Nuuskommentaar: Die dubbele standaarde van ‘doublespeak’

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Net betyds vir Vryheidsdag is Helen Zille, die DA se federale voorsitter, gekanselleer oor ʼn twiet van haar gevul is met beweerde “queerfobie” en “haatspraak”.

In die twiet het Zille gereageer op ʼn ander twiet wat handel oor Dylan Mulvaney, ʼn biologies manlike sosialemediapersoonlikheid wat identifiseer as ʼn vrou. Die organisasie OUT LGBT Well-being, wat na die gesondheid, welstand en menseregte van die LGBTIQ+-gemeenskap omsien, het Zille se twiet bestempel as ʼn aanval op die LGBTIQ+-gemeenskap.

Dit volg net minder as ʼn week nadat die Bloemfonteinse appèlhof die uitspraak bevestig het wat die vertoon van die ou Suid-Afrikaanse landsvlag in die meeste omstandighede tot haatspraak verklaar het. Dít minder as ʼn jaar nadat die gelykheidshof bepaal het Julius Malema, leier van die EFF, se sangdreun van “Kill the Boer” kom nie neer op haatspraak nie.

Die nuwe Haatspraakwysigingswet wat haatspraak en haatmisdade vir die eerste keer kriminaliseer, is op 14 Maart 2023 deur die Nasionale Vergadering aanvaar. Dié wetgewing moet nou na die Nasionale Raad van Provinsies gaan vir aanvaarding voordat dit deur die president onderteken word.

Haatspraak as verskynsel is dus iets waaroor die Suid-Afrikaanse samelewing verskriklik sterk voel, gemeet aan dié reëls wat hy maak. Gegewe die moontlike ingrypendheid van die wetgewing is dit soveel te meer belangrik om waterdigte standaarde vir haatspraak en haatmisdade te handhaaf.

Die een ding wat duidelik na vore tree uit bogenoemde voorbeelde, is nie noodwendig die morele regverdigbaarheid van enige van die uitlatings nie. Dit is vir die doeleindes van hierdie ontleding ook nie nodig om enigeen hiervan te verdedig of aan te val nie. Wat veel meer relevant is, is die blatante dubbele standaarde waarmee verskillende uitsprake gehanteer word.

Uit George Orwell se ikoniese boek 1984 word sy twee nuutskeppings “doublethink” en “Newspeak” gekombineer in die afgeleide, en baie bekende, konsep van “doublespeak”. Dit is ʼn taalverskynsel waarvolgens die ware betekenis van woorde doelbewus verwring, verdoesel of omgekeer word. So word taal misbruik en skeefgetrek vir politieke doeleindes.

Dit is hierdie “doublethink” en “doublespeak” wat maak dat ʼn mens, soos in die boek, kan sê oorlog is vrede, vryheid is slawerny en onkunde is mag.

ʼn Hedendaagse vergestalting hiervan, veral in die Amerikaanse konteks, is: woorde is geweld en geweld is woorde. Die uiter van “onaanvaarbare woorde” word ingevolge hiervan bestempel as haatlik, op sigself gevaarlik en gewelddadig. So ook is die pleeg van fisieke geweld vir die “regte” saak heel aanvaarbaar omdat dit net ʼn manier van uitdrukking is. Die etikettering van woorde as gewelddadig en haatlik geskied egter nie op grond van die inhoud van die woorde self nie.

Die deurslaggewende faktor is veel eerder die regerende idees van die dag. Karl Marx het self gesê die idees van die regerende klas word uiteindelik die regerende idees van die samelewing – die oorheersende meesterverhaal stel daarom die grense vir aanvaarbaarheid.

So is die inherente gewelddadigheid en aanhitsing-oogmerke van enige bogenoemde stellings nie noodwendig so relevant nie. Die vraag is dan veel eerder of diegene wat regeer – en hul regerende idees – goedkeuring verleen aan die bepaalde stelling ongeag die inherente gevaarlikheid daarvan.

So bevind Zille haar aan die verkeerde kant van die kulturele golf – een wat volledig vanuit die sogenaamde Amerikaanse kultuuroorlog oorgespoel het na ons eie samelewing.

Mulvaney geniet tans in Amerika enorme gewildheid, nadat hy verlede jaar sy oorgangsreis (transition) op TikTok in video’s begin deel het. Dié biologiese man het intussen ʼn advertensiewoordvoerder geword van onder meer sportbra’s en sanitêre produkte vir vroue. Kritici meen egter Mulvaney onderhou op ʼn neerhalende wyse teenoor vroue bloot ʼn vroulike karikatuur vir persoonlike gewildheid en finansiële gewin. Mulvaney het self in ʼn video genoem hoe ʼn mens “trans” kan wees sonder om ooit hormoonbehandeling of enige geslagsveranderende chirurgie te ondergaan – iets wat Mulvaney self nog nie gekry het nie en wat tog sy geloofwaardigheid onder kritici in twyfel trek.

