DA betoog vir Afrikaans

John Steenhuisen (regs), leier van die DA, het Dinsdag ʼn petisie aan die departement van hoër onderwys oorhandig om Afrikaans tot ’n inheemse taal in Suid-Afrika te verklaar. (Foto: Verskaf)

Die DA het Dinsdag buite die kantoor van dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, in Pretoria betoog en daarop aangedring dat Afrikaans tot inheemse taal in Suid-Afrika verklaar word.

John Steenhuisen, leier van die party, het ook ʼn petisie wat deur 5 500 mense onderteken is, aan die departement oorhandig.

Die DA het dié petisie begin nadat Nzimande verlede jaar ’n beleidsraamwerk vir taalgebruik in hoër onderwys bekendgestel het waarin Afrikaans nié as ʼn inheemse taal erken word nie. Die party het ook verlede maand klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in dié verband ingedien.

“Ons petisie dring aan dat Nzimande onmiddellik sy departement se beleidsraamwerk wysig om Afrikaans se status as inheemse taal in Suid-Afrika te erken.

“Die raamwerk beskou tans net tale wat aan die “suidelike Bantoe-taalfamilie” behoort as inheems en sluit daardeur Afrikaans doelbewus uit. Die definisie is onwetenskaplik en in teenstelling met die presedent wat deur die Grondwethof geskep is in sy onlangse uitspraak in die Unisa-taalgeding.”

Steenhuisen sê die beskouing van Afrikaans as “uitheems” is “kwetsend en haatdraend teenoor die diverse Afrikaanssprekende taalgemeenskap”.

“Dié klassifikasie is reeds in die nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch opgeneem, wat die status van Afrikaans verder wil verkleineer by een van die laaste universiteite wat die kapasiteit het om in dié taal te onderrig.”

Die DA dring ook aan dat Nzimande in die openbaar onvoorwaardelik aan die Afrikaanssprekende gemeenskap om verskoning vra vir die wyse waarop hy dié gemeenskap se grondwetlike regte tot moedertaalonderrig, waardigheid en gelykheid ondermyn het.

“Nadat Afrikaans se regmatige status as inheemse taal erken is, vra die DA se petisie voorts dat Nzimande alle openbare universiteite versoek om hul taalbeleide aan te pas om Afrikaans se status as volwaardige inheemse taal te reflekteer sodat moedertaalonderrig in Afrikaans uitgebrei, eerder as beperk word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Erik ·

Ek het al paar keer in my lewe gestem, en nog elke keer DA. Meestal DA, omdat ek nie myself met die VF+ kan assossieer nie, en ook omdat ek voel die VF+ is te klein om werklik ‘n verskil te maak.

Hierdie is egter die eerste keer wat ek amper glad nie wil gaan stem nie, want die DA het my ook al te veel teleurgestel. Ek hou van Action SA (Herman Mashaba), maar die party is nog maar besig om te ontkiem. Tamaletjie…

Erik ·

Truthful, ek sal bly wees. Ons het ‘n sterk opposisie party nodig, met ‘n Afrika leier, want net soos meeste van ons nooit ANC sal stem nie, sal meeste van hulle nooit DA of VF+ stem nie.

Hennie ·

Gee jou stem vir die VF+, hulle sal jou nie teleurstel nie. Net hierdie een keer!

Alta Alleman ·

VF+ is te klein want niemand stem vir hulle nie. Maak dit nie sin nie?

Keelvol ·

Hoekom is die VF+ klein? Omdat die Afrikaner aan die illusie van die DA bly klou. Wanneer daardie illusie verbreek word hardloop hulle na ander partye om vir hulle te stem. Die VF+ is klein maar hulle veg die belangrike sake. Die ander partye doen nie. Onthou die makste hond but die seerste.

