Help! My kind moet vakke kies

Hoe gemaak met vakkeuses? Maroela Media het met ‘n paar kenners gaan gesels. (Foto: iStock)

Ons oudste moet eersdaags vakke vir gr. 10 kies en die idee dat die verkeerde keuses my 15-jarige in sy latere loopbaanspore kan stuit, pers die lug uit my longe. Hoe gemaak om my kind se passie aan te vuur sonder om deur punte, prestasie en potensiële inkomste gepootjie te word?

“’n Matrieksertifikaat hét ’n enorme invloed op verdere studie en selfs werk, maar die verkeerde vakkeuses, wat nie belyn is met die leerder se aanleg, belangstelling en passie nie, kan enersyds ’n slegte emosionele ervaring teweegbring en andersyds loopbaankanse kniehalter,” sê prof. Gawie du Toit, dekaan van die fakulteit opvoedkunde aan Akademia.

Pieter Jordaan, eienaar van Futuresmart en voorligter, stem saam en sê vakkeuse is die sleutel tot die beroepskeusedeur. “Die verkeerde vakkeuse kan jou verhinder om toelating tot sekere studierigtings te kry óf in die verkeerde kursus laat beland, en boonop kan dit jou droomberoep buite bereik boender.”

Volgens Valentyn van der Merwe, hoof van Die Wolkskool, het slegs 36% van matrikulante in 2020 met toegang tot graadstudie geslaag. “Dit wil sê slegs ’n derde van matrikulante kon kwalifiseer om vir ’n graad by ’n universiteit te studeer. Leerders moet dus seker maak hulle kies die regte vakke, hetsy hulle ná skool aan ’n universiteit wil studeer of ’n ambag wil bemeester.”

Raad en daad, nie dwang

Ouers moet daarteen waak om nie hul eie onvervulde loopbaandrome deur hul kind te probeer bewaarheid nie, maan die kenners.

“Vakkeuse met die oog op ’n moontlike studierigting of beroepspad ná skool moet primêr oor die kind gaan, nie oor wat die ouer(s) nie kon doen of bereik nie. Ouers moet ingeligte raad aan hul kinders gee, gegrond op ’n balans tussen (die kind se) passie, belangstelling en beroepsmoontlikhede,” meen Du Toit.

“Ouers moet leerders se insette prys en nié hul uitsette nie, anders maak ons ’n ruggraatlose generasie groot wat in die werkplek niks sonder aanmoediging of beloning wil aanpak nie,” sê Johan Koekemoer, hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Vereniging vir Afrikaanse Wiskundeonderwysers (VAW).

“Beloon eerder harde werk en hou die verwagtinge van jou kind realisties. Sien die kind as ’n individu, nie ’n verlengstuk van jouself nie.”

Dit is so dat skole leerders soms “vriendelik verplig” om sekere vakke te neem ten einde met ’n 100%-slaagsyfer en hope onderskeidings te kan spog, sê Van der Merwe. “’n Mens sien dit duidelik uit die toename in leerders wat wiskunde vir wiskundige geletterdheid verruil.”

“In dieselfde asem is daar ouers wat druk op hul kinders sit om wiskunde te neem, terwyl dit nie die kind se sterkpunt is nie,” sê Koekemoer.

Volgens Jordaan mik sommige skole na meer as net ’n 100%-slaagsyfer. “Hulle wil ook ’n 100%-universiteitvrystellingsyfer hê, wat hul bemarkingswaarde verhoog. Geen kind behoort egter gedwing te word om ’n sekere vak te neem nie.”

Wiskunde of wiskundige geletterdheid?

Wiskunde en fisiese wetenskap kan alle beroepe in die STEM-velde vir jou help ontsluit. (Foto: iStock)

Wat is die verskil tussen wiskunde en wiskundige geletterdheid en watter een behoort my kind te neem? “Wiskunde fokus op die abstrakte deel van wiskundige denke. Dit is nie noodwendig moeiliker nie, net anders.

“Wiskunde is ’n voorvereiste vir alle Stem-velde (Science, Technology, Engineering, Mathematics). As jou kind fisiese wetenskappe neem, móét hy of sy wiskunde neem. Sommige skole stel dieselfde vereiste as rekeningkunde en inligtingstegnologie as vak geneem word,” sê Koekemoer.

