Aartappels, eiers jaag prys van kosmandjie op

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Dean Xavier/Unsplash)

Aartappels word maand op maand duurder en met dié dat eiers veral in Gauteng toenemend skaars word, was inkopies in Oktober selfs nog duurder as in vorige maande.

Die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) wys dat dit gemiddeld R141,81 meer gekos het om inkopies in Oktober te doen as in September.

Dit is veral aartappels, eiers, rys en verskeie soorte groente en vrugte wat die prys van ʼn mandjie kos die hoogte laat inskiet.

In Oktober het die prys van aartappels met 40% gestyg, wat beteken dat ʼn 10 kg sak jou nou naastenby R145 kos. Dit is R40 meer as verlede maand.

Die prys van eiers het ook met 19% gestyg, wat daartoe gelei het dat verbruikers tot meer as R160 vir 60 eiers betaal. Die voortslepende tekort aan eiers is weens die voëlgriep-uitbreking wat boere dwing om lêhenne in groot getalle van kant te maak.

In Oktober het die prys van rys met 5% gestyg, terwyl witsuiker en beesvleis 2% duurder is.

Verskeie soorte groente en vrugte se pryse het ook heelwat gestyg. Lemoene is 13% duurder, tamaties kos 11% meer en appels en botterskorsies het 6% meer in Oktober gekos.

Dit kos nou gemiddeld R5 297,58 om ʼn kosmandjie met net die basiese items te koop. Dit is R140 duurder as in September toe dit R5 155,77 gekos het.

Grafika

Inflasie op kosmandjiepryse per gebied

In Oktober het die prys van ʼn mandjie kos in die meeste digbevolkte gebiede gestyg.

In Johannesburg was dit R258,20 (4,9%) duurder om ʼn mandjie kos te koop as verlede maand. Inkopies in Durban was R170,46 (3,4%) duurder in vergelyking met die vorige maand. Diegene in Kaapstad moes ook R90,25 (1,7%) meer opdok vir hul inkopies.

Oor dieselfde tydperk verlede jaar (Oktober) het die prys van ʼn kosmandjie in al hierdie gebiede ook gestyg.

Huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte

Die indeks vir huishoudelike en persoonlike higiëne-produkte het in Oktober net-net toegeneem en bring die gemiddelde koste van dié items op R999,05 te staan; dit is R2,21 (0,2%) meer vergeleke met die vorige maand.

Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar dié produkte ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Ore ·

Elke item het ‘n waarde vir mens maar as die prys belaglik raak dan bly jy maar daarsonder. Ek dink die winkels buit ons uit, pryse verlaag nooit wanneer brandstofpryse verlaag word nie. Winkels gaan op ‘n stadium met ooraanbod sit. Regtig waar, hoe kan een winkel R5 meer vra as ‘n ander en dit vir dieselfde produk?…bv Cup a Soup.

annie ·

Alweer die aartappelboere… Klokslag elke jaar het hulle ‘n lekker storie vir hul hoë pryse. Hoop hulle dieselfde ramp tref SA dat mense soos destyds in Ierland net aartappels kry om te eet en dan kan hulle duisende rande in hul beursies stop?

Danie ·

Annie, kom hierdie aartappel boer vertel jou iets… ek is die ENIGSTE ou in die ketting om aartappels op jou tafel te sit wat nie kan vra wat hy wil nie, ek moet vat wat ek kry… hoeveel op die mark elke oggend bepaal my prys. Eskom vra sy prys per eenheid, gifsmous vra sy prys, kusmis invoerder vra sy prys, goverment sê hieveel ek my werkers betaal, die mechanic vra sy prys per uur om trekker te herstel, diesel prys hoor ek elke maand, die vervoer maatskappy vra sy prys per kilometer, Maar ek hoor elke oggend by mark wat ek vandag gekry het vir my aartappels wat my R55 per sak kos om te produseer. Sandveld aartappel boere het vir 2 jaar in n ry teen n verlies geboer. Die hoe pryse tans moet nog eers help om daardie skuld te delg. Ek kry maar die helfte van wat jy in winkel betaal. Die hoë inset koste, beurt krag is die oorsaak van die tekort op die mark en te blameer vir die hoë pryse tans. Die middelman is die mense wat die wins maak, nie jou boere nie
Mooi loop

Witbaard ·

Jy weet nie waarvan jy praat nie, annie. Pasop waarvoor jy wens.

