer gesien het.

Dirkie se broer, Fanie, het ongesiens by die huis uitgeglip en saam met Dirkie by ’n klein Boerekommando in Heilbron aangesluit.

Presies ’n jaar later, op 27 Februarie 1902, het klein Dirkie gesneuwel terwyl hy sy pa probeer beskerm het toe die klein kommando van Heilbron deur ’n Engelse oormag oorval is.

Volgens Uys het Fanie later vertel hoe hy en Dirkie gesien het hoe hul ma en die ander kinders deur die Engelse weggeneem word, waar die twee broers in ’n populierbos weggekruip het.

“Daarna is die plaashuis aan die brand gesteek en die sterk klipmure met dinamiet die lug in geblaas. Hulle het gesien hoe word die skape se tonge uitgesny, die pluimvee doodgeskiet en hoe die Engelse sy perdeboer-pa se sowat 200 perde in die klipkraal doodgeskiet het.”

Die boeties het 25 myl te voet geloop om by hulle pa en broers by die kommando aan te sluit. Sy pa is in die geveg in albei blaaie gewond en een van die ouer seuns is ook gewond.

Jan-Danie Malan, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê Dirkie Uys was die onbekende held.

“Die FAK weet dat hierdie onbekende helde se bloed steeds in ons are vloei. Ons sien dit steeds in ons vrywilligers en organisasies soos Die Voortrekkers, Rapportryers en Suid-Afrikaanse Weermag Vereeniging (SAWV). Helde wat daagliks sonder om te probeer, heldhaftig optree. As ’n mens diep spore wil nalaat, trek jou werkskoene aan. Ons eer Dirkie vir hierdie voorbeeld.”

  • Uys word ook as van op die Burgermonument aangeteken. Daar kan egter nie met sekerheid gesê word of dit wel Dirkie Uys is nie.

Gr. 6- en 7-spanne by die monument saam met Quarta Pretorius, bekende historikus in Heilbron. Sy is ook ’n vriend van die Voortrekkers en direksielid van Vegkop en Riemland-museum. (Foto: Rickus van Zyl)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.