Beloning verhoog ná jong pa se moord op N4  

Juandré Kidson was gek oor sy dogtertjie, Annabelle. (Foto: Verskaf)

ʼn Beloning van R100 000 word uitgeloof vir enige inligting wat kan help om Juandré Kidson, die jong pa wat in Mei verlede jaar koelbloedig op die N4 buite Brits in Noordwes doodgeskiet is, se moordenaars op te spoor en suksesvol te vervolg.

Kidson (29) is destyds ten aanskoue van sy vrou, Johanette, en hul dogtertjie, Annabelle (toe een), doodgeskiet terwyl hy besig was om die band van hul voertuig om te ruil. Die gesin het op dié snelweg gery toe hulle oor klippe gery het wat vermoedelik opsetlik in die pad geplaas is.

Byna ʼn jaar later sukkel Kidson se geliefdes steeds om die stukke van hul lewens op te tel, veral omdat daar oënskynlik geen vordering met die saak is nie en hulle in September verlede jaar laas enige terugvoer van die polisie ontvang het. ʼn Beloning van R90 000 is destyds uitgeloof en nou danksy weldoeners met R10 000 opgestoot. Die familie oorweeg ook om ʼn private speurder aan te stel.

“Ons het nog geen antwoorde of terugvoering van enige aard van die polisie ontvang nie. My boodskappe en oproepe bly onbeantwoord en by die [polisie-]stasie kom ʼn mens nie deur nie,” het Johanette Woensdag aan Maroela Media gesê.

“Die beloning is spesifiek vir die suksesvolle vervolging van die skuldiges. Dit help veel verdagtes word in hegtenis geneem en dan net weer vrygelaat.”

Juandré en Johanette Kidson. (Foto: Verskaf)

Kidson se broer, Marco, sê intussen duur misdaadvoorvalle op die N4-snelweg voort, insluitend ysterpenne wat gereeld deur boosdoeners in die pad geplaas word om lokvalle vir onskuldige motoriste te stel.

Hy sê die familie hoop deur die saak weer in die kollig te plaas kan daar dalk vordering wees.

“Ons kry net nie antwoorde nie. Dit voel nie vir ons reg nie.”

Marco sê hy moes van ʼn verslaggewer by News24 verneem dat ʼn verdagte in verband met hierdie sogenaamde ysterpenvoorvalle (“spiking”) in hegtenis geneem is, en dat dié nuusinstansie bevestiging by die polisie gekry het dat ʼn moontlike verbintenis met Kidson se moord glo ook ondersoek word.

Maroela Media het vroeër berig dat die verdagte, wat vermoedelik deel van ʼn bende is, verlede Woensdag vasgetrek is toe hy en sy makkers ʼn motoris naby die Brits-tolhek beroof het.

Of die 23-jarige verdagte wel ook vir Kidson se moord ondersoek word, weet die familie nie. Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gestuur en wag tans nog op terugvoer.

Seer nog ‘rou’

Juandré en Johanette Kidson by hul dogtertjie, Annabelle. (Foto: Verskaf)

Marco sê hul familie is nog “rou en stukkend” ná sy broer se dood.

“Dis baie moeilik, veral omdat ons geen antwoorde kry nie. Almal vat dit maar dag vir dag.”

Vir Johanette is die verlange dikwels nog oorweldigend.

“Die verlange na my man is onbeskryflik diep. Verlange na ons lewe saam, om sy stem te hoor wat my roep of om sy hande om my te voel.

“Mense sê dit word beter met tyd, maar ek kan dit nog nie glo of verstaan nie want my hart word seerder omdat die werklikheid dat dit finaal is, stelselmatig inskop.”

Johanette sê elke dag sonder Kidson bring nuwe uitdagings. Hy is nie meer daar om hul gesin te lei of te help nie, en is boonop van die voorreg ontneem om hul kind te sien grootword.

“Dis regtig asof ’n hele helfte van my weg is … soms voel dit soos die ‘hele ek’ wat weg is.

“Die buitewêreld gaan aan met hul lewens terwyl ons s’n nog so deurmekaar en stukkend voel, en hulle mag, maar dis eensaam en leeg.”

Vir hul dogter probeer Johanette sterk wees en die beste doen.

“Sy is wraggies ’n bolletjie energie wat altyd glimlag. Op twee jaar oud het sy reeds ʼn hart vol liefde vir ander … maar soos haar pappa ook was. Hy was altyd net vol vreugde gewees. ʼn Mens sien so baie van hom in haar en elke deel van my wens hy was hier om dit ook te kon sien.

“Hulle sou die beste, stoutste maatjies gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Net ek ·

Aai jong dame my hart breek vir julle, dis die seerste seer om jou geliefde te verloor. Ongelukkig gaan tyd dit nie beter maak nie, jy gaan met tyd leer om daarmee saam te leef. Die wêreld se normaal is nie meer julle normaal nie en sal nooit wees nie. Baie sterkte aan die hele familie vir die pad vorentoe.

Papsak ·

Dit is bitter hartseer daai dogtertjie gaan nooit haar pa weer sien en dit deur hierdie breilose gemors gedoen sterkte

Eugene ·

Dis baie hartseer. Ongelukkig is sulke dinge wettig in suid-afrika want ramp-phosa regering keur dit goed.

Danie ·

Al wat die polisie op staatmaak is dat daar n positiewe verbintenis is met n vuurwapen of dna en dan spog hulle met sukses.Dan as dit hoftyd is verkoop hulle die dossier of almal loop avg swak ondersoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.