Nuuskommentaar: ‘Bevry Zuma’ deur KZN af te brand

Oudpres. Jacob Zuma. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Vandag is die hutsmerke “KZNshutdown” en “FreeJacobZuma” twee van die temas wat Twitter oorheers. Onder hierdie hutsmerke kan gesien word watter protesaksie alles vandag oor die hele KwaZulu-Natal ter ondersteuning van oudpres. Jacob Zuma aangaan.

Hierdie protesaksie is natuurlik deel van die sogenaamde beweging teen die onreg van Zuma se onlangse tronkstraf en inhegtenisneming. Soos wat die oudpresident se seun, Edward Zuma, ook Woensdagaand verklaar het, is dit ʼn oorlog – diegene wat Zuma in die tronk wil sien, staan in konflik met Zuma-doodslojaliste. Paaie word versper, bande word gebrand, daar word getoi-toi, snelweë word heeltemal tot stilstand gebring en daar is selfs al winkels geplunder.

Oudpres. Zuma het die afgelope Woensdag om middernag die eerste president in die demokratiese Suid-Afrika geword om in die tronk te beland. Die omvang hiervan moet regtig bevestig en waardeer word. Daar was geen vernederende inhegtenisneming waarin die polisie geweld moes gebruik nie. Zuma het waarskynlik wel sy sin gekry deurdat die ganse land in spanning moes sit en wag om uit te vind of hy wel in hegtenis geneem gaan word. ʼn Beskonke Edward Zuma het by die ingang van Zuma se woning die media vermaak en ook bygedra tot die spanning van die hele sage.

Ondanks Edward Zuma se aanbeveling het die horlosie homself ongelukkig nou nie “onttik” nie en Zuma is tronk toe. Dit is ʼn groot oorwinning vir Zuma se teenstanders in die oorlog. Niemand het regtig gedink dat ʼn skelm so slinks soos Zuma ooit suksesvol deur die staat vervolg sal word nie. Dit was moeilik om werklik hierdie soort geloof te hê in dieselfde staat wat Zuma help aftakel, misluk en verval het deur sy grootskaalse korrupsie.

Tog is Zuma tans in die tronk – selfs al is dit net vir minagting van die hof. Ná foto’s van Zuma binne-in die tronk onregmatig versprei is, is ʼn paar ongelowiges ook hopelik daarvan oortuig. ʼn Klein oorwinning is steeds ʼn oorwinning.

Die Estcourt-gevangenis in KwaZulu-Natal. Oudpres. Zuma dien sy tronkstraf hier uit. (Foto: AFP)

Dit is wel interessant om daarop te let dat Zuma gekies het om na die Estcourt-gevangenis te gaan met sy oorgee aan die polisie. Die aanvanklike lasbrief vir inhegtenisneming, soos onderteken deur regter Sisi Khampepe, het voorgehou dat Zuma na die Westville-gevangenis geneem moet word en sy tronkstraf daar moet uitdien. Sodoende sit Zuma eintlik tans in ʼn ander tronk as die een wat vir hom toegewys is.

Hierdeur het Zuma bevestig dat hy tronk toe sal gaan, maar hy sal na sý tronk toe gaan. (Dit ook nog een wat in die baie onlangse verlede gebou is en ook waarskynlik van die beter korrektiewe geriewe in die land is.) Dít was Zuma wat net vir ʼn laaste keer die regstelsel in die oë kyk en sy bril met ʼn middelvinger opstoot – met die minagting wat net hy kan toon.

Bowendien het die hooggeregshof in Pietermaritzburg Vrydag Zuma se aansoek van die hand gewys. Sodoende het die hof vir Zuma gesê dat hy wel tronkstraf sal moet uitdien totdat hy Maandag weer voor die Konstitusionele Hof te staan kom.

In reaksie op hierdie sogenaamde onreg het Zuma se ondersteuners besluit dat hy dalk tronk toe gaan, maar dat dit ten duurste sal geskied. Die N3 is reeds vandag tot stilstand gebring met die polisie en metropolisie wat net nog hulpbronne in die saak moet stort. Natal word eintlik maar met geweld gyselaar gehou totdat Zuma weer bevry word. Edward Zuma het immers Woensdagaand belowe dat daar bloedvergieting gaan plaasvind indien die polisie Zuma in hegtenis probeer neem. Hoewel dit gelukkig nog nie gebeur het nie, gaan sy opsluiting duidelik nie sonder wetteloosheid en geweld plaasvind nie. Daar is ʼn onreg gepleeg wat beveg moet word. Die formele regsproses het Zuma ʼn “doodsvonnis” toegedien – die enigste oorblywende opsie is om hierdie onreg deur die informele regstelsel, naamlik geweld, te beveg.

Sodoende is dit moeilik om nie herinner te word aan die geweld wat ook in die laat 1980’s geheers het nie. Hierdie sinlose geweld is deur die ANC aangehits en gestuur in ʼn poging om die apartheidstaat onregeerbaar te maak in die soeke na groter verandering en geregtigheid. Die ANC wou die prys vir die apartheidsregering ook so hoog moontlik maak om hul onregte voort te sit. Daar waar die formele reg nie noodwendig geleenthede gebied het in die vryheidstryd nie, is geweld as onderhandelingsmiddel aangewend.

