Hier is Maroela se Lentebruid 2023

Piekenierskloof (Foto verskaf)

Dis ʼn groot voorreg om die liefde van jou lewe te ontmoet – en ʼn groter voorreg as julle trou aan mekaar kan beloof. Dis natuurlik heerlik om daarna, net julle twee, ʼn bietjie weg te breek vir ʼn wittebrood.

Met Maroela en Dream Hotels and Resorts se Bruid van die jaar-kompetisie is dit heerlik om ʼn tweede wittebrood weg te gee aan ons Lentebruid vir 2023.

Maroela Media kondig met elke seisoen ʼn seisoenebruid aan waarna ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys.

Ons het reeds ons Somerbruid, Herfsbruid en Winterbruid vir 2023 aangewys.

Paartjies wat tussen September 2023 en November 2023 getrou het, het vir die Lentebruid in aanmerking gekom. Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap en ons lesers kon uit die die top-10 Lentebruide hul gunsteling aanwys. Die Lentebruid dring ook uiteindelik deur na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar vir 2023. Dié stemmery begin eersdaags net hier op Maroela Media.

Ons Lentebruid

Lize-Marie van Zyl

Baie geluk aan Lize-Marie van Zyl van Potchefstroom wat verreweg die meeste stemme ontvang het.

Lize-Marie en Rikus van Zyl het op 7 Oktober 2023 by Kleinbosch in Potchefstroom getrou.

“’Sprokies’ is een woord wat ons troudag opsom. Dis ʼn ongelooflike ervaring om met jou high school sweetheart te trou. Ons seremonie was in die Nerderduitsch Hervormde Kerk, die oudste kerk noord van die Vaalrivier, en ons venue was tussen lang bome, met spierwit dekor en blomme by Kleinbosch. My rok was soos dié van Aspoestertjie, die ou motor, die ou kerk en my prins, Rikus. Só dag laat mens besef hoe belangrik familie en liefde is en hoe God se hand in ons hele pad saam teenwoordig was. Dit klink onwerklik. Om op 23 te trou sal party mense stom slaan, maar daar kom ʼn rustigheid oor jou as jy besef dat jy steeds so verlief is soos toe jy 18 jaar oud was en dat jy met jou beste vriend gaan trou in die teenwoordigheid van al jou geliefdes. Almal se harte was oop en het gehelp waar hul kon om die dag ʼn werklikheid te maak. Ek kyk elke dag na ons foto’s en kry trane in my oë, want dit was werklik net perfek. Ons sprokiesdag, ons troudag.”

Wat wen die Lentebruid?

Lize-Marie wen twee nagte vir twee persone wat deel by Piekenierskloof Mountain Resort (insluitend ontbyt) in Citrusdal in die Wes-Kaap. Dream Hotels and Resorts borg wonderlike pryse vir die wenpaartjies.

Baie geluk!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.