Nuuskommentaar: Burgerlike ongehoorsaamheid in ʼn paternalistiese staat

(Argieffoto: Unsplash)

Twee afsonderlike hofsake oor die tabakverbod was die afgelope week in die kollig, dié van Fita en die van Saai en Batsa teen die regering.

Op die dag van Saai se hofsaak het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, in ʼn vraag-en-antwoord-sessie kommentaar gelewer oor die samelopende alkoholverbod wat tans ook nog in werking is.

Mkize het tydens dié sessie genoem dat die regering nog nie die alkoholverbod kan ophef nie. Volgens Mkize is dit “[uiteindelik] die departement [van gesondheid] se hooffokus om na die nasie se gesondheid om te sien. Daarom is die drankverbod nog ingestel.”

Hierdie paternalistiese houding is iets wat deur die loop van die pandemie veral opmerklik was. Die ANC het sy perke as regering begin oorskry deur morele besluite namens ons te begin neem. Dit is nie die regering se plek om namens ons te besluit nie. Dit is eerder sy plig om ʼn administrateur van basiese dienste te wees. Dit is nie die regering se plek om jou te keer om uit ʼn boom te spring nie. Dit is bloot sy plig om toegang tot gesondheidsorg te verseker indien jy wel spring.

Tydens die eerste drie weke van inperking het mense gevoel dat die ANC binne hul grense bly. Mense het die regulasies verstaan, gerespekteer en nagekom. Daarna het regulasies toenemend in mense se persoonlike lewens en morele besluitneming begin indring.

(Foto: Verskaf.)

Sodoende het die regering mense toenemend in ʼn posisie geplaas waar hulle die wet wíl gehoorsaam, maar moreel ongemaklik voel daaroor. Met die regering wat maatskaplike hulp wou sentraliseer, is organisasies gekonfronteer met die botsing tussen die wet en moraliteit.

Mense is in die moeilike situasie geplaas waar die moraliteit van wetsgehoorsaamheid opgeweeg moes word teen hul Christelike pligte. Mense moes besluit of die verontagsaming van ʼn regulasie uiteindelik méér moreel gaan wees as die nakoming daarvan. Is dit werklik reg om nié by jou ma op haar sterfbed gaan kuier nie, bloot omdat die wet dit belet?

Uiteindelik het mense hulself al meer op hul Christelike pligte begin beroep. Gewone wetsgehoorsame burgers het regulasies begin verbreek omdat dit die méér morele ding is om te doen. Hierdie mense oortree nie regulasies omdat hulle graag die wet wíl verontagsaam nie, maar eerder omdat hulle voel dat hulle geen ander keuse het nie.

Martin Luther King Jr. het hieroor gesê: “One has not only a legal, but a moral responsibility to obey just laws. Conversely, one has a moral responsibility to disobey unjust laws.”

Wette is op die ou einde bloot morele waardes wat formeel vasgevang is. Die waardes wat in dié wette vervat word, is soms eerbaar en soms onregverdig. Alle wette is nie eerbaar bloot omdat dit ʼn wet is nie. King het verstaan dat dit soms meer eerbaar is om onregverdige wette te verontagsaam en die gevolge daarvan te dra as wat dit is om dit te gehoorsaam.

Weens die Afrikaner se ontsag vir wet en orde is dit dikwels vir ons moeiliker om oor te gaan tot burgerlike ongehoorsaamheid. Die regering het weens sy magshonger aard ons ongelukkig in die posisie geplaas waar ons nie anders kan as om tussen wet en moraliteit te kies nie.

Argieffoto

Hierdie pandemie was vir die ANC die ideale geleentheid om al dieper in mense se lewens en morele besluitneming in te meng. Siende dat hierdie verreikende beheer inherent deel van hulle aard is, is dit iets wat nog vir lank deel van ons lewens gaan wees.