Mangosuthu Buthelezi het die ANC egter reeds in 1987 gewaarsku dat ʼn strategie om die apartheidstaat onregeerbaar te maak ook ná magsoorname die ANC se land onregeerbaar sal laat. Dit is natuurlik ook presies wat gebeur het – gewelddadige protes het in die post-1994-samelewing feitlik die norm geword. Dit is nie juis moeilik om ʼn skare betogers bymekaar te kry nie, maar dit is nietemin ʼn verwoestende taktiek van politieke deelname.

In volle dramatiese ironie is dit presies hierdie selfde onregeerbaarheid waarmee die ANC nou ook worstel – onregeerbare geweld heers in die poging om ʼn vryheidsvegter van onreg te verlos. Hierdie keer is die ANC egter die “apartheidstaat” wat boonop een van sy eie strugglehelde in die tronk gooi. Dit vergroot die onreg net nog meer.

Nou is die struweling tussen staat en sogenaamde vryheidsvegters ʼn interne geveg, eerder as ʼn eksterne een. Verskillende dele van die ANC en sy ondersteuners staan verdeeld en in konflik oor hierdie geveg. Dit is ʼn interne spanning wat regtig moeilik versoen kan word en uiteindelik moontlik tot verwoesting kan lei.

Die vraag is dan nou hoe presies die pad vorentoe vir die ANC as postapartheid-vryheidsbeweging lyk. Die ANC het reeds die apartheidsregering oorwin en sy nuwe demokratiese Suid-Afrika gevestig – indien enige verdere onreg, of beweerde onreg, deur die staat gepleeg word, lê dit op sy skouers. Indien die ANC nou in ʼn nuwe sooort vryheidstryd met homself betrokke raak, is die vraag waarheen presies die party op pad is. Wat lê moontlik in die toekoms vir die ANC? Gaan Zuma se inhegtenisneming dit wees wat die ANC se binnegevegte tot ineenstorting laat oorkook?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Adam Adriaan ·

En Toe? wat gaan hulle deur sulke opterede bereik? En toe laat die hoenderhaan ‘n wind en daar val die bokram se tanne in die sop!!

Lesly ·

Alhoewel wetenskaplikes jare aan die probleem werk, is daar nog geen vordering vir ‘n medisinale kuur vir “stupid’ nie.

Aai ·

Hy moes lankal in die tronk gewees het.Wag tot hulle staats eiendom begin brand ,los die privaatsektor uit dalk sal die staat dan iets doen.

Joe Olivier ·

Dit val so lekker op die tong om te praat van tronkvoël zuma ipv oud “president” zuma. Ek sit dit doelbewus in aanhalingstekens want hy was nie regtig president nie, hy was net in die posisie geplaas deur ‘n klomp idiote.

Kobus ·

Hy het maar weereens gewys dat hy hom nie steur aan die howe nie.Meld by “sy” korrektiewe dienste in Estcourt aan.Hoop die grondwethof sit sommer nog 15 maande by.Wie dink hierdie ou is hy?

marius ·

Daar sal niks verander nie . Mag kom uit die loop van ‘n geweer en diegene wat beheer moet toepas is almal stert tussen die bene . Gaan kyk na die res van afrika en sien hoe geweld regerings omver gewerp het . Parrabelum

Oom Hennie Pennie ·

Die president moenie toegee nie en die weermag en polisie instuur en grootskaalse inhegtegnis nemings. Daar moet nou met ‘n ystervuis terug geslaan word anders gaan Suid Afrika die bespotting van die wereld word.

Moeggeploeg ·

Suid Afrika is al sedert 1994 ń bespotting van die wêreld. Daar is nie pille vir stupidity nie

Aai ·

Julle weet wie sit agter al die nou sluit hulle toe vir aanhitsing en openbare geweld .

Anel ·

Die spul wat nou so tekere gaan, wat het hulle by zuma gekry dat hulle so vir hom opkom? Die spul is almal werkloos en vrek tien teen een van die honger. Môre is hulle kwaad want daar is nie dienste nie, want die geld is gebruik om hulle verwoesting te herstel. Soos hulle sê in die land van die blindes is die een oog koning. En waar is ou cirreltjie? Hoekom kom daar nie eers ‘n piep van sy kant af nie? President se groottoon.

Ovelia ·

Wat n skande vir mnr Zuma. Sy seun Edward poep dronk terwyl sy pa hom nodig gehad ht

Pieter ·

Wanneer die beskadiging van die land se infrastruktuur plaasvind, en lewens van onskuldige lede van die publiek bedreig word, is dit nie meer “protesaksie” nie, maar terrorisme!!!

Nico ·

Stjepan Mestrovic, skryf in sy boek “Genocide after emotion” wat handel oor die oorlog in Joegoeslawië, dat deur die opwekking van genoeg emosie oor ‘n leuentaal die saad gesaai is vir ‘n volksmoord. En waar dit dan duidelik is dat die ideologie van “rassisme” nie gebou is op feite, waarhede en werklikheid nie, maar op emosie, skuldgevoelensen ontkenning van werklikhede, is die resultaat vervolging van die Blanke, sogenaamde integrasie en uiteindelik soos dr. Verwoerd gestel het, disintegrasie en die vernietiging van die Blankedom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.