“In staatskole is die deurvloeisyfer van matriek tot by voltooiing van universiteitstudie slegs 2%. Dit wys dat die manier waarop wiskunde onderrig word, nie die groot klok waaraan dit gehang word regverdig nie. Indien die onderwyser nie uitdruklik kritiese denke help ontwikkel nie, plaas ons tevergeefs klem op dié vak én druk op die kind.”

“Wiskundige geletterdheid is daarop gemik om die samelewing geletterd te maak rondom alledaagse wiskundige begrippe, soos die berekening van jou water-en-elektrisiteitrekening, rentekoerse, belasting, tydsones en so meer. Die oogmerk is ’n samelewing wat bemagtig is om hulself met syfers te (kan) help,” voeg Koekemoer by.

Volgens Van der Merwe bied ’n kombinasie van wiskunde en fisiese wetenskappe toegang tot die meeste studierigtings. “Indien jy hierdie kombinasie neem, kan jy ook ander vakke neem waarin jy belangstel en kan presteer om jou TPT-telling (’n toelatingsmaatstaf wat vir studiekeuring gebruik word) so hoog as moontlik te kry,” sê hy.

Ofskoon hoëronderwysinstellings wiskunde as voorvereiste stel as jy jou weg in die wetenskappe wil baan, is daar ’n swetterjoel studierigtings wat wiskundige geletterdheid as toegangskaartjie by die deur aanvaar, sê Jordaan.

“Die regswêreld, opvoedkunde, teologie, geesteswetenskaplike rigtings soos sielkunde, joernalistiek, mediastudies en grafiese kuns, asook die skoonheidswêreld bied legio geleenthede vir leerders wat wiskundige geletterdheid as vak neem,” sê hy.

“Vir ambagsrigtings sal ek wiskunde aanbeveel, hoewel sekere instellings leerders met wiskundige geletterdheid toelaat om ’n oorbruggingskursus te volg.”

 Stel lewensvreugde voorop

“Hoewel vakkeuse ’n leerder se toekoms regstreeks raak, moet lewensvreugde voorop gestel word, meen Du Toit. “As dit die leerder gelukkig maak én hy of sy sal eendag genoeg geld kan verdien om sy of haar passie (ook) uit te leef, moet die kind in sy keuses ondersteun word.

“Om die res van jou lewe in ’n werk verstrik te wees wat jou ongelukkig maak, ter wille van meer geld maar ten koste van jou karakter, is nie ’n opsie nie. Roeping is ook ’n onmisbare bestanddeel in enigeen se rigtingsresep,” sê hy.

“As jy bereid is om hard te werk, sál jy geld maak. Die vinnigste manier om passie te smoor is om die afhanklikheid van ’n inkomste hieruit aan dieselfde kapstok te hang,” sê Koekemoer.

Jordaan meen entrepreneurskap moet van jongs af by kinders aangemoedig word. “Iets wat aanvullend tot ’n studierigting gedoen word, kan dalk later in ’n suksesvolle sakeonderneming ontwikkel. Daar is entrepreneuriese potensiaal in enige studierigting opgesluit.”

Kies toekomsgerig

Volgens Du Toit is die volgende vaardighede, ongeag vakkeuse en eindelike studierigting, van belang om in die werkplek van die toekoms ’n vastrapplek te kry: ingewikkelde probleemoplossing; kritiese denke; kreatiwiteit; mensebestuur; samewerkingsvermoë; emosionele intelligensie; om ’n oordeel te fel, standpunt in te neem en besluite te kan neem; diensgeoriënteerdheid; onderhandelingsvaardighede en kognitiewe buigsaamheid.

Koekemoer stem saam en sê ’n tegnologiegedrewe toekoms maak dié “sagte” vaardighede al meer belangrik. “Dit gaan belangriker wees om ’n begronde mens te wees as ’n globale robot. Laat jou vakkeuses deur jou verstaan van jouself en jou roeping gelei word, nie deur die druk van die samelewing nie.”

Jordaan raai ouers aan om in voorligting en kundige leiding rondom vakkeuses te belê. “Ek kan die belangrikheid van aanlegtoetse nie genoeg beklemtoon nie. Persoonlikheid, vaardighede én belangstelling moet opgeweeg word ten einde ’n ingeligte besluit te kan neem waarin die kind se talente ontdek en sterkpunte ontwikkel kan word.

