Nuuskommentaar: Waar sal ons krag vandaan kom?

beurtkrag

Argieffoto

ʼn Aanwyser wat mense se vlak van geluk meet deur die Bruto Nasionale Gelukindeks (GNH) dui aan dat mense nie gelukkig is met fase 6-beurtkrag nie – ʼn mengsel van woede, teleurstelling en vrees tipeer die volksgevoel tans. (Iets wat ʼn mens uiteraard sonder ʼn indeks kon voorspel!)

So asof die kragkrisis op sigself nie erg genoeg was nie, het pres. Cyril Ramaphosa op heel antiklimaktiese wyse teruggevlieg om ons te kom red! So het Ramaphosa die nasie toegespreek met die jongste planne om die krisis te help aanpak. Op die ou end ongelukkig niks te innoverend en ingrypend nie.

(Voornemende) pres. Steenhuisen het burgers ook toegespreek – die kruks hiervan wesende dat die regering twee maande later op geen wesenlike wyse enige van hul kragplanne in werking gestel het nie. Politici moet ingeruil word vir kundiges ter wille van die land se welstand.

Elke keer as ons praat oor die feit dat ons in ʼn krisis is, is ons nog dieper in die krisis. ʼn Mens verstaan dan waarom die Gelukindeks nie vreeslik positiewe resultate oplewer nie. Daar is ʼn miljoen verskillende maniere waarop duisende mense al ontelbare frustrasies met die kragkrisis uitgedruk het. Dít is natuurlik verstaanbaar – en gegewe die werklikheid ook te verwagte.

Selfs die regering is darem nou op dieselfde bladsy as burgers wanneer dit kom by probleemstelling – die duisternis is inderdaad kort op ons hakke. Dit is juis in die opsig van oplossingstelling waar almal mekaar verloor. Toegegee – die regering het die afgelope jaar of wat met ʼn groot tandgekners regulatoriese skrefies vir ons oopgemaak. Onwillige en beperkte regulatoriese hervorming is ongelukkig die vlammetjie waaraan ons tans kan vasklou.

In hierdie stadium kom die regering se boodskap ter oplossing van die kragkrisis soortgelyk oor as Ferdie Kruger, in die mokumentêre reeks Hotel, se veldtogslagspreuke vir burgemeesterskap: “Ferdie Vir Krag!”. ʼn Absurde, misplaaste en uiteindelik waninterpreteerbare poging om selfbemagtiging te propageer!

Dit is omdat die regering uitsluitlik bereid is om regulatoriese “toegewings” te maak in sover hulle volledig in beheer daarvan kan bly. Hulle sal dalk die harde spiritus laat vaar vir ietsie ligters, maar magsdronk sal hulle wees. Eens magsbesope – altyd magsbesope. Die mag en die krag moet maar in die regering bly.

Nou sit ʼn mens in die dilemma waar elke vermoënde deel van die samelewing probeer saamspan in ʼn poging om die krisis op te los. Die regte oplossings word al so lank vanuit soveel oorde op soveel verskillende wyses vir die regering gegee – as hulle dit maar net wou toepas.

Dié ongelooflik frustrerende en verwoestende regeringsmagsmonopolie is in hierdie stadium die werklikheidsvooruitsig. So kan krisistoespraak op krisisdebat op krisisplan opgelewer word – die krisis is steeds op ons en gaan waarskynlik ook met ons bly. So wat nou? Die beginpunt van hierdie antwoord is dat die regering dalk oormatig mág, maar hulle kán nie juis meer nie.

Lewe het ʼn ongelooflike manier om altyd ʼn weg te vind. Daar waar die regering nie omstandighede skep wat bevorderlik is vir lewe nie, sal ʼn weg gedwing word. Siende dat oormatige magsentralisering lei tot gedesentraliseerde verval, is daar ook geleentheid hiervoor.

Die enigste wesenlike antwoord in hierdie stadium is dus om die tasbare omstandighede uit te bou wat bevorderlik is vir lewe – selfs al is dit in woede, teleurstelling en vrees. Ongenaakbare pragmatisme is wat ons nodig gaan hê om die noodwendige kragkrisis te oorleef. Eskom wat nou krag aankoop by privaat opwekkers is uiteindelik net ʼn stewige verband op ʼn ongeneesbare wond. Dit sal moontlik die probleem oplos, maar ook net op kort termyn.

