Bouwerk aan Bloem-pad eindelik klaar

Die pad moes in Maart verlede jaar voltooi gewees het. (Foto: Verskaf)

Die Vereeniging-rylaan in die suide van Bloemfontein wat maande lank vir verkeer gesluit was en boonop erge verkeersknope in dié deel van die stad veroorsaak het, is nou eindelik oopgestel.

Dit kom meer as ʼn jaar nadat die rylaan aanvanklik oopgestel moes gewees het.

David McKay, DA-raadslid van die metro, sê hy is verheug oor die voltooiing van die pad, veral nadat hy en die gemeenskappe herhaaldelik met owerhede koppe gestamp het oor die vertragings in die voltooiing van die pad.

Die pad sou reeds in Maart verlede jaar voltooi gewees het, maar weens die regering se versuim om die kontrakteurs te vergoed was dit byna ʼn jaar later steeds nie klaar gebou nie.

ʼn Beswaarskrif met meer as 2 000 handtekeninge is destyds aan die munisipale owerheid oorhandig waarin inwoners gelas het dat die pad, wat teen Januarie vanjaar reeds 92% voltooi was, so gou moontlik oopgestel word.

“Dit is ontnugterend dat die onbevoegdheid van die ANC-geleide munisipaliteit daartoe gelei het dat die inwoners van Mangaung die koste dra vir sy versuim om sy verpligtinge na te kom,” sê McKay.

“Die voortslepende regsake wat voortspruit uit die wanbetaling van kontrakteurs het ook gelei tot bykomende finansiële laste vir die munisipaliteit.”

Die Vereeniging-rylaan sal na verwagting in Junie amptelik in gebruik geneem word, maar McKay is van mening dat dié opening tot nog verdere onnodige uitgawes sal lei.

“Ons stel voor dat hierdie geld herlei word na noodsaaklike padtekens by die ou Vereeniging- en Memoriam-kruising, waar die huidige stoptekens skaars sigbaar is,” sê hy.

“Die geld kan ook herlei word sodat die slaggate op dié pad reggemaak word.”

Die DA het onderneem om die saak fyn dop te hou en die plaaslike regering namens die inwoners tot verantwoording roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.