Aansoekstelsel vir Gauteng-skole ‘sal aangepas word’

aanlynregistrasie-2018

‘n Skermskoot van die Gautengse onderwysdepartement se aanlynregistrasiestelsel. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die uitstel van die begindatum vir aanlynaansoeke vir Gautengse skole sal die provinsiale onderwysdepartement hopelik tyd gee om tegniese probleme met die toelatingstelsel uit te stryk.

Só sê Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), nadat die Gautengse onderwysdepartement gister op die nipper ingestem het om die aansoekdatum vir gr.1- en gr. 8-aanlynregistrasies vir 2020 uit te stel.

Aansoeke sou aanvanklik Maandag geopen het, maar dié datum is nou na 20 Mei geskuif.

Dié besluit kom nadat verteenwoordigers van Fedsas gisteroggend met die onderwysdepartement vergader het om probleme en oplossings rakende die provinsie se e-platform vir skoolaansoeke te bespreek.

“Die aansoeke, wat slegs op hierdie platform gedoen kan word, sou aanvanklik op Maandag 13 Mei geopen het. ’n Toetslopie, waarby Fedsas betrokke was, het egter probleme met die struktuur en funksionering van die platform aan die lig gebring,” het Colditz gesê.

Hy verduidelik dat die funksionering van die platform nie tans strook met die bepalings van onder meer die Gautengse toelatingsregulasies, die Grondwet en die norme en standaarde vir taalbeleid nie. “Dit is veral rondom die voedersones van skole waar daar tegniese probleme is wat byvoorbeeld veroorsaak dat al die skole in ’n aansoeker se onmiddellike omgewing nie volledig gelys word nie.”

Colditz sê tydens gisteroggend se vergadering het die departement te kenne gegee dat hy reeds begin het om die probleme soos deur Fedsas uitgewys, reg te stel en het onderneem om die stelsel aan te pas en op te volg met nog ’n toetsfase in samewerking met Fedsas. “Fedsas sal deurentyd hierby betrokke wees om toe te sien dat ouers wel keuses kan uitoefen soos wat deur die toepaslike regsvoorskrifte bepaal word,” sê hy.

Colditz sê sou die probleme nie opgelos word nie en ouers verhoed word om keuses oor aansoeke uit te oefen, is regsaksie nie uitgesluit nie. “Fedsas beskou dit egter as ’n laaste uitweg. Die organisasie het ’n goeie werksverhouding met die Gauteng-onderwysdepartement en ons verkies om as vennote te handel.”

Maroela Media het vroeër berig AfriForum en die Skoleondersteuningsentrum het ook vandeesweek in ʼn brief aan die departement hul kommer oor die aansoekstelsel uitgespreek. Die organisasies het gesê hulle is onder meer bekommerd aangesien die stelsel glad nie voorsiening maak daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders in gr.1 of gr. 8 in 2020 is nie. Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taal van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies as die primêre keuse aangebied.

Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ʼn laerskool in Gauteng geregistreer is, voorkeur moet geniet vir gr.1-plasing by die betrokke skool in 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

B ·

Ek dink nie MM het die storie gedra?
Lesufi is nie meer LUR van Onderwys in Gauteng. Ons moeilikheid het nou hoër opgeskuif, na nasionale vlak. (Minister van Onderwys?)

Jaco Olckers ·

Die hele stelsel moet afgestel word. Dit is net n klug. Hulle wil ons so beheer.

Leonard van der Dussen ·

Chaos. Ons skuld ons kinders beter as dit.

Judge Dredd ·

Die liberale se julle moet samewerkend optree, al beteken dit die afskaf van Afrikaanse moedertaal onderrig.

Renier ·

Stuur mense nog hulle kinders na hierdie indoktrinasie kampe?

Gansie ·

Ek moes 2016 die stelsel gebruik om my kind vir Graad 8 in te skryf vir 2017. Ek bly in Pretoria, die stelsel het vir my skole in Port Elizabeth gegee om van te kies. Na ‘n groot gesukkel is dit reggemaak. En so sukkel hulle elke jaar met die stelsel. Sit die stelsel af en gaan terug na die ou manier, want dit het gewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.