Departement op terme geplaas oor tehuis vir gestremdes

Sunfield Fortuna (Foto: Verskaf)

AfriForum het die departement van maatskaplike ontwikkeling op terme geplaas insover sy planne om 37 inwoners van die Sunfield Fortuna-tehuis vir gestremdes in Balfour, Mpumalanga, wat staatsubsidie ontvang, uit te plaas.

Die burgerregteorganisasie het Dinsdag ʼn brief aan die departement gerig om die besluit om die inwoners te verplaas, te heroorweeg, sowel as die subsidiebedrag aan die tehuis aan te pas.

Indien die departement versuim om op die brief te reageer en nie sy besluit teen 31 Augustus hersien nie, sal AfriForum die hooggeregshof nader vir die nodige verligting, sowel as ʼn strafkostebevel teen die departement.

Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, sê sy regspan beskou die departement se besluit as “ongrondwetlik, onredelik, ongegrond en irrasioneel” en verleen nou regsadvies aan die tehuis.

“Die departement se besluit dra nie die inwoners se belange op die hart nie en maak inbreuk op hul reg op menswaardigheid,” sê hy.

“Sommige inwoners is al vir meer as 30 jaar hier woonagtig en ken geen ander huis nie. Die skielike verplasing sal daarom vreeslik traumaties wees en ʼn negatiewe uitwerking op hulle fisieke en sielkundige welstand hê.”

Die betrokke tehuis ontvang al vir 14 jaar ʼn skrale R2 200 per inwoner per maand vir diegene wat afhanklik is van staatsubsidie. Dit kom neer op ʼn maandelikse tekort van byna R7 000 per inwoner in die tehuis se 2022-’23 begroting.

Nadat die direkteure van die tehuis hul misnoeë oor die geringe bedrag uitgespreek en geweier het om ʼn dienskontrak te onderteken om die pasiënte vir die volgende drie jaar te huisves, het die departement aangevoer dat sy begroting nie ʼn verhoging toelaat nie en dat hy eerder die pasiënte gaan uitplaas.

Volgens Brenda Gouws, bestuurder van die tehuis, het die departement sedertdien in die openbaar die besluit ontken, ten spyte van die feit dat Zandile Mabena van die departement se Dipaleseng-kantoor die tehuis in Augustus in kennis gestel het dat die departement ʼn besoek sou kom aflê om die gesubsidieerde inwoners se lêers deur te gaan om hulle te verplaas.

“Sedert ons in kennis gestel is dat van ons inwoners uitgeplaas gaan word en die departement se daaropvolgende besoek, het ons nog geen kommunikasie weer van die departement ontvang nie,” sê Gouws.

“Ons is in die donker oor wat presies gaan gebeur.”

Hoewel die departement beplan om die uitplasing teen 30 September te doen, sê Gouws dat die tehuis soos normaal voortgaan.

“Ons probeer aangaan soos gewoonlik sodat hul [die pasiënte se] lewe nie verder omvergegooi word nie,” sê sy.

“Ons maak nog niemand gereed om uitgeplaas te word nie, ons probeer hulle net voortdurend te verseker dat dit nie gaan gebeur nie. Hulle is erg getraumatiseer deur die nuus en van hulle ondergaan berading daarvoor. Hulle bid steeds elke aand dat hulle nie uitgeplaas word nie,” sê sy.

Die departement wil die pasiënte na hul ouers of ander tehuise uitplaas of selfs terug in die samelewing vestig.

Die tehuis het vroeër op instruksie van die departement van die pasiënte se ouers begin kontak in verband hiermee. Die nuus het sodoende onder die pasiënte versprei en groot ongelukkigheid veroorsaak.

“Van hulle is kort-kort tranerig en vra wat van hulle gaan word, maar ons hou aan om hulle te verseker dat hulle veilig is,” sê Gouws.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir AfriForum se hulp, veral aangesien daar geen koste hieraan verbonde is nie, want ons leef van die hand na die mond as gevolg van die lae subsidie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hennie ·

Gee Afriform daai klomp window shoppers ‘n plat hand! Vat so!

Oosieoos ·

Dankie Afriforum. Die arme mense kry klaar swaar dan wil regering dit nog vererger

Mariana ·

Dit is duidelik dat die departement absoluut glad nie die inwoners se belange op die hart dra nie. Dankie Afriforum vir julle hulp.

koos ·

Die Bybel praat van die hartelose mens. Hier ervaar ons dit in die vorm van die genoemde departement. Ergste is, dis my belastinggeld wat eerder vir die nar met die hoed ‘n helse bottel duur whisky koop as wat maatskaplike nood daarmee verlig word. Cry the beloved country.

Nico ·

AfriForum doen goeie werk, moenie op die mens staat maak nie, moenie die mens aanbid nie. Keer terug na God die Vader wat beter kan doen, die land is in die gemors deurdat die mens sy rug op God die Vader gedraai het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.