‘BSV’ se Marné gee ja-woord

Marné en Karlo het Woensdag verloof geraak. (Foto: Chanel East Photography)

Marné du Plessis (26), wat in die 13de seisoen van die kykNET-maatsoekreeks, Boer soek ʼn vrou, op boer Déan se plaas gekuier het, het Woensdag verloof geraak.

Marné het die ja-woord gegee aan Karlo Els, ʼn 27-jarige kardiovaskulêre perfusietegnikus, by die Kievitskroon-landgoed in Pretoria.

Dinge tussen Marné en Déan, wat intussen met blondekop-balletdanser Megan Wille getroud is, het dalk nie uitgewerk nie, maar die liefde het vir Marné gelê en loer sonder dat sy daarvan geweet het.

Marné, wat as hoof van bemarking vir Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel-groep werksaam is, vertel aan Maroela Media haar aanstaande skoonouers het haar op die kassie gesien en gedink sy is die perfekte pasmaat vir hulle seun.

Nadat sy aan die einde van die seisoen te kenne gegee het dat haar en Déan se paadjies gaan skei, het Karlo se ouers besluit hulle moet haar opspoor om haar aan hulle seun voor te stel.

“Toevallig ken Karlo se swaer ʼn ou wat saam met my op Delmas op skool was. Hulle het toe uiteindelik by my uitgekom, maar ek was eers versigtig. Ek het in daardie tydperk baie boodskappe van onbekende mense en vreemde karakters gekry,” vertel Marné.

Karlo en Marné. (Foto: Chanel East Photography)

Sy het egter ʼn foto van Karlo gesien en na ʼn rukkie se oorweging het sy ingestem om saam met hom koffie te gaan drink.

“Koffie het toe middagete geword, en later die aand het ek en hy toe sommer saam met sy ouers gebraai, want hulle was in Pretoria van Standerton af. So, ek het sommer op die eerste afspraak al die hele gesin ontmoet,” lag sy.

Woensdae is gewoonlik die dag van die week waarop hulle gehaltetyd saam deurbring, maar toe vriende vra of hulle ʼn ete by Kievitskroon wil bywoon, het hulle ingestem.

“Gewoonlik maak ek op Woensdae vir my en Karlo huiskos. Toe die vriende voorstel dat ons gaan uiteet, het ek niks vermoed nie, en gedink dit sal baie lekker wees om vir ʼn verandering so iets op ʼn Woensdagaand te doen. Ons vriendekring het almal baie mooi saamgespeel en ek het absoluut niks agtergekom nie.”

Karlo het egter ʼn verskoning uitgedink oor hoekom hy nie saam met Marné na die geleentheid kon ry nie, en reël toe dat sy saam met Karlo se suster, Marlé, en haar man ry.

“Toe ons daar aankom het ek gesien daar is ʼn mooi gedekte tafel en liggies en toe sien ek vir Karlo en die fotograaf. Ek het eers ʼn klein bietjie inmekaargesak voordat ek nader gestap het. Daar het hy die groot vraag gevra, en ons het die res van die aand net heerlik gekuier en geëet in die wynkelder, wat spesiaal vir ons oopgemaak is.”

Chanel East het die groot oomblik op kamera vasgevang. Die juweliersontwerper Carlo Hayes het Marné se ring gemaak.

“Ons hou Desembervakansie op Plettenbergbaai en ek het gedink hy sal my moontlik daar vra om te trou, aangesien ons redelik onlangs oor trou en die huwelik gepraat het.”

Die paartjie beplan om in April volgende jaar voor die kansel te staan. “April is altyd vir my die mooiste tyd van die jaar, met die lekkerste weer. Ons wil nie baie lank wag voordat ons trou nie.”

Wil jy vir ʼn boer skryf?

Persone wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.