Broers salueer SAL-kaptein vir oulaas

Van links: Siebert, Pieta en Francois salueer hul broer (Foto: Verskaf)

Die drie broers van Christiaan Korf Wiid (52), die vlieënier wie se liggaam Vrydagoggend in die vliegtuigwrak in ʼn mielieland in die Vrystaat gevind is, het hom Saterdag by die wrak vir oulaas gaan salueer.

Maroela Media het vroeër berig Christiaan se vliegtuig het vermis geraak terwyl hy Donderdag besig was om gewasse in die omgewing van Bultfontein en Hoopstad te spuit.

ʼn Polisiehelikopter het die vliegtuigwrak Vrydagoggend in ʼn mielieland op ’n plaas in die Bultfontein-omgewing opgespoor.

Christiaan Wiid in uniform (Foto: Verskaf)

“Ons is nou nie meer ’n viermanskap nie,” sê Christiaan se broers, Pieta (55), Siebert (51) en Francois Wiid (48), nadat hulle die skoknuus oor hul broer se dood ontvang het.

Dié broers het ’n warboel van emosies die afgelope naweek ervaar toe hulle hul geliefde broer finaal moes groet. Hulle was meer as 50 jaar onafskeidbaar.

Hulle het saam Christiaan, of “Likkie” soos hulle hom genoem het, se kamer opgepak voordat hulle hom finaal by die wrak gaan groet het.

“Die afgelope twee dae het ons die laaste hoofstuk van jou lewe gaan besoek. Ja, bitter trane het gerol toe ons jou kamer moes oppak. Hoe beskryf ons die oomblik toe ons jou kamerdeur oopmaak en jou netjies uitgepakte skoene sien regstaan langs die kas. Alles het geruik soos jy; soos aande om die kampvuur; soos ʼn herinnering,” skryf Siebert op Christiaan se Facebook-blad.

Die broers het aan Maroela Media vertel hulle het gereeld tot ounag saam langs die kampvuur gekuier, stories gedeel en nostalgies gelag oor die kattekwaad wat hulle in hul kleintyd aangevang het.

Die oudste broer, Pieta, vertel hulle het die Donderdagaand nadat Christiaan se vliegtuig vermis geraak het, nie ’n oog toegemaak nie en aanhoudend gebid dat ’n wonderwerk moet gebeur.

“Dit was vir ons ’n groot skok toe ons hoor dat Likkie se vliegtuig vermis is. Ons het bly hoop dat daar ’n logiese verduideliking agter alles is – dat hy miskien ’n noodlanding gedoen het of gou by ’n boer gaan stop en kuier het. Maar soos die aand verloop het, het die hoop al hoe kleiner en die realiteit al hoe groter geword,” vertel Pieta.

“Toe hulle ons om 06:30 bel om te sê dat hulle die wrak in die mielieland gekry het, het my moed in my skoene gesak. Ek moes toe die nuus aan my ma breek.”

Van links: Pieta, Francois, Siebert en Christiaan (Foto: Verskaf)

Christiaan was meer as 20 jaar lank ’n vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en is ʼn paar jaar gelede tot die rang van kaptein bevorder. Voor dit was hy vir nege jaar ’n vegvlieënier in die lugmag.

Christiaan moes verlede jaar ’n ander bron van inkomste soek nadat SAL aangekondig het dat hy nie sy personeel se salarisse kan betaal nie. Hy het toe in Desember begin om gewasse met ʼn vliegtuig teen onkruid te bespuit en was in Hoopstad gestasioneer.

“Hy was mal oor die lugbespuiting,” sê Pieta.

Liesel Krause Wiid, Siebert se vrou, vertel hy het die oggend voordat sy vliegtuig vermis geraak het, vir Siebert gebel.

“Hy het vir Siebert gesê dat hy dolgelukkig is in dít wat hy nou doen,” vertel Liesel.

Die Wiid-broers het op ’n plaas digby Hoedspruit grootgeword. Hulle was in Mariepskop Laerskool en dáár het Christiaan al begin droom dat hy ’n vlieënier gaan word.

“Die lugmag se Mirages het gewoonlik oor die skool gevlieg en dan sou hy in verwondering na hulle staar,” vertel Pieta.

Pieta sê hul ma, Lettie (79), het hulle vertel dat Christiaan as tweejarige al met sy vinger na ’n foto van ’n vliegtuig verwys en opgewonde ‘vietuit’ geskree het.

Die broers se pa, Siebert snr., was ook lief vir vlieg. Die broers glo dit is by hóm wat Christiaan sy groot liefde vir vlieg geërf het.

Christiaan en sy pa (links) en Pieta (regs) toe Christiaan sy eerste noodlanding as jong seun ervaar het (Foto: Verskaf)

“As jong seun al het Likkie eerstehands ʼn noodlanding saam met my pa ervaar. Hy moes ’n noodlanding op die plaas in die landerye doen.

“Ons glo my pa en Likkie gesels nou lekker vliegstories in die hemel.”

Pieta beskryf sy broer as ’n briljante, legendariese vlieënier.

“Sy roepsein in die lugmag was ‘Maverick’, net soos die karakter in die Top Gun-rolprent.”

Die broers sal Wiid se vrygewigheid onthou en sê hy was ’n gewilde en geliefde mens. Medelye het vir hom op sosiale media ingestroom.

“Ons het geluister na al die mense se stories wie se lewens jy so aangeraak het hierdie afgelope paar maande. Almal het soveel respek vir jou. Die jong latte praat met lof van die vreeslose man wat SAL en die lugmag onder die belt het.”

Pieta sê Christiaan se tienjarige dogter, Christie, was sy hart se punt.

Christiaan se skoonsuster Liesel, wat ook predikant by die NG-kerk Kameeldrift is, gaan Vrydag die roudiens lei.

“Dit is vir my emosioneel, maar ook ’n groot voorreg om dit te kan doen,” sê sy.

Van links: Pieta, Francois, Siebert snr., Siebert jnr. en Christiaan (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sêmanet ·

Dis nou wel vrek hartseer, maar nogsteeds een van die mooiste stories. Vier broers wat so lief is vir mekaar, en na mekaar lyk en alles saam doen. Dis regtig ‘n hartseer maar mooi verhaal. Sterkte vir jul familie.

Sylvia ·

So tragies, hierdie is seker een van die beste stories wat MaroelaMedia nog deurgegee het, met soveel gevoel, en ook die ongelooflike band tussen die broers is tasbaar. Mag hulle getroos word deur die wonderlike tye saam.

Regverdigheid ·

Sterkte aan die familie en sy broers en Ma en kinders… RIP

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.