Aan haar geliefde Gerco: ‘Ons wag vir jou’

Gerco en Shereen van Deventer op hul troudag. (Foto: Verskaf)

Soveel om te sê … as sy maar net kon.

“Liefie, ons dink aan jou. Ons bid vir jou en ons probeer hard om jou uit te kry.”

ʼn Uitmergelende vyf jaar en sewe maande wag Shereen van Deventer (39) nou al. Sy wag dat hy huis toe kom; haar geliefde Gerco en “die spil van hul familie” sonder wie hulle moet klaarkom nadat hy in 2017 in Libië ontvoer is.

Byna ses jaar wat hulle oor sy welstand wonder, na hom verlang, oor hom huil, vir hom bid. Sy afwesigheid tasbaar met elke huweliksherdenking, elke verjaardag, elke nuwe mylpaal wat gevier word.

Maar nou, ná al hierdie verlore tyd, is daar uiteindelik hoop – werklike hoop – dat Gerco dalk binnekort uit Mali, waar hy as gyselaar gehou word, huiswaarts mag keer.

“Daar het al so baie positiewe dinge hierdie jaar gebeur. Ná maande wat ons nie ʼn woord van sy gevangenemers gehoor het nie, het ons hierdie jaar al verskeie video’s en inligting oor Gerco ontvang,” vertel Shereen vanuit hul huis op Swellendam in die Wes-Kaap aan Maroela Media.

“Ons is geweldig optimisties.”

Onderhandelings om Gerco, ʼn ervare paramedikus, ovoorwaardelik en sonder ʼn losprys vry te laat het in April weer momentum gekry ná verskeie mislukte pogings wat onder meer deur die Covid 19-pandemie in die wiele gery is.

Mohamed Yehia Dicko, die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers se gyselaarsonderhandelaar in Mali, het egter nou deur bemiddelaars bevestiging van Al-Kaïda ontvang dat hulle Gerco se vrylating oorweeg.

In die jongste videobewys dat hy nog leef, lyk Gerco boonop heelwat beter as in die vorige video’s. Dit is verlede maand uitgereik.

In dié video is Gerco skoon, sy lang baard netjies en sy kop kaalgeskeer. Dit lyk selfs of hy nuwe klere aanhet.

Shereen sê sy moes die video twee keer kyk om aandagtig te luister wat hy sê. Sy is aanvanklik onkant betrap deur die “aantreklike man” op die video wat vir die eerste keer weer soos haar Gerco lyk – die Gerco wat sy onthou en op wie sy haar hart in 2014 verloor het.

Hulle was maar net twee jaar getroud toe Gerco ontvoer is, wat beteken dat hy reeds die grootste deel van hul huwelik “weg” is.

Gerco van Deventer. (Foto: Verskaf)

“Ek mis hom. Selfs die klein dingetjies wat ʼn mens as vanselfsprekend aanvaar – soos om ʼn WhatsApp-boodskap te stuur of te ontvang. Sy plek langs my is leeg. Daar is nie liefdevolle boodskappe op my foon nie, ek kan nie vir hom koffie maak of met hom oor my dag gesels nie.

“Ek mis ons verhouding. Ons het ʼn lekker humorsin gedeel. Hy het my verstaan, my laat lag en my altyd goed laat voel.”

Gerco was ook die broodwinner in hul huwelik en Shereen moes sedertdien baie veranderinge maak om die pot aan die kook te hou. Sy doen haar bes om seker te maak Gerco het “iets om na huis toe te kom” en sy hoop hy weet hulle is “oukei”.

Sy sal ook nie moed opgee nie. Al is dit soms moeilik.

Gerco was boonop en is steeds soos ʼn pa vir Shereen se nou 12-jarige seuntjie wat gereeld vra “wanneer kom Pappa nou huis toe?”. Hy het ook twee kinders uit ʼn vorige verhouding, wat onderskeidelik 15 en 18 jaar oud is. Sy glo Gerco sal baie hartseer wees oor al die mylpale in sy kinders se lewe wat hy intussen misgeloop het.

Shereen sê haar man het ook ʼn baie hegte verhouding met sy familie, onder wie sy bejaarde ouers en twee sussies.

“Dit is vir ons almal baie swaar. Gerco is ons alles en ons is baie lief vir hom. Hy was die een wat die familie bymekaargehou het en toe hy weg is, moes ons self leer hoe om bymekaar te bly.

“Ons geloof is egter nou sterker as ooit en God is ons anker – die punt wat ons bymekaarhou. My skoonfamilie is ook vir my ʼn geweldige voorbeeld. Hulle is so sterk, selfs al het hulle soveel seer.”

Shereen sê almal doen hul bes om met hul lewe aan te gaan en geluk te vind. Dit beteken egter nie hulle aanvaar die situasie of dat dit beter raak nie; jy leer net om daarmee saam te leef.

“Ons moes leer om dit te hanteer. Ons het nie ʼn ander keuse nie. Ek moet ook aan my kind dink. ʼn Mens kan nie net opgee en gaan lê nie.”

‘Onbekende’ bly knaag

Tog spook die onbekende soms by Shereen.

‘n Skermgreep uit die onlangse video van Gerco van Deventer. (Video: Verskaf)

“Dis erg om nie te weet hoe dit met hom gaan nie. Is hy oukei? Behandel hulle hom goed? Kan hy alles hanteer wat met hom gebeur?”

Dit is dan wanneer sy bid. Bid dat God Gerco sal “lei, versterk en beskerm”.

Nou en dan verbeel sy haar hy werk net ver en kan nie dadelik sy foon beantwoord of met haar gesels nie – dit is maar hoe dit gewerk het. Gerco het onder meer in Afghanistan as paramedikus gewerk en hulle was dikwels oor sy veiligheid bekommerd.

“Toe hy die werk as paramedikus in Libië aanvaar het, het ons gedink dit is ʼn baie veiliger opsie. Ons was verlig en hy was opgewonde. Ons het beplan dat hy daarna in Suid-Afrika sou werk omdat hy juis gevoel het dat hy soveel in sy kinders en familie se lewe misloop.

“Ek kon nie glo toe sy werkgewers my bel en sê hy is daar ontvoer nie. Ek het gedog hulle bak my ʼn poets. Dit het ʼn rukkie gevat om in te sink.”

Shereen sê sy en hul familie glo en vertrou egter dat die hele nagmerrie binnekort agter die rug sal wees en dat hulle weer met Gerco herenig sal word.

“Ek voel opgewonde. Ek dink ons almal doen. Dis die oorwegende gevoel. Ja, ek is tog senuweeagtig, want soveel tyd het verloop. ʼn Mens verander oor die jare – jou voorkoms, maar ook jy as mens.”

Soms wonder sy dus oor die Gerco wat ná jare gaan terugkeer. Gaan hy nog dieselfde man wees wat sy onthou?

“Ek wil egter nie te ver vooruit dink nie. Ek soek hom net terug en by die huis. Die res sal ons dag vir dag vat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.