Webinaar bekyk jongste tendense in die aanlyn leefwêreld van kinders

(Foto verskaf)

Kinders is soos visse in die water as dit by tegnologie kom en terwyl ons toenemend aanlyn werk, leer, ontspan en selfs sosialiseer, moet ouers ʼn manier vind om die risiko’s vir hul kinders in die digitale wêreld te bestuur.

Een van die grootste uitdagings vir ouers is die spoed waarteen die digitale omgewing verander. Nuwe apps en sosialemediaplatforms met kinders as ʼn teikenmark word teen ʼn duisligwekkende spoed uitgereik. Dan is daar nog deurlopend nuwe maniere vir kinders om ouerbeheermaatreëls te omseil en nuwe tendense wat na vore kom. Ouers kan ook nie staatmaak op ouderdomsbeperkings op webtuistes en apps nie; nie net is dit maklik om ʼn valse geboortejaar in te tik as jy inteken op ʼn sosialemediaplatform nie, maar dit is bloot ʼn funksie om seker te maak die sagteware‑ontwikkelaars voldoen aan privaatheidswetgewing, en nie noodwendig ʼn funksie om ons kinders te beskerm teen skadelike inhoud nie.

Tog wil ouers ʼn balans vind om hul kinders te beskerm terwyl hulle ook die ruimte vir kinders bied om die ongelooflike aanlyn wêreld wat vol geprop is met eindelose geleenthede vir die toekoms te verken.

Die FYI Play It Safe‑app bied hierdie Donderdag ʼn webinaar vir ouers aan waarin die onderwerp deurtrap word. FYI Play It Safe is ʼn app wat plaaslik ontwikkel is, maar wêreldwyd deur ouers gebruik word. Dit is nie net ʼn ouerbeheer-app nie, maar bied ʼn ekstra lagie sekuriteit met kunsmatige intelligensie. Die app monitor wat op die skerms van kinders se toestelle gebeur en stuur ʼn waarskuwing aan ouers wanneer hul kinders blootgestel word aan onvanpaste inhoud of in gevaarlike situasies beland.

Rachelle Best, ʼn ma van ʼn tienerdogter en stigter en uitvoerende hoof van FYI Play It Safe, gaan vir ouers die jongste inligting oor kinders se gebruik van die internet en sosiale media aanbied. Sy gaan ook prakties demonstreer waaraan kinders werklik blootgestel word deur die apps wat hulle gebruik.

“As ouers het ons al die inligting nodig om ons te help om ons kinders in staat te stel en te lei terwyl hulle steeds hul aanlyn vaardighede ontwikkel. Daar is nie net ʼn enkele aksie wat ons kinders sal veilig hou nie. Ons moet hulle voortdurend opvoed in aanlyn sekuriteit. Ouers het die nuutste inligting nodig, en het toegang tot ʼn ekostelsel vir aanlyn veiligheid wat hulle kan gebruik om hul kinders te lei deur hulle digitale wêrelde op ʼn manier wat aan die vertroue tussen ouers, hul kinders en die aanlyn wêreld bou,” sê Best.

Sy meen ouers val steeds vas by die idee dat dit nie met hul kinders sal gebeur nie.

“ʼn Voorbeeld hiervan is wanneer ʼn ouer die werklike data sien wat wys dat sekskletse ʼn kommerwekkende nuwe ‘normale’ neiging onder jonger kinders word, maar ouers glo steeds dit gebeur net met ander kinders omdat hulle eie ‘meer naïef’, ‘minder ontwikkeld’, of selfs ‘nog nie belangstel of nuuskierig is’ in die soort goed nie.

Best meen hierdie soort ontkenning en ongeloof van ouers se kant kan selfs tot groter risiko’s vir kinders lei.

“Nou meer as ooit moet ons as ouers, ons blindekol konfronteer wanneer dit by ons eie kinders kom en besef ons kinders is betrokke in ʼn wêreld waar pornografie oral beskikbaar is en sekskletse modieus is. Die nuutste navorsing wys dat hoewel 75% van ouers glo hul kinders was nog nie aan pornografie blootgestel nie, 53% van kinders erken dit wel die geval is. Ons kan verwag dat dit selfs ʼn groter persentasie is, wat vir talle ouers ʼn skokkende werklikheid is.”

Aan die positiewe kant lei die toenemende fokus op aanlyn veiligheid vir kinders na die ontwikkeling van beter veiligheidsmeganismes, soos die FYI Play It Safe‑app.

“Dit is belangrik dat ouers aktief besig is om te verstaan aan watter nuwe risiko’s hul kinders blootgestel word en dat hulle die digitale landskap leer ken, wat ʼn bedreiging vir hul kinders se veiligheid, geestesgesondheid en welstand kan inhou.”

Best beklemtoon kennis bly steeds mag. “Daar is oplossings wat ons kinders bemagtig om al die belonings van hul reis deur die digitale wêreld en konneksies daar te beleef, terwyl ons hulle teen die risiko’s kan verskans.”

  • Sluit by Rachelle Best aan vir die FYI Play It Safe‑webinaar getiteld Ons jeug en sosiale media; ongesensor – Waaraan jou kind werklik blootgesel word. Die webinaar vind Donderdag 9 Junie om 11:00 tot 12:00 of 19:30 tot 20:30 plaas. Kaartjies kan teen R80 by Quicket aangekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

AmY ·

Laat my dink aan my jong dae in die 80’s toe die jong seuns die Scope onder hulle matrasse weggesteek het.
Dit was byna die enigste ‘hoofpyn’ wat die ouers gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.