‘BSV’-paartjie ‘skatryk’ met hul tweede spruit

Niel Bruwer saam met sy nuwe babadogter, Joané. (Foto: Verskaf)

Die gewilde Boer soek ʼn vrou-paartjie Niel en Cheréze Bruwer is nou amptelik ʼn gesin van vier ná die geboorte van hulle tweede dogtertjie, Joané.

Die egpaar, wat mekaar in die 13de aflewering van dié gewilde kykNET-maatsoekprogram ontmoet het, se pienkvoet het haar opwagting Maandagoggend om 10:00 in Mediclinic Worcester gemaak en is nou kleinsus vir hul 16 maande oue dogtertjie, Catrine.

Klein Joané het ʼn gesonde 3,97kg met geboorte geweeg en is 59,5cm lank.

“Ons het gister nog nie lekker geweet na wie sy lyk nie, maar Cheréze het vandag so na haar gesiggie gekyk en gesê: ‘Dis definitief ʼn Bruwer-baba daai’. Catrinetjie is ma se kind, maar Joané het reeds haar pa se lengte,” vertel Niel laggend aan Maroela Media vanuit die hospitaal.

Mamma en baba is tans gelukkig en gesond en volgens Niel geniet Cheréze nou die alleentyd saam met die gesin se jongste bondeltjie vreugde.

Hy vertel dat nuwe ousus Catrine aanvanklik huiwerig was toe sy haar babasussie ontmoet het.

“Ons het haar vroeg probeer leer en vertel van die sussie in mamma se maag, maar ek dink sy’t eers mooi besef dat daar nog ʼn mensie is toe sy Joané se gesiggie gesien het. Sy wou haar dadelik net druk en het kort-kort alles in die hospitaalkamer aangedra bed toe om vir haar babasussie te gee.”

Niel sê hy en Cheréze het saam besluit om hul gesin te probeer uitbrei toe Catrine ses maande oud was.

“Ons wou gehad het dat hulle lekker naby aan mekaar se ouderdomme moet wees en het nie geweet of ons dalk lank sou moes wag om weer swanger te word nie; mens hoor van so baie mense wat sukkel. Ons kan net die Here dank, want ons is nou skatryk.”

Niel, ʼn vrugteboer van Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap, was destyds die gewildste boer in seisoen 13 van Boer soek ʼn vrou. Hy het vir Cheréze die jawoord in Julie 2021 gevra en die paartjie is in Januarie 2022 by die Kaleo-gasteplaas in die Koue Bokkeveld getroud.

Die trotse pa het net lof vir sy vrou van byna twee jaar.

Klein Joané lê op haar ma se skoot. (Foto: Verskaf)

“Sy’t Sondagaand nog tot laat gewerk, sy gee haar 100% vir alles. Dit was vir my ongelooflik om te sien hoe mooi sy gelyk het gister, net so ná die operasie…” het ʼn bewoë Niel gesê.

“Sy het skaars ses maande tussen haar twee swangerskappe gehad. Alles is vreemd die eerste keer en net toe sy so half weer haarself begin vind het, toe begin alles weer van voor af en sy het dit met soveel deernis hanteer.”

Cheréze het ook ʼn skattige foto van haarself en klein Joané op sosiale media gedeel met die woorde: “Saligheid, liefde, guns, genade”.

Gelukwense vir die gesin van bekendes soos die internetpersoonlikheid Lisa van Niekerk (oftewel “Lisa met die rooi hare”) en BSV-aanbieder Marciel Hopkins het reeds ingestroom.

“Nóg ’n dogtertjie vir Niel en Cheréze! Baie, baie geluk met Joané se geboorte, ek kan nie wag om haar te ontmoet nie. Sy gaan só lekker sussie vir liewe Catrine wees,” het Marciel op Facebook geskryf.

  • Die 16de seisoen van Boer soek ’n vrou sal in 2024 op die kassie te sien wees. Kyk hier hoe die reeks se 10 nuwe boere lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Sjo, dis ‘n grote baba!!!! Byna 4kg en amper 60cm lank!!! Mamma, jy kan gelukkig wees dat jy nie normaal hoef lewe te geskenk het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.