“Kinders wat akademies presteer is moeiliker voorligtingskliënte omdat hulle vir só baie rigtings kwalifiseer. Die emosionele spasie waarin die kind hom of haar bevind, wat hulle wíl doen of word, hulle identiteit, speel ’n groot rol.

“Die gevaar is om hulle in ’n drukgang te plaas om medies, ingenieurswese, of ʼn aktuariële of algemene wetenskaprigting te volg. ’n Mens moet aandag gee aan die kind se innerlike begeerte en dít met beroepsmoontlikhede balanseer,” sê Jordaan.

  • Futuresmart bied nuttige, aanlyn advies in Afrikaans. Kontak gerus vir Pieter Jordaan by [email protected]. Besoek ook die Skoleondersteuningsentrum se webwerf by www.skole.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wielspore ·

Wiskunde en Wetenskap is ‘n moet en dien as grondslag vir goeie keuses verder in die leerder se skool loopbaan. Laat ‘n professionele persoon ‘n belangstellings toets op jou kind doen sodat hy/sy die regte vakke kan kies.

koos10 ·

My kind is nou graad 10 en ons het die keuse totaal en al aan hom oorgelaat. Ek moet by sê dat ons gesprekke rondom vakke met hom al in graad 7 begin is. Jou kind moet eers besluit watter studie rigting hy of sy wil ingaan. Om in graad 11 of 12 te besluit, is te laat.
Goeie raad wat ons by sy skool gekry het, was dat hy nie al 4 harde leer vakke moet neem nie. Sy keuse het geval op Wiskunde, Fisiese Wetenskap, IT en RTT.

VaalDonkie ·

Ek moes Aardrykskunde in graad 11 en 12 vat want my nuwe skool het nie Houtwerk gehad nie. Ek het elke eksamen deurgegly met 34%. En ek het nie eers omgegee nie. Ek het twee onderskeidings gehad, een in Biologie en een in Engels. En ek het so 70% vir wiskunde en wetenskap gekry. maar ek het geen belangstelling in Aardrykskunde gehad nie. Nogteeds nie. Ek gee nie om waar die aartappel-sirkel is nie en ek worry ook nie waar Maselspoort sit nie. Ek het in Standerd 4 al geleer hoe om kaarte te lees en daarna nog nooit weer iets nuttig in daai vak gesien nie.

OW ·

Interessante skrywe en ek sien baie klem word op op universiteits toelating geplaas,wat belangrik is.Daar is egter vandag ‘n magdom instellings waar voorbereiding vir ‘n loopbaan gedoen word sonder universiteits toelating.Vir elke akademiese opleiding is daar tot 7 tegniese opleidings vaardighede nodig.Dit is belangrik dat ‘n kind opgelei word in wat hy belangstel en nie noodwendig waarvoor hy toets om te doen nie.Hy kan wel toets vir sekere loopbane maar geen belangstelling daarin toon nie.

koos ·

Van sit en staan, is lê die lekkerste. Jy neem in jou jeug belangrike besluite waarvoor jy die prys in jou oudag gaan betaal. Met die twee punte in gedagte: jou kind wil nie wiskunde en wetenskap vat nie want hy is lui. Xbox en online gaming is die inding vandag, nie STEM vakke nie. Dis derhalwe jou job as ouer om jou minderjarige kind teen homself te beskerm. En met vandag se patetiese skoolstelsel is dit lagwekkend as mense spog met hulle onderskeidings, die stelsel is opgelyn om “our people” te laat slaag, nie om uitnemendheid te bekroon nie. Net dwase sien neer op opvoeding – is jy of jou kind dwaas?

Antoinette ·

Ek glo 100% in psigometriese toetse. My seun is volgende jaar gr 10 en hy weet presies watter vakke om te kies. Twee van my dogters het ook psigometriese toetse gedoen en so in die regte rigting gestudeer met onderskeidings op universiteit. My een dogter het BSc Verbruikerswetenskap gestudeer met Wiskunde Geletterdheid. Daar is ‘n rigting vir almal wat graag wil studeer.
Ouers hou net moed en ondersteun jou kind. So word hulle almal groot. Sterkte in hierdie moeilike skooltye.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.