Brics-beraad duur ‘maar moeite werd’, sê Dirco

(Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het uitgevaar teen uitlatings wat die DA gemaak het oor die R180 miljoen wat dit die regering gekos het om die Brics-beraad aan te bied.

Dirco het gesê die DA se opmerkings oor die “verkwiste besteding van belastingbetalers se geld” was “misleidend” en die koste verbonde aan die beraad was wel die moeite werd.

“Die histeriese reaksie van die DA bevestig sy wanbegrip oor die ekonomiese voordele wat hierdie internasionale berade bied,” sê Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco.

Die departement het R100 miljoen opgedok vir die beraad wat in Augustus in Johannesburg aangebied is, en dit het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nog R80 miljoen gekos.

Die DA het vroeër gesê die “groteske spandering is ʼn skop in die tande vir gewone Suid-Afrikaners wat aan eie genade oorgelaat is”.

Monyela het egter aangevoer dat die ekonomiese voordele wat die beraad vir die Johannesburgse metro inhou veel meer is as die miljoene rande wat die regering daaraan bestee het.

“Suid-Afrika het slegs vier afgevaardigdes per land vir hoflikheidsondersteuning aangebied. Dit is ʼn algemene internasionale praktyk. Al hierdie afvaardigings het egter die beraad bygewoon met bykomende mense wat self vir hul verblyf en etes betaal het. Ons het selfs een afvaardiging gehad met meer as 100 mense, wat almal vir hul eie besoek betaal het,” sê hy.

“Sakelui het ook op verskeie mediaplatforms hul tevredenheid te kenne gegee oor die besigheid wat hulle ontvang het danksy die Brics-beraad.”

Emma Louise Powell, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, het egter gesê dat daar nie ʼn enkele handelsooreenkoms met Brics-lande aangegaan is nie.

“Gegewe die afwesigheid hiervan, is dit twyfelagtig of Suid-Afrika enige tasbare ekonomiese voordeel uit hierdie toenemend onheilige alliansie kan trek.”

Verlede jaar het Suid-Afrika se totale handel met Brics R830 miljard beloop, terwyl Brics in dieselfde jaar verantwoordelik was vir 21% van Suid-Afrika se wêreldhandel.

Die DA is egter bekommerd dat die verhouding met die Westerse lande wat verantwoordelik is vir die res van Suid-Afrika se wêreldhandel in die gedrang is weens die verbintenis met Brics.

“Suid-Afrika se belyning met Brics kan bestaande verhoudings met ons grootste handelsvennote in die Weste in gevaar stel. In onlangse jare het ongeveer 77% van direkte buitelandse investering (FDI) in Suid-Afrika van drie Westerse markte gekom,” het Powell gesê.

Monyela hou egter vol dat “die lys van voordele [wat die Brics-beraad] vir Suid-Afrika [gebied het] eindeloos is”.

“Een van die voordele wat verkry is, is die vennootskap wat tussen Brics- en Afrika-lande versterk is. In hierdie verband het die leiers van Brics hul ondersteuning vir die Afrika-unie se Agenda 2063 uitgespreek, en hulle het veral die operasionalisering van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied deur ekonomiese en finansiële samewerking tussen Brics- en Afrika-lande ondersteun.”

Volgens Monyela het die Brics-beraad ook die regering in staat gestel om saam met Brics-lede te werk om die land se uitdagings met betrekking tot armoede, werkloosheid en ongelykheid te pak.

“Dit sal help as die DA en sy LP’s die tyd sou neem om hulself te vergewis van die voordele van Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics voordat hulle ongegronde opmerkings in die openbaar maak.”

Die DA het intussen ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) ingedien sodat hy ʼn volledige uiteensetting van uitgawes vir die beraad kan bekom, asook die diensverskaffers wat gebruik en die verkrygingsprosesse wat gevolg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Dis lekker om uitgesproke te wees as jy ‘n ander man se geld gebruik!

Mariana ·

Nou ja natuurlik dink hulle dit was geld wat goed aangewend was, was nie hulle geld nie. Dit was die vuisvoos belastingbetaler se geld. Geld wat vir ander belangriker goed kon gaan.

Amelia ·

Stem saam herstel en hou eskom in stand met daai geld maar nee kla gemors om jul lekker te laat eet en “vriende” te “onthaal”

Jeanette ·

Ek sal daarvan hou om presies die uitgawes te sien wat spandeer is. Kan nie glo daai miljoene vir daai paar dae gebruik nie, hulle vermors net die belasting betalers se geld

Cassie Carstens ·

Mens weet nooit wat in hulle sakke beland het onder die dekmantel van Brics beraad kostes nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.