‘ANC het SA tot bankrotskap regeer,’ sê opposisie

Minister Enoch Godongwana het die mediumtermyn-begrotingsraamwerk bekend gemaak. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die bekendmaking van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) het volgens opposisiepartye onderstreep dat die ANC Suid-Afrika tot bankrotskap regeer het, en nou skarrel om dit reg te stel deur die las op Jan Burger te plaas.

“Staatskuld is ʼn wegholtrein, munisipaliteite en staatsondernemings se skuldlas raak onhoudbaar en die staat se salarisrekening is totaal buite beheer weens die druk van vakbonde en ʼn opgeblase staatsdiens,” sê Wouter Wessels, woordvoerder van finansies vir die VF Plus.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdagmiddag die MTBR bekend gemaak en daarmee saam uitgewys dat die staatskas al hoe leër raak.

Staatskuld beloop R5,2 biljoen en die finansieringskoste, of rente van dié skuld, beloop sowat R385,9 miljard. Dit is meer as die jaarlikse begroting vir die polisie, die onderwys of gesondheidsektor.

Wessels sê die omvang van die staat se skuldprobleem word ten beste geïllustreer deur die feit dat vir elke R5 belasting wat ingewin word, gaan R1 aan die finansiering van die skuld.

Die DA sê die gevolg van stadige ekonomiese groei en die “onverantwoordelike oorname van staatsinstelling en munisipale skuld aan Eskom” het die minister genoop om nog lenings aan te gaan wat die stabilisering van skuld net verder vertraag.

‘Geen vordering, slegs agteruitgang’

Die amptelike opposisieparty sê die MTBR het dit duidelik aan hom gestel dat die regering geen doeltreffende plan het om ekonomiese groei aan te wakker, die voortslepende kragkrisis op te los, skuld te stabiliseer of kwesbare Suid-Afrikaners te ondersteun terwyl hy korrupsie beveg nie.

“Die trae ekonomiese groei sal na verwagting voortduur met die gevolg dat die regering ʼn kleiner inkomste sal invorder,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder van finansies.

“Die regering was dus gedwing om koste wat met dienslewering en maatskaplike dienste verband hou, te sny. Dit beteken dat departemente se begrotings verder gesny moet word as die regering wil voorkom dat sy geld opraak.”

Die VF Plus sê daar moes eerder op onnodige uitgawes besnoei word, soos amptenare se beskermingsdienste en oorsese reise vir die uitvoerende gesag.

ActionSA sê dit is opvallend dat Godongwana nie eens genoem het dat die wanbestuur van openbare geld en die plundering van die staatskas die hoofredes is waarom die land se ekonomie nie vooruitgaan nie.

“Suid-Afrika het nie ʼn finansieringsprobleem nie, maar kry eenvoudig nie genoeg opbrengs op die geld wat hy tans bestee nie,” sê Herman Mashaba, president van ActionSA.

“Die ongelooflik moeilike finansiële situasie waarin die land hom bevind, is ʼn produk van die skadelike nalatenskap van pres. Cyril Ramaphosa en die regerende party. Ramaphosa en die regerende party moet dus nie weer probeer om die las op Suid-Afrika se mense te plaas – soos hy probeer doen – wat reeds oorval word deur die lewenskostekrisis nie.”

Die DA sê die regering het Woensdag bewys dat hy “bloot nie omgee oor die lot van sukkelende Suid-Afrikaanse huishoudings wat nie genoeg kos op hul tafels kan sit nie”.

“Daar was geen sprake van die sogenaamde voedselsekerheidsplan om verbruikers te beskerm teen die stygings van voedselpryse nie,” sê George.

“Die minister kon baie maklik die lys van kosse waarop geen BTW gehef word nie, uitgebrei het om onmiddellike verligting vir Suid-Afrikaanse huishoudings te bring. Hy kon ook die belasting en heffings op brandstof verminder het wat verdere verligting sou bring.

“Hierdie MTBR wys nie op enige dapper optrede deur die regering nie en slaag nie daarin om die dringende ekonomiese krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar, die hoof te bied nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johan Botha ·

Dié mense se rekenkundige vermoëns strek net tot by ‘n duisend miljoen (miljard) oftewel 1000 000 000. ‘n Biljoen is miljoen miljoen. 1000 000 000 000 (Bi- million)

Johann ·

Wonder wat kos die foto se laggende groep kaders ons elke maand? Net die klomp se salarisse en by voordele elke maand is om van siek te raak.

Johann ·

Al wat die ANC gebou en onderhou het is die vreet krippe wat hulle self leeg dra.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daai klomp in die foto lyk gelukkig en sonder sorge. Dalk weet hulle iets wat die res van ons mis.

Hannes ·

En steeds stap hulle vreeslik trots rond terwyl ons land finansieel duik. As ons geld kort dan druk ons nog note. (Ek byt my tong om nie verder iets te sê nie)

Isobel ·

Dit sien ons orals. Ons is in bankrotskap in geregeer en hulle loop met pouvere van trots rond. Lyk asof daar geen bekommernis is nie. Ons lei onder dit. Moet nie bekommer nie hulle stel gou nog n belasting op iets in vir ons om te betaal.

Chris ·

Vergelyk ‘n land met ‘n maatskapy, en die geldeenheid se waarde met aandeelwaarde. Goeie bestuur van ‘n maatskapy laat die waarde van sy aandele styg agv vertroue – slegte bestuur en besluite laat dit weer tuimel. SA sit met ‘n ongelooflike hoeveelheid bronne om ‘n sukses daarvan te maak, maar die bestuur is korrup, en die Rand-waarde is aanduidend op die gebrek aan vertroue. Dit skep die geleentheid vir buitelandse plundering tot nadeel van die burgers. Komoditeite word verkoop in US$ en salarise betaal in Rand – hoe slegter die rand hoe hoer die winste.

Republikein in die Wes Kaap ·

En politici is ook eienaars van junior myngroepe. Maak goed geld. Selfs Ramaphosa verkoop sy buffels in USDs.

Marius ·

Weereens is dit 7% wat moet sorg vir die 93% van die land , en dan word die 7% nog verder getap.

Prikkie ·

“Die bekendmaking van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) het volgens opposisiepartye onderstreep dat die ANC Suid-Afrika tot bankrotskap regeer het, en nou skarrel om dit reg te stel deur die las op Jan Burger te plaas.” – AMEN!

TO ·

O ja dis verseker so, maar hoe word dit reggemaak want dit gaan nie in ‘n dag gebeur

hpven ·

Ja die ANC het Suid Afrika tot bankrotskap regeer in die teenwoordigheid van al die opposisie partye! Die opposisie partye was daar, in die parlement, en kon of het dit nie verhoed!
Nou is die vraag, hoe gaan julle dit stop as julle die afgelope 29 jaar dit tot nie kon of wou stop nie? Ons gaan weer in lang rye staan om vir julle te stem, wat gaan hierdie keer verander sodat ons nie oor 5 jaar weer tot vervelens dieselfde storie hoor nie?

Jakes ·

Dit was sedert 1994 al duidelik dat die ANC nooit in staat sou wees om n land ordentlik te regeer nie. Dit is ook n feit dat die nodige vernuf en breinkrag ontbreek. Dit is so eenvoudig soos dit. As enige persoon my anders kan ooreed dan beteken dit dat ek blind en kranksinnig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.