Daarom is dit belangrik om nie ons moraliteit aan die staat te koppel nie – nie aan hierdie regering nie, en ook nie sommer aan enige ander regering nie. Regerings kom en gaan, maar volke bly staan. Dit is daarom belangrik dat ons weet wat ons interne kompas is en daarna luister – veral wanneer dit met die wet bots.

Die punt van burgerlike ongehoorsaamheid is nié om lukraak wette te verontagsaam bloot om die onthalwe van verontagsaming nie. Dit is eerder ʼn manier waarop mense weens ʼn beroep op hul Christelike plig die onreg van immorele wette kan omseil. Hierdie is egter ʼn opweeg wat elke individu self moet maak. Weeg die onreg van ʼn wet swaarder as die onreg en gevolge van burgerlike ongehoorsaamheid?

Namate regerings méér mag aan hulle self wil toeken, vergroot die gaping tussen dit wat hulle wil doen en dit wat hulle realisties kan doen. Ons regering spesifiek wil oor elke sfeer van mense se openbare en persoonlike lewens dikteer. Dit wat hy graag wil doen, is uiters ambisieus. Weens sy skreiende onbevoegdheid is dit wat hy kan doen egter veel minder.

(Foto: Wikimedia Commons)

Die regering het volledig hierdie spasie ontruim en ons sodoende die geleentheid gebied om dit self te vul. Dit is binne hierdie gaping wat ons as burgerlike samelewing die spasie het om self te doen en self te besluit. Dit is in hierdie ruimte waar ons as gemeenskap kan besluit wat vir ons belangrik, reg en eerbaar is.

Hannah Arendt, Duits-Amerikaanse filosoof en politieke teoretikus, bespreek in haar essay “Civil Disobedience” hierdie morele opweeg. Sy beskryf hoe daar soms spanning ontstaan tussen goeie burgerskap en goeie menswees.

Wanneer wette onregverdig is, word jy soms ʼn slegte mens deur ʼn goeie burger te wees. Die regering maak die diskrepansie tussen goeie burgerskap en goeie menswees al groter. Dit dwing ons om te besluit.

Gaan ons goeie burgers wees en onregverdige wette nakom? Of gaan ons slegte burgers wees in die strewe na beter menswees?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
MrMagic

Ek dink nie die burgers is ongehoorsaam nie, net moeg vir die onbeholpe regering. Reken die ANC-regering het hul eie graf gegrawe met die swak besluitneming.

annie

Hier is moontlik veel meer ter sprake as gesondheidsleer. Ons weet dat dr Zuma ook die prez wil wees. Sy is ‘n Zoeloe en dr Mkhize ook. Daar is onderlinge struwelinge binne die topbestuur van die party. Wie steun vir wie? Wie sou Cyril kon vervang? Sou dr Zuma by Cyril oorneem, wie sal haar adjunk wees? Die antie speel ‘hard to get’ en sy toets haar impi’s se onderdanigheid.

Misky

Knap gedaan aan Monica en dis baie goed gestel. Ek voel al skuldig oor “wette” wat ek daagliks verbreek, maar eintlik is dit net n bestaan en alledaagse dinge. Die Woord sê ons moet nie haat nie, maar die Vader hoor my, ek haat die ANC en hulle maak my rassisties en met alle eerlikheid kan ek sê ek was nooit voorheen nie.

Leeuwyfie

“It is not always the same thing to be a good man and a good citizen”
Aristotle
Goed geskryf. Mense het lank genoeg op die draad gesit. Hul moet nou kant kies. Wen of verloor. Wat reg is is reg, en ons moet daarvoor baklei.

JohanR

Haat is ‘n sterk word, maar ek dink die mees gehaate persoon in Suid Afrika moet President Nkosazana Dlamini-Zuma wees. Het nog geen persoon tee gekom, wat enigeiets goeds te se het oor die minister, maar al baie wat baie gevloek het, en naby gekom om vir klippe en baksteene te soek om te gooi! Ek weet is nie die mense se keuse nie, maar dink nie Suid Afrika sal NDZ aanvaar as President nie.