Atul, Rajesh Gupta steeds agter tralies

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul en Rajesh Gupta het al verskeie kere in Verenigde Arabiese Emirate (VAE) om borgtog aansoek gedoen sedert hulle vroeg Junie in Dubai in boeie geslaan is. ’n Hof het egter elkeen van dié aansoeke geweier.

“Ons het die formele bevestiging deur die VAE se regering en owerhede ontvang dat die twee Gupta-broers in hul selle is,” het Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, vandeesweek in die Nasionale Vergadering bevestig.

Lamola moes Woensdag tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie verantwoording doen oor die uitleweringsproses.

“Die uitleweringsverrigtinge is in die hierdie stadium steeds aan die gang in die VAE, en dus sub judice. Die departement van justisie is op ʼn deurlopende basis in gesprek met die owerhede in die VAE,” het die minister LP’s verseker.

Lamola het ook sy versekering gegee dat Suid-Afrikaanse owerhede, waaronder wetstoepassingsowerhede en amptenare van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), na die VAE gereis het om persoonlik die formele aansoek om uitlewering in te dien.

Dié aansoek is ingevolge die verdrag wat hy in 2019 met die VAE onderteken het binne 60 dae ingedien en word tans oorweeg, het Lamola ook verseker. “Ons glo dat die voortgesette gesprekke ons in staat sal stel om uiteindelik ’n oplossing te vind in terme van die uitleweringsproses.”

Ronald Lamola. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Steve Swart, ACDP-LP, het dit toe aan Lamola gestel dat die proses in die hande van die owerhede in Dubai is en dat dit moontlik maande of selfs jare kan neem voordat die broers aan Suid-Afrika uitgelewer kan word.

“Inderdaad, meneer Swart. Uitlewering kan uiteraard ’n uitgerekte regsproses wees,” was Lamola se antwoord daarop.

“Maar ons het vertroue in die proses, want ons het ons owerhede gestuur om van tyd tot tyd met die VAE in gesprek te tree. Hulle volg op en ons hou die prosesse in die hof dop.

“Ons gee hulle hul tyd en ons hoop dat hulle spoedig die saak sal afhandel.” Die minister het verduidelik dat die uitleweringsproses anders as in ander jurisdiksies in die wêreld in die VAE “amper ʼn administratiewe proses” is.

“Dit kan help om die proses te bespoedig,” meen hy.

Atul en Rajesh Gupta word daarvan beskuldig dat hulle die sentrale figure in die staatskaping van talle van Suid-Afrika se staatsdepartemente was. Hulle het in 2018 landuit gevlug nadat die Zondo-kommissie sy ondersoekwerk na die grootskaalse bewerings van korrupsie begin het.

Kenners het egter reeds kort ná die broers se inhegtenisneming in Dubai gewaarsku dat dit na verwagting jare sal neem voordat Atul en Rajesh Gupta hul voete in Suid-Afrika sal sit om op tuisbodem pa te staan vir hul beweerde aandeel in staatskaping.

Lees hier meer oor die uitleweringsproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Witbaard ·

Hou hulle solank as moontlik in die UAE. Die oomblik as hulle uitgelewer word, kry hulle parool en dan begin die Zuma vetragings speletjie.

MK123 ·

Ek stem, Witbaard. In SA is mense “onskuldig” totdat hulle skuldig bewys word, so die beskuldigde speel vir tyd. Hier in die VAE is dit anders om want mens is “skuldig” en dan moet jy jou onskuld bewys, so die owerhede het geen haas om mense vinnig vry te laat op borg net sodat hulle aan die stuur van die verhoor kan wees en dit uitrek nie.

Dries ·

Binnekort sal daar n oorverdowende stilte oor die saak op SA losgelaat word. Tensy Afriforum hierdie saak bly roer. Die ANC weet as die Guptas ooit hier uitkom sal die dinge wat by die Zondo kommisie uitgekom het soos n kindergarten lyk

Manie ·

Jy is reg Dries, die korruptes wat met hulle saamgewerk het se broeke bewe en sal alles in hul vermoë doen om hulle nie hier te kry nie. Ek sal nie verbaas wees as die ANC direk hieruit voordeel getrek het nie.

Dries ·

Ja Manie ek is darvan doodseker hulle het baie miljoene self gekry. Dit het by die Zindo kommisie dan so uitgekom.

007 ·

Al die reëls en regulasies dan kom hulle Piesangrepubliek toe en kry R5000 borg elk. Dan gaan die hofsaak 20jr aangaan soos Zuma se wapen korrupsie saak. Los hulle daar in die tronk. Ek is seker hulle lewe nie baie lekker daar nie.

ES ·

Daardie twee mans lewe in weelde in VAE. As hulle een dag in die selle spandeer het eet ek my skoene op.

MK123 ·

Hulle het dalk in weelde geleef voor hulle arrestasie, maar die regssisteem hier in VAE week heeltemal anders as in SA. As die polisie jou arresteer dan gaan jy dadelik tronk toe en jy word geag “skuldig” te wees en dan moet jy jou onskuld in die verhoor bewys, en dan kan jy vrygelaat word. Dit kan maande neem. Geen goedkoop borg of sulke stories nie. Dis hoekom mense hier so wetsgehoorsaam is, want hulle weet jy gaan reguit tronk toe as jy gevang word die wet oortree.

Vettiemaragartos ·

Kan ‘n Expat in die VAE groot asseblief vir ons ‘n foto gaan neem van die 2 apies agter trallies?

Chris dupreez ·

Is dit n politikus se waarheid of die regte waarheid

Dries ·

Daai twee het my ook beroof van n half miljoen blatant. Groot skelms die Guptas

Rudi ·

Ek wonder of hulle regtig in die tronk is. Iemand moet gaan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.