Nuuskommentaar: Word die VSA weer gedesegregeer?

Amerikaanse-vlag

Foto: pixabay.com

Onder die opskrif, “The resegregation of America”, was die voorbladstorie die afgelope week van die Christian Science Monitor, gewaarborg om die aandag te trek. En dit het.

Die ellelange artikel gebruik die 50 jaar sedert segregasie se laaste wetlike stuiptrekkings om ’n tipe opname te maak oor hoe in die praktyk met integrasie gevorder word, en gebruik tot groot mate die gevalle die afgelope aantal jare waar swart mans deur wit polisielede doodgeskiet is as vertrekpunt.

Hoewel die Christian Science Monitor in Boston gesetel is wat as baie liberaal beskou word, behandel die artikel nie die stad of selfs deelstaat nie, maar verskeie ander Amerikaanse stede. Die artikel is veral gebou om die “twin cities” van Minneapolis en St. Paul.

Die artikel gaan van die standpunt uit dat segregasie sleg, en integrasie goed is. Dit raak ook aan ander aspekte van die “verskansing” van segregasie in die VSA, naamlik skoolintegrasie wat plek-plek omgekeer word, en diskriminasie met behuisingsubsidies wat ook woongebiedsegregasie verskans. (Daar kan letterlik duisende artikels oor die hersegregasie van Amerikaanse skole raakge-Google word), maar die opskrifte is misleidend oor komplekse kwessies soos hoe gemeenskappe self hul openbare skole (daar is verskeie soorte skole, ook staatsgefinansierde skole, in die VSA) hanteer.

Die sosio-ekonomiese aspek soos die armoedegaping word ook onder hande geneem.

Die artikel hanteer voorts die feit dat geïnstitusionaliseerde vorme van segregasie, soos afsonderlike kostoonbanke en toiletgeriewe, nou net tot ou foto’s gereduseer is, maar meld dat dit nou op verskeie maniere subtiel voortbestaan.

Die lengte van die artikel wek die indruk dat dit volledig moet wees, maar verskeie artikels en navorsingstukke neem nog faktore in ag oor hoekom daar in die VSA ’n skynbare verswakking in rasseverhoudinge is. Van hierdie artikels het ook al in die Christian Science Monitor verskyn, en Maroela Media het ook ruim daaruit geput om ’n groter begrip te vorm vir studente-onluste met rasse-ondertone in die VSA, en die raakvlakke daarmee in Suid-Afrika.

Van die belangrikstes is moontlik:

Nuuskommentaar: Menseregtekommissie moet rasding help uitpluis

Nuuskommentaar: As die rasding lelik word

Nuuskommentaar: “Blackface” en rassisme

Nuuskommentaar: Sport- en raskwotas al weer / nog steeds

Nuuskommentaar: Kan die bekamping van radikale afpersing Afrikaanse red?

Kwessies soos die bereiking van drempel-getalle deur minderhede in onder meer universiteite, en dan ’n aandrang dat die “tipiese” (wit) Amerikaanse kultuur vir hulle vreemd is en vervang moet word, word byvoorbeeld glad nie in die artikel bespreek nie. Trouens, die kwessie van onwettige immigrante en die opkoms van Donald Trump as presidentskandidaat word ook verswyg. Instinktief word verwag dat die skrywer van die artikel, Nissa Rhee, swart sou wees, maar sy is ’n wit blondekopvrou. Haar man is wel van Oosterse herkoms. Sy lewer geskrewe bydraes wêreldwyd, maar het ’n passie vir sake waar nie-wit skynbaar aan die kortste ent trek.

Dit beteken nie dat die jongste artikel nie die aandag moet kry wat dit verdien nie.

Volgens gerapporteerde sensusgegewens sal wit mense in die VSA, wat nou 62% van die bevolking uitmaak, oor 30 jaar ’n minderheid wees. Dit beteken dat wit Amerikaners ’n soortgelyke druk-ervaring sal hê as Europeërs terwyl Wes-Europa deur groot gevalle vlugtelinge van elders oorstroom word, en regse partye plek-plek kop optel.

Die Amerikaanse sensusgegewens word egter ook deur kenners as “mite” beskryf, en hulle grond hul besware veral rondom rasdefinisies, veral mense van Latyns-Amerikaanse (Latino-) herkoms. In ’n artikel in die New York Times hieroor verlede jaar word ook geput uit data van ’n 2015-Pew-verslag en daar word breedvoerig gekyk na hoe die groeiende aantal Amerikaners van gemengde agtergrond hul behandeling as gevolg van hul identiteit ervaar. Net 4% voel hul gemengde agtergrond het ’n negatiewe invloed op hul lewe gehad.

Hierdie gemengde groep ervaar identifikasie baie uiteenlopend:

“While multiracial adults share some things in common, they cannot be easily categorized. Their experiences and attitudes differ significantly depending on the races that make up their background and how the world sees them. For example, multiracial adults with a black background – 69% of whom say most people would view them as black or African American – have a set of experiences, attitudes and social interactions that are much more closely aligned with the black community. A different pattern emerges among multiracial Asian adults; biracial white and Asian adults feel more closely connected to whites than to Asians. Among biracial adults who are white and American Indian – the largest group of multiracial adults – ties to their Native American heritage are often faint: Only 22% say they have a lot in common with people in the U.S. who are American Indian, whereas 61% say they have a lot in common with whites.”

Hieruit, meer as uit enige ander oorweging, kan moontlik ook afgelei word hoe verskillend die situasies tussen die VSA en Suid-Afrika is, sonder dat die raakvlakke geringgeskat word.

Die Afro-Amerikaanse akademikus, prof. Thomas Sowell, skryf ook gereeld artikels wat in die Amerikaanse sowel as Suid-Afrikaanse konteks politiek inkorrek is, soos pas weer oor immigrasie. Sowell het arm in Harlem (die Amerikaanse weergawe) grootgeword en homself opgewerk, wat hy as die ideaal beskou hoe ook ander, swart en wit, behoort te maak eerder as om iets of iemand uit die verlede te blameer, op restitusie aan te dring en self nie die arms uit die moue te wil steek nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Pietman ·

Hoofstroommedia is voorspelbaar. Sedert die mid 60’s ervaar Amerika heelwat rasse probleme maar die media probeer hul bes om mense anders te oorreed. Elke kultuur het die reg om te bestaan en elkeen het die reg om sy kultuur te beskerm. Hoekom moet die wit amerikaners uitsien daarna om hul mag en kultuur te verloor?

fanie ·

Die word desegregering is verwarrend. Behoort eerder hersegregering of deïntegrasie te wees.
Kultuur is die kern van ‘n groep en daarom kan ‘n saamgooiery van verskillende kulture , elk met sy eie waardes (godsgiens ingesluit), op die lang duur nie werk nie.

Louw ·

Dit is net propoganda deur die Demokratiese Party om swart en liberale wit stemme te werf!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.