Aktiviste wil bobbejaan wat Kaapstad teister, bevry

(Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

ʼn Groep aktiviste wil ʼn bobbejaan bevry ná hy gevang en hervestig is vir die plundery van ʼn reeks voorstedelike huise in Kaapstad.

Die bobbejaan, genaamd Kataza, is een van ʼn paar honderd bobbejane wat in dié stad woon en gereeld eiendomme plunder op soek na kos.

Kataza was in die kusdorp Kommetjie, op die suidelike skiereiland van Kaapstad, bedrywig toe hy gevang is. Veldwagters het hom na die nabygeleë gebied van Tokai verplaas in die hoop dat sy streke sou end kry.

Aktiviste wil egter hê dat die owerhede Kataza terugvat Kommetjie toe sodat hy met sy voormalige Slangkop-trop herenig kan word.

Jenni Trethowan, bestuurder van Baboons Matter, ʼn bewaringsorganisasies in Kaapstad wat maniere soek vir mense en bobbejane om vreedsaam saam te bestaan, sê dat Kataza onregverdiglik uitgesonder is.

“Hy is nie slegter as enige van die ander bobbejane nie.”

Kataza eet kos wat weggegooi is. (Foto: Nardus Engelbrecht, AP)

Kaapse owerhede sê egter dat hulle boekhou van al die bobbejane se oortredings en dat Kataza sʼn veral omvangryk is. Hy is sedert April dopgehou toe hy op vyf huise toegeslaan het, maar is uiteindelik gevang toe hy sy trop op 15 strooptogte deur Kommetjie in Julie en Augustus gelei het.

Trethowan sê sy hou Kataza se bewegings dop sedert sy hervestiging. Volgens haar het hy nog nie heeltemal by die Zwaanswyk-trop in Tokai geïntegreer nie en is hy geïsoleer en depressief.

“Kataza het nou al ʼn roetine om hom te help aanpas by hierdie nuwe omgewing. Hy bring 30 tot 60 minute van sy dag naby die Tokai-bobbejane deur en het ʼn paar keer van die jonger bobbejane toegelaat om hom te nader.

“Hy is egter meestal bedags alleen en in die strate van Tokai. In die aand slaap hy in die tuin van ʼn plaaslike gevangenis. Hy klim oor die gevangenismuur, of stap net deur die hek.”

Trethowan hoop die stad sal ophou om bobbejane te blameer vir dit wat hulle doen, en eerder maatreëls instel om die probleem te verlig soos om bobbejaanbestande asblikke in die omgewing te plaas.

“Bobbejane word gebrandmerk vir dinge wat bobbejane normaalweg doen,” sê sy. “Hulle is net opportuniste.”

Kataza se verhaal is die jongste in Kaapstad se voortdurende dilemma oor hoe om met die bobbejane om te gaan. Volgens kenners is daar ongeveer 15 troppe in die Kaapstad-omgewing wat altesaam uit 500 bobbejane bestaan. Natuurbewaarders moet dikwels bobbejane met verfbalgewere uit woonbuurte jaag en as hulle voortdurend lastig is, word hulle soms van kant gemaak.

Kataza het onlangs hierdie lot vrygespring toe die Kaap van Goeie Hoop DBV ingespring en sy hervestiging voorgestel het.

ʼn Sosialemediaveldtog met die hutsmerk #BringBackKataza is intussen geskep om mense bewus te maak van Kataza se situasie.

ʼn Sosialemediagebruiker het haar kommer oor Kataza se welstand uitgespreek. “Dit is ontstellend om te sien hoe Kataza voortdurend aan daardie aaklige moniteringsband krap wat hulle vir hom aangesit het. Het owerhede hom nie genoeg emosionele en fisieke swaarkry laat ondergaan nie?”

Lede van die gemeenskap help Kataza om daagliks die besige paaie oor te steek. “Dis danksy hierdie wonderlike span mense dat Kataza nog lewend is,” skryf Baboons Matter in ʼn Facebook-plasing.

ʼn Veldtog is begin om Kataza met sy trop te herenig en ʼn versoekskrif in dié verband is reeds meer as 22 000 keer onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vrijburger ·

Ag nee rerig – kan die mense nie ‘n sinvolle aksie kry om hul tyd mee te verwyl nie. (Lees toevallig vandag van die hongersnood in die Oos-Kaap tans as voorbeeld.)

Zombie ·

Wat is jou sinvolle hulp, aangaande hongersnoodverligting? Of dan enige ander projek wat jy as sinvol klassifiseer?

Cherokee ·

Kataza moet weer ‘n Vrijburger in Kommetjie wees en die Vryheid van die Stad toegeken word.

Sarel ·

Jammer vir die mense wat hom wil hervestig. Jule behoor te weet jy gaan hom dood treur oor sy trop. Jammer ook vit julle wat hom wil terug neem. Hy het sy status verloor en dit gaan van hom ‘n uitgeworpene maak en hy gaan sy dae in eensasmheid moet deurbring.

Rudolph ·

Die bobbejane was duisende jare voor die mense wat nou in die kaap woon daat gewees. Hulle het net soveel reg om daar tr wees soos die mense. Aanvaar dit en maak dan planne om dit vir albei spesies moontlik te maak om met die minst impak op mekaar voort te bestaan.

Carl ·

Nou waarom neem die akiviste nie die trop in hulle eie tuine in nie. Bou net eers hoë mure om die bure te beskerm. Na n tyd sal julle dalk self keelvol raak.

Belinda ·

Diere was eerste hier, en hulle beskadig nie die aarde nie. Die wereld kan doen met minder mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.