Dries ·

Swakste argument wat ek in my hele lewe gehoor het. Stem maar vir die ANC dit is n groot party

Ria ·

As jy vir X stem, is dit een stem minder wat Y kry, ongeag die grootte van die party

Chris dupreez ·

En so gaan ou Moana Steenhuizen net aan met moan. Doen iets konstruktiefs man. Dit is tyd dat die DA n ordentlike leier kry, Steenhuizen is net soos die vorige leier ou moesie. Ek dink hulle doen die party meer kwaad as goed

Tokkel ·

Help nie jy stem vir ‘n party wat 1% gaan kry in die plaaslike verkiesing nie. Daar is geen party wat nie foute het nie. Stem vir ‘n party wat ‘n verskil kan maak.

Harley Davidson ·

Dan moet jy eff stem hulle is permanent besig om vir hulle mense te baklei,nie net voor ‘n verkiesing nie.

Hennie ·

Die DA en VF+ kan in koalisies gaan, maar dan het jy ten minste Afrikaner verteenwoordiging!

Kortbroek en plakkies ·

En so probeer die regering al hoe meer die Afrikaanse taal onderdruk. Maar ons as Afrikaners laat ons nie onder kry nie. Akademia is Afrikaans en wat ‘n wonderlike instituut. Studente is beleefd, dosente is mense mense, of hoe sal ons dit nou noem, dis mense van ons kerk en ek kan my met hulle vereenselwig. My kinders wil niks weet van die “ou” Afrikaanse universiteite nie. Stellenbosch en ander Universiteite gaan nog in die nabye toekoms hul fout agterkom wanneer die kwaliteit studente uit die Afrikaanse universiteit Akademia gaan presteer.

Psyggie ·

‘k stem saam. As meer mense wat dieselfde sentiment deel, die ” te klein partytjie wat net 1% ” gaan kry, ondersteun, kan die ” te klein partytjie” groei om selfs meer verskil te maak.

Harley Davidson ·

Verkiesing foefie,waar was hulle die laaste 3 jaar en hou dop wat gebeur na die verkiesing, ek sê doen hierdie tipe ding gereeld en ek sal respek vir julle he nou sien ek net hoe 2 gat jakkalse julle werklik is.

Keelvol ·

Jasper, ons het al verby die 40 krag onderbrekings in Ekurhuleni gehad. Die DA sit agteroor en sê hulle kan niks daar aan doen. Ie.

Misky ·

Die partye is darem almal vreeslik besig nou so kort voor die verkiesing…….

Hulle het seker vreeslik bespreek en beraadslaag wat op hul borde geskryf mag word en of dit ‘sag op die oog’ sal wees en aanvaarbaar vir ander partye.

Leana ·

Eending wat ek nie van die DA kan verstaan en hanteer nie is die feit dat hulle nie vir hulself kan dink nie. Hulle wag eers om te kyk wat maak nou bietjie opslae dan spring hulle op die “band wagon” en probeer geraas maak daaroor. Dit was nou groot nuus oor Afriforum/Solidariteit wat nou oorsee klagtes gaan in dien het oor rassisme nou skrik die DA wakker en probeer iets doen. Dis te laat hou op in ander mense se skaduwee lewe doen ‘n slag jul eie ding en staan vir die regte goed op en julle sal dalk meer stemme kry.

Trotse Boervrou ·

Ek het weliswaar my bedenkinge oor die DA. Wat egter soos ‘n paal bo water staan is dat die ANC die Kaap wil oorneem. Die DA is al party wat hul daar kan weghou. Daar is eintlik, en ongelukkig, geen ander keuse nie.

Tokkel ·

Patricia De Lille(Goodparty) werk reeds vir die ANC so, sy sal beslis met koalisie met die ANC gaan. Terwyl sy al die bruinmense se stemme wil hê en mors.

Truthful ·

Iemand hou die DA baie besig met snert .terwyl. Ander dinge gebeur onder hul neuse…

Frik ·

Die DA het nog nooit enigiets vir Afrikaans gedoen nie en nou met verkiesingstyd is hul skielik vreeslik besorg oor Afrikaans.
Julle doen dit net om stemme te kry en na die verkiesing is Afrikaans weer vergete.
Enigste party wat werklik omgee vir Afrikaans is dieVF Plus.