Wit Leeu ·

ANNIE, SIT EERDER ‘N WAG VOOR JOU MOND WANT JY HET DUIDELIK NIE ‘N IDEE WAARVAN JY PRAAT NIE !!!!!!!!

Nommer 7 ·

Danie, aartappel boere moet maar saamstaan en hul aartappels op die plaas hou. Laat die kleinhandelaars dit dan op die plaas kom koop, teen die boer se prys.

bolletjie blom ·

Annie, ek dink nie jy is heeltemal goed ingelig nie. Dit is nie die boer wat hierdie prys vra nie. Die boere trek aan die kortste end.

Papsak ·

Ag sit alles sky high want niks gaan weer af kom in SA nie nie solank anc regeer nie

Nommer 7 ·

Dit is nie net kos nie. Een ystersaag lem. “Made in RSA” kos R34,00. ‘n Pak van 3 ystersaag lemme ” Made in France”, kos R32,00

Jeanette ·

Griet ek wens ek het R5297.58 gehad vir ‘n vol mandjie kos. Ons kan wegkom met net so onder die R2000 en glo my dis net wat rerig nodig is. En ek stem elke keer wanneer die brandstof opgaan en jy kom weer in die winkels is die produkte met nog R2, R5 OF self R10 op. Maar sodra die prys van brandstof afgaan bly die pryse dieselfde. Dit is nie regverdig teenoor ons land se mense nie, ons moet maar net bly betaal en betaal. Skande soos ons uitgebuit word.

Danie ·

Om pryse op te jaag is een ding maar om heeltemal op n heksejag te gaan en pryse met meer as 100% op te jaag is n ander ding. Dit is totaal gekkigheid en die verbruikers raad moet hier inklim en se genoeg is genoeg. Jan publiek word nou uitgebuit terwille van winsjagters,

Daisy ·

Dit is erg as twee winkels (OK), wat 30 kilometer uitmekaar is, verskillende pryse vra vir presies dieselfde produk.
Ondeer andere – OK Villiers vra tot R10 meer vir vrugtesap as OK in Frankfort.
Dieselfde met sampioene – ons het R37 in Frankfort betaal vir 4 groot sampioene, maar in Villiers kan jy tot R53 betaal vir presies dieselfde sampioene. Ons ry eerder die 30 kilometer Frankfort toe as ons ‘n klompie goed nodig het, anders ry ons Heidelberg toe en koop kruideniersware vir twee maande. In Villiers kan mens in elk geval glad nie vleis koop nie.

Nico ·

Die groot probleem is die supermarkte en die produsente wat elke dag sien hoe die mens honger ly, goed en wel alles word duurder, daar is baie besighede wat net wil skep ten koste van ander.

Vinny ·

My vraag is, hoekom word kos dadelik duurder wanneer die petro prys styg, maar wanneer die prys van petrol afkom, kom kospryse nie af nie, mens kan nie meer voorbly nie.

Truman Burbank ·

In die vroeë 90’s, my weermag dae moes ons sente omdraai. Toe het ek vir jare gelewe van die destydse Toppers Soya mince. Een maal per week hoender, want dit was toe goedkoop. En vrydag aande tuna slaai. Verder, toebroodjies met soy en tamatie. En trek maar julle neuse op. Want een op ander tyd gaan jul moet kies tussen drank en vleis. Dankbaar ek was nooit in my lewe n drinker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.