Bain & Co. ‘stem nie saam’ met tenderverbod

(Argieffoto)

Die internasionale konsultasiefirma Bain & Co. sê hy “betreur” die foute wat hy gemaak het in die verkryging en uitvoering van ʼn kontrak met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), maar hy stem nie saam met die nasionale tesourie se besluit om hom te verbied om enige kontrakte met die staat aan te gaan nie.

Die tesourie het die verbod van September vanjaar tot September 2032 ingestel. Op sy databasis van beperkte diensverskaffers, word die rede vir die beperking aangedui as “betrokkenheid by korrupte en bedrieglike praktyke in mededinging” vir ʼn kontrak met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Die Britse regering het die maatskappy verlede maand ook verbied om drie jaar lank vir enige regeringskontrakte te tender nadat sy rol in staatskaping in Suid-Afrika aan die lig gekom het.

Bain sê in reaksie hy is verleë oor en kwaad dat sy werk deur ander gebruik is om ʼn kritieke instelling en die land in die geheel, skade te berokken.

“Ons het dit erken en ʼn openbare verskoning aangeteken vir die foute wat gemaak is. Ons aanvaar dat daar gevolge vir daardie foute moet wees.”

Die firma het tussen 2015 en 2017 werk vir die SAID gedoen.

Bain sê hy het sedertdien alle gelde met rente aan die SAID terugbetaal en het sedert 2019 nog nie weer getender vir enige staatskontrakte nie. Die maatskappy het ook nie beplan om dit in die toekoms te doen nie.

“Ons stem nie saam met die verbod nie en oorweeg ons opsies rakende die besluit. Ons was reeds in verbinding met verskeie rolspelers, onder wie die tesourie en die SAID, om verdere gesprekke te voer. Ten spyte hiervan het ons geen kennisgewing of geleentheid gekry om voor die inwerkingstelling van die beperking te reageer nie,” lui ʼn verklaring van die maatskappy.

Bain hou vol dat daar geen bewyse is dat hy met die SAID saamgespan het of by enige korrupte of bedrieglike praktyke betrokke was nie. Hy sê ook hy kon geen bewyse vind – en geen bewyse is voorgelê nie – dat Bain die verkrygingsproses op enige manier gemanipuleer het om ander bieërs te benadeel of Bain spesifiek te bevoordeel nie.

“Die proses is in die geheel deur die SAID bestuur.”

Volgens die maatskappy het hy aan ʼn mededingende tenderproses deelgeneem en is die kontrak in 2015 aan hom toegestaan.

“Die nuwe Bain Suid-Afrika-leierskap is vasbeslote om te verseker dat die gebeure van die verlede nooit weer herhaal word nie. In ooreenstemming met die openbare verbintenis wat ons gemaak het in ons onlangse versoek vir konstruktiewe dialoog, gaan ons voort om uit te reik na sleutelrolspelers en om eerlik en openlik aan ʼn pad vorentoe te werk.

“Dit sluit in om te doen wat nodig is om ons status by die Suid-Afrikaanse regering en ander aandeelhouers mettertyd te herstel en om ten goede in die land te werk.”

News24 het Vrydag berig e-posse wat deel vorm van die sogenaamde #GuptaLeaks, wys dat Bain & Co. tevrede was om sy verhouding met Trillian, ʼn maatskappy met Gupta-bande, as ʼn “informele vennootskap” te bestempel.

Die e-posse is strydig met Bain se vorige versekerings dat hy geen werk vir enigiemand in die Guptas se binnekring gedoen het nie en Trillian se aanbiedinge van die hand gewys het.

Luidens die berig wys die e-posse tussen werkers van Trillian en Bain, wat tussen Oktober 2015 en April 2017 gestuur is, dat werkers konsepte gedeel het, moontlike projekte bespreek het en oorweeg het om werk tussen hulle te verdeel. Die besprekings het nie tot enige uiteindelike werk gelei nie.

News24 berig ook dat die korrespondensie wys dat Bain se voormalige hoof in Suid-Afrika, Vittorio Massone, herhaaldelik met Eric Wood, Trillian se uitvoerende hoof, sowel as ander senior Trillian-werkers vergader het.

Wood is in Mei vanjaar in hegtenis geneem en is tans op borgtog.

Wood, ʼn voormalige aandeelhouer van Regiments Capital wat Trillian later op die been help bring het, word vervolg in verband met ʼn omstrede kontrak by Transnet wat destyds gelei het tot die verkryging van meer as ʼn duisend lokomotiewe ten bedrae van sowat R54 miljard.

Trillian en Regiments word nou verbind met die Guptas en het sentraal gestaan in die plan om miljarde rande uit Suid-Afrika se staatsbeheerde ondernemings te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nie Verbaas ·

Julle het geen berou gehad terwyl julle besig was om te skep nie. Kry vir julle.

Danie ·

So tipies SA kaders mentaliteit het mos niks verkeerd gedoen nie.Dit is soos die boef wat weet die polisie soek hom en as hy hulle sien dan kyk hy weg dan sien hulle hom nie.

pompies ·

Julle is nou jammer maar toe julle geskep het was die saak reg. Kry vir julle want almal wat uit Brattanje kom veroorsaak groot probleme in ons land, julle moes nooit hier gewerk het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.