Die enigste langtermynoplossing vir die kragkrisis is grootskaalse kleinskaalse kragopwekking, aldus dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dit is dus belangrik dat elke organisasie, instelling, onderneming en huishouding sover moontlik toenemend staatsbestand word. Dit gaan uiteraard nie maklik of goedkoop wees nie, maar dit is regtig noodsaaklik. Die jaarlikse Sakeliga KragDag-ekspo beoog juis om oplossings van praktiese staatsbestandheid ten toon te stel. Die idee hiervan is dus om die grootste ekspo van enersydse selfstandigheid en andersydse staatsbestandheid te wees. Een waarin mense bemagtig word met die nodige kennis en tegnologie om staatsverval soos hierdie te oorleef.

By vanjaar se KragDag is onder meer aangekondig dat die organisasies TLU SA, Saai, NEASA en AgriX betrokke gaan raak by alternatiewe elektrisiteitsverskaffing – as ʼn mens kan boer met ʼn skaap, kan jy netsowel boer met die son!

Een van die uitstallers by die ekspo het vooraf ook die moontlikhede rakende sonkrag in ʼn promosieartikel uiteengesit. Dit is nou moontlik om ʼn sonkragstelsel oor ʼn tydperk stuk-stuk aan te koop. Sodoende is dit nie ʼn absoluut onbekostigbare eensklapse aankopie nie – dit is eerder ʼn gedeeltelike oplossing wat mettertyd tot volledige Eskom-onafhanklikheid uitgebou kan word.

Weereens – hierdie uitweg is nie maklik óf goedkoop nie, maar wel noodsaaklik. Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê ook gereeld dat dit nou sleg met Eskom gaan, maar ten minste beter as wat dit volgende jaar met hulle sal gaan. Dít is nie doemprofeties nie, maar eerder realisties.

Die era van staatsafhanklikheid moet so gou moontlik ontruim word. Indien die regering in die een of ander stadium in doeltreffendheid herleef, is dit absoluut wonderlik! In die geval waar dit nié gebeur nie, is dit nodig om alternatiewe uit te bou. Nie omdat regeringsmislukking ʼn hartsbegeerte is nie, maar eerder ʼn nugtere voorspelling.

Ten einde die realisties voorspelbare verbrokkeling te oorleef, moet doenbare oplossings mettertyd uitgebou word. Ons krag gaan dus nie van een lamsakkige monopolis af kom nie, maar eerder van duisende staatsbestande kleinskaalse kragopwekkers. Gemeenskapselfstandigheid gaan die definiërende én deurslaggewende term in toekomstige sukses wees.

Enige suksesvolle toekoms wat jy wil sien, gaan jy self moet bou. Die alternatief is ineenstorting saam met ʼn regering in onrehabiliteerbare ontkenning. En daarvoor het niémand krag nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Samuel ·

Magsbesope is ‘n goeie beskrywing van ons regering.

Ted Blom en Connie Mulder sê in ander berig, ons moet nie paniekerig raak nie. Gaan hierdie krisis dan nie van kwaad na erger gaan nie??

Pierre ·

Gee bietjie meer loadshedding ure vir Soweto en dies meer soos res van die land wat wel hul rekeninge betaal.

Hendrik ·

Met die mees onlogiese beredenering benadering van die anc regering om eiehandig die probleem op te los word volhard want hul voorsien daarin n gans wat goue eirs sal le. Ook is hul gekant teen die werklikheid dat die privaatsektor moet meewerk en die oorwinning behaal want hou vir hul n bedreiging in. Hul s e b strewe sal daarmee met die jarre bykans uitgewus word.

Antares ·

Interessant hoe na Orania verwys word as, “whites only town”, maar ‘n voorbeeld stel hoe van eskom ontslae geraak kan word. Ons moet maar selfvoorsienend word, solank as wat anc regeer, sal eskom nie die mas opkom nie.

Bart-Man ·

En so raak die gaping net groter. Die wat hulle self uit die gemors probeer kry met lenings son panele en planne om off-grid te gaan, sal dan weer gemerk word as privlged. En dit terwyl die freebies nie meer free krag kan kry nie, want daar gaan nie meer free krag wees nie.
Water is volgende.

annie ·

Die 67-jarige (reeds oor sy raktyd) minister Samson Gwede Mantashe ( nou ook met ‘n MBA geseën) se eerste job was as recreation officer by ‘n myngroep. Vandag is dit sy plesier om ons doen en late nog plesieriger te maak. Die glo regte man vir die job. Ons regering is al so gewoond aan pledging en bedel dat Eskom nie skaam voel om elders nog van ons skaars belastinggeld te gaan stort nie. So van stort gepraat, ons sal binnekort dalk oor die landsgrens moet pendel vir ‘n warm stort waarvoor ons 2x moet betaal.

Lillian ·

Sal my nie verbaas as Ramapokker gaan geld bedel het by die VSA om te help met die elektrisiteitskrisis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.