Mulvaney is, ongeag opregtheid of afwesigheid van opregtheid, absoluut ʼn begunstigde van die kulturele tydsgees wat aanvaar dat mans vroue kan wees en vroue mans. ʼn Wêreld waarin biologiese gegewens keer op keer moet swig voor die sosiaal en polities korrekte konstrukte van die tyd. Enigiemand wat hierdie kwessie moontlik bevraagteken, ondermyn nie net die heersende orde nie, maar word ook as gewelddadig of haatlik bestempel – selfs al sê hulle bloot ʼn verkeerde ding.

Zille se uitsprake word dus voor die voet as haatlik en ʼn geweldsdaad bestempel, juis omdat dit die heersende kulturele orde van die dag bevraagteken – nog lank voordat die werklike moontlike gewelddadigheid of haatlikheid van haar uitsprake ooit beoordeel kan word. Vryheid strek dus net so ver as wat die regerende klas se regerende idees toelaat.

Vryheid van spraak beskerm geen mens se reg om nét dinge te hoor waarvan hulle hou nie. Dit is eerder veronderstel om mense se reg te beskerm om goed te sê waarvan ander nie noodwendig hou nie. Vryheid van spraak word juis in beginsel beskerm om ʼn tiranniese sensuur deur die regerende klas te probeer verhoed, gegrond op dit wat hulle besluit aanvaarbaar is om te sê of nie.

Op die altaar van politiese korrektheid word enigiemand egter geoffer wat teen die standaarde van die bestaande (kulturele) orde en tydsgees praat. Dit is iets waarteen enige vryheid-van-spraak-voorstander, nie noodwendig weens inhoud nie, maar juis in beginsel behoort te baklei. Nie omdat jy self vandag hou van dit wat Helen Zille sê nie, maar juis omdat die regerende klas dalk nie hou van dit wat jý môre sê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Schalk ·

Die mense se oordeel en standaarde sal nooit alle partye of mense se standpunte kan laat ooreenstem nie. Net so kan geen aardse wet of beperking teenstrydig met die natuur wees en terselfdertyd dit bevorder vir ń ander siening nie. Om toe te gee is om iets te verloor. Al is dit standpunt, grond of geloof.

Herman L ·

Hierdie is niks anders nie as om vryheid van spraak te ondermyn. Die heersende party en sy kaders sal alles doen om soveel moontlik stemme te “koop”. As dit wat almal doen aanvaarbaar is, is die kans goed dat hulle sal stem vir die party wat dit alles goedkeur.

Mariana ·

Dit is juis die rede hoekom ons samelewing en menswees in so groot gemors is. Almal se monde word gesnoer want reg is nou verkeerd en verkeerd is reg en word in ons kele afgedwing. Niemand spreek wat hulle dink nie want hulle is bang vir vervolging deur mense soos MRK en geen debat word geduld. Almal moet soos skape wees, want jy mag nie jou eie mening lug nie, net die mening van regerendes is volgens hulle reg. Helen se woorde of liewer vraag word uitverband geruk. Mens vra jouself die vraag. Hoekom pla ander se menings en uitsprake dan so erg? Elkeen moet sy lewe leef soos hy of sy wil. Ons hoef nie almal saam te stem met wie wat doen of wil doen of is of wil wees nie. En as jy nie vrae vra nie hoe sal jy dan ooit weet wat die antwoord is. Beste is seker los mekaar uit, gaan jou eie gang.

Oosie ·

Als gaan deesdae oor geld. As ek sê piet pompies was verkeert oor iets, dan is dit haatspraak en alle snert wat in pompies se guns tel! En dan verloor ek my reg om iets te sê net daar en dan.. en dit als net sodat die waarheid of opienie nie moet uitkom..
Wat ñ sirkus. Maar die verdomde leeglêers kan hul mening of opienie gee..

Prinses Bella ·

In my wêreld noem ons hulle somme freaks. Kort en klaar. Sonder enigiemand se toestemming…

My siening ·

ANC die toebroodjie party en die benadeelde mense val daarvoor vir ‘n stem maar vergeet van die dag daarna wanneer die ANC jou honger mens lankal vergeet en kaviaar eet!

Vonny ·

Ai ai suid afrikaners hoekom
Moet jul altyd jul opinies gee op social media.
Bespreek dit in jou huis.
My mamma het altyd gesè
N stil bek is n heel bek….!!!
Dan SAL ONS VREDE HÈ.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.