Philip ·

Steenhuizen namens watter deel van die Afrikaners verteenwoordig jy nou . Dit is nie eintlik ons styl om met plakkate in n bondel te vergader nie maar soos ons burger organisasies en andere ons saak oorsee aan instansies en politisie te stel.Ek persoonlik verkies ook die skoon styl van die Vryheidsfront met hulle leiers wat die hoogste integriteit het en daarmee kan ek tenminste my selfrespek behou en vertrou dat na die einde van die maand die prentjie anders gaan lyk.

Hardekwas ·

Tot ramaphosa praat deesdae affrikaans. Wat gaan aan? Niemand weet nie maar die tyd sal leer.

Shakespeare ·

Meeste van julle stenig die DA. Wat gaan julle doen as die EFF die opposisie is ?? Nee wat mense. Kry julle gansies in n ry en ondersteun die DA. Ons sal moet saamstaan soos nog nooit tevore nie. Die VF is wel n agtermekaar party maar is ongelukkig hopeloos te klein.

Frik ·

n Politieke party bly mos nie klein nie en groei soos meer mense vir die party stem.
VF Plus het sedert 2019 se verkiesing geweldig gegroei en ook daarna in tussenverkiesings wyke by die DA afgevat.
Met hierdie verkiesing gaan VF Plus nog meer groei en baie mense daardeur verras wat hul wil afskryf as n sogenaamde “klein” party!

gpsa ·

Stem saam ons moet begin saam staan en ophou net kritiek lewer. VF+ is nie net klein nie maar die laaste paar jaar maar baie min van hulle gehoor.

Spook ·

Die DA kan maar sê net wat hulle wil. Die knapie wat die aanstigter was met die beskuldiging van die onderwyseres van Schweizer-Reneke, sit nog steeds in die parlement as ‘n DA lid. Ten spyte daarvan, doen die DA niks aan hom nie. Ek het al voorheen my stem verander, en gaan dit die keer weer doen.

Janee! ·

Die DA het besef hy het die Afrikaner se stem nodig om in die stoel te sit .
Die ooglopende gevry na Afrikaans laat my dink aan die verkiesings foefie van babas soen en wit smiles en ballone soos met die Amerikaanse verkiesings .
DA ek hoop julle is eerlik in julle pogings en dat dit in julle aksies oor n tydperk sal wys .
Maar julle het die hand gebyt wat julle voed …. dit gaan n ruk vat om weer my vertroue te wen.

gpsa ·

Doen die DA iets word hulle geskel en gestening, doen hulle niks is dit maar dieselfde. Dit nou vir ‘n party wat vir die blankes wil opstaan en ons sterkste stem in die parlement is.
Lyk my Afrikaners verval in die ewige slagoffer mentaliteit as ek so na die kommentaar kyk. Wil nie gehelp word nie wil net kerm, dit terwyl swart mense bank vas agter hulle partye, met al hulle foute, staan. Weer voorbeeld hoe ons nie kan saam staan nie elkeen te trots op sy eie mishoop.

Frik ·

Kom mense, staan saam met die VF Plus en laat ons die verval van munisopaliteite stop!

Philip ·

Dit is juis die meerderwaardige houding van die DA wat eerder vinger wys en allerlei uitsprake maak soos b/v dat n kleiner party n vermorsing van stemme is maar goed weet dat alle stemme tel in n proporsionele stelsel. Die Vryheidsfront het homself al deur die jare bewys as n betroubare vennoot van die DA ontdanks sommige optrede van die DA waarmee ons nie kan saamstem nie. Die DA was ook n nikssegende partytjie nie baie jare terug nie maar belangrik moenie brue agter julle uitbrand wat julle groot groot skade gaan berokken in toekomstige tyd soos om te se fonteintjie ek sal nie weer uit jou drink nie.

Belinda ·

Snaaks hoe almal nou afrikaans wil praat en vir kamstig afrikaners wil veg net omdat dit stemtyd is. maar agter ons rue wil hul afrikaans amper uit elke skool haal.
dubbelsinnige partye, almal van hulle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.