Ashley se ma bly nou in Thailand

Ashley Oosthuizen en haar ma, Lynn Blignaut. (Foto: Verskaf)

’n Mens hoor dikwels dat ’n ma se liefde geen perke ken nie.

Toe Lynn Blignaut dus hoor dat fisieke familiebesoeke uiteindelik toegelaat word by die Thaise tronk waar haar dogter, Ashley Oosthuizen, 33 jaar tronkstraf uitdien, was die volgende stap duidelik: Sy sal haar tasse moet pak en vir so lank moontlik in Thailand gaan bly. Selfs al kan ma en dogter mekaar net twee keer ’n week vir 15 minute deur ’n glasafskorting sien.

Dié vertrek by die Nakhon Si Thammarat Sentraal-gevangenis in die suide van Thailand is ongeveer 2,5 m breed en sowat 6 m lank. Blignaut en Oosthuizen mag ook nie aan mekaar raak nie.

Nietemin kon hulle mekaar vir die eerste keer in amper drie jaar sien.

Blignaut het Vrydag aan Maroela Media gesê sy het ook geweet dat dit vir Oosthuizen (23) die wêreld sal beteken om te weet haar ma is naby. Die feit dat Blignaut in Thailand is, maak dit boonop makliker om Oosthuizen met haar saak by te staan.

Ashley Oosthuizen en haar ma, Lynn Blignaut. (Foto: Verskaf)

’n Thaise tronk het Oosthuizen se lewenslange vonnis op 17 Augustus na 33 jaar verminder nadat Oosthuizen teen haar skuldigbevinding en lewenslange tronkstraf vir internasionale dwelmhandel geappelleer het. Die jong vrou en haar familie, wat onomwonde in haar onskuld glo, was hoopvol dat haar appèl sou slaag en dat Oosthuizen na Suid-Afrika sou kon terugkeer. Sy beplan om ook nou teen dié uitspraak te appelleer, maar dis glo ’n lang proses wat tot ’n jaar kan neem.

Blignaut is sedert Julie in dié Oosterse land, toe sy haar kind vir die eerste keer sedert 2019 van aangesig tot aangesig gesien het.

“Dit was ’n baie emosionele, vreugdevolle en dankbare herontmoeting,” het Blignaut gesê.

Blignaut se toeristevisum verval op 18 November nadat sy ’n 60 dae lange verlenging gekry het. Sy is nog nie seker wat sy daarna gaan doen nie, maar beplan om vir so lank moontlik aan te bly, of gou weer terug te keer indien sy nie dadelik ’n verdere verlenging kan kry nie.

Blignaut laat dit egter in die Here se hande en sê sy glo dat Hy die regte deure sal oopmaak.

Sy en Oosthuizen open ook elke besoek met gebed, en gesels dan oor allerlei dinge soos familie, hoe dit met Oosthuizen gaan en natuurlik die saak.

“Dit moet verskriklik wees vir haar. Alleenlik met ons Hemelse Vader se genade kan en gaan sy deur hierdie omstandighede kom. Daarom kan sy steeds lag en hoopvol wees en ander bystaan wat saam met haar [in die tronk] is,” het Blignaut gesê.

Ashley Oosthuizen. (Foto: Facebook / A voice for Ashley Oosthuizen)

“Uit die aard van die saak het sy, soos ons almal, geglo dat ek en sy ná die appѐluitspraak op ’n vliegtuig kan klim en huis toe gaan. Die dag in die hof het sy natuurlik alles verstaan wat gesê is, voordat dit aan my oorgetolk is. Dit was verskriklik om te sien hoe loop ’n traan uit haar regteroog terwyl sy probeer sterk bly. Natuurlik was en is dit steeds emosioneel, maar met die krag van Bo staan sy op en is weereens positief en gefokus.”

Maroela Media het vroeër berig dat Oosthuizen al vlot kan Thai lees, praat en skryf. Sy werk ook in die tronk se biblioteek en bied Cha Cha-klasse aan.

Struikelblokke in vreemde land

Blignaut sê die grootste uitdagings met haar dogter se saak is onder meer om die regte regspersoon in Thailand te vind. Dit was veral aan die begin uiters moeilik omdat hulle geen kennis gehad het van die gebied of hoe dinge in Thailand werk nie. Die taaluitdaging bly ook steeds ’n struikelblok, asook die slakkepas waarteen die regsproses in Thailand beweeg.

Dit is ook vir Blignaut moeilik om haar kind in dié situasie te sien, en sy sê dat sy dit vir niemand toewens nie. Sy glo egter dat die moeilike omstandighede waarin hulle nou is, hulle nader aan die Here bring.

Dit gaan ook beter met Ashley vandat Blignaut in Thailand is, al het dit ook met opofferings van haar eie gekom.

As tuisversorger moes Blignaut haar pasiënte in Suid-Afrika vir eers agterlaat en aan iemand anders toevertrou. Hoewel dit vir haar moeilik was, het sy vrede in haar hart. Nie net omdat sy ’n wonderlike ondersteuningsraamwerk het nie, maar ook omdat sy al haar bekommernisse voor die Here se voete neergelê het.

Sy hoop om ook in Thailand werk in ’n versorgingsrigting te kry sodat sy ’n inkomste kan verdien terwyl sy daar is. Sy wil ook so na moontlik aan die tronk bly.

Blignaut vertel sy het vir die eerste twee maande in ’n klein 2 x 2 m-bamboeshut gebly, maar huur nou ’n kamer waar sy haar eie badkamer het.

“Net genade”

Ashley Oosthuizen. (Foto: Facebook)

Deur alles bly die familie hoopvol, en probeer hulle sover moontlik nie teen die verlede vaskyk nie – selfs wanneer knaende “wat as-vrae” en verwyte opduik.

“Deur genade is ons ’n positiewe familie en maak ons die beste van enige situasie waarin ons onsself bevind. Weereens: Genade alleen, niks uit onsself nie.

“Daardeur bemoedig ons mekaar dan ook dat ons ’n lewende, almagtige God dien en dat Hy ons liefhet, ons nooit sal verlaat en nooit in die steek sal laat nie. Sonder Hom is ons niks.”

Blignaut sê dit hou Oosthuizen verder staande om te weet dat mense vir haar bid en aanhou veg.

Indien nog mense vir Oosthuizen wil bid, kan hulle vir Goddelike wysheid en leiding vir Oosthuizen, haar familie en regspan vra, asook krag vir Oosthuizen om deur elke dag te kom en “op Jesus gefokus te bly”, sê Blignaut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie hartseer maar miskien moet so iets gebeur om ander kinders wat aan so iets dink om 2 keer te dink voor hulle so iets aanvang.

Treurwilger ·

Sover bekend het die arme kind niks erger “aangevang” as om ontvangs te teken vir ‘n poskantoorpakkie gerig aan die vorige eienaar van haar werksplek nie?

Realis Thailand ·

Ek kry die vrou bitter jammer. Haar dogter het fouteer en nou sukkel sy ook maar
Sy moet maar n “Visa run” na Malaysia doen en so die visa probleem oorkom.
Ek hoop sy kry werk maar dit gaan maar moeilik gaan daar sekere werke net vir Thais gereserveer is. Ek wens ek kon haar help of raad gee maar ek het self nie raad vir haar nie al woon ek al nege jaar in die land.
Tuis verpleging is nie baie bekend in Thailand aangesien die meest familie na hulle eie familie omsien
Miskien onder die Expats in die omgewing maar die salaris is baie laag so ongeveer R4500 per maand
Mag sy vrede en rus vind in die Land of Smiles

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.