‘Desperaat’, ja, om Makhura te pos – DA

Die Gautengse premier, David Makhura. (Foto: GCIS)

Die DA sal na verwagting Maandag ʼn mosie van wantroue teen die Gautengse premier, David Makhura, by die provinsiale wetgewer indien.

Selfs voor die DA die rede vir sy voorneme kon bekend maak, het Makhura se kantoor in ʼn verklaring aangekondig die beoogde mosie van wantroue ʼn “ʼn duidelike desperaatheid vir relevansie” van die DA is en “ʼn poging om die kollig op die onstabiliteit in hul eie party te verwyder”.

Solly Msimanga, die DA se koukusleier in die Gautengse wetgewer, het vanoggend by ʼn mediakonferensie teruggekap en voer aan die mosie het ʼn lang aanloop weens Makhura se “klaaglike mislukking” as leier in die provinsie.

Die party meen hy moet dringend uit sy pos verwyder word sodat Gautengers ʼn leier kry wat hulle verdien.

“Die kantoor van die premier kryt ons uit as desperaat en ons ís ook desperaat. Ons is desperaat vir ʼn leierskap wat aanspreeklik gehou kan word vir sy besluite, ons is desperaat vir minder werkloosheid en nuwe idees wat die inwoners van Gauteng sal dien,” het Msimanga gesê.

Die DA meen enige regerende party moet vra of die provinsie verbeter, of daar hoop is vir beter werksgeleenthede en of die rigting waarin die provinsie gestuur word, reg is.

Msimanga sê inwoners van Gauteng sal tans “nee” antwoord op al hierdie vrae.

“Ons leef in ʼn wettelose samelewing en word deur misdadigers regeer. Hulle het ons in die steek gelaat. Hoekom moet die premier en sy uitvoerende gesag in hul posisies bly as hulle nie in staat is om die lot van die provinsie om te keer nie?”

Solly Msimanga, die DA se koukusleier in die Gautengse wetgewer. (Foto: DA)

Die DA het verskeie breedvoerige redes uitgestippel waarom die mosie van wantroue teen Makhura ingedien gaan word.

Daar word onder meer verwys na die werkloosheidsyfer in Gauteng. Byna 3 miljoen mense in die provinsie sit sonder werk en 680 000 het moed opgegee om weer werk te vind.

“Armoede en desperaatheid is die grondslag van misdadigheid en dit is iets wat die premier lankal moes gepak het,” sê Msimanga.

“Boonop gaan die provinsie gebuk onder korrupte bedrywighede binne die plaaslike regering.”

Msimanga het ook verwys na projekte wat uit die premierskantoor gedryf is. Dit het belastingbetalers miljoene rande gekos, maar niks beteken nie. Dit sluit in besteding van R82 miljoen aan ʼn skool wat op ʼn vleiland in Tembisa gebou is. Weens veiligheidsrisiko’s kan die Mayibuye Primary School nou net gedeeltelik benut word.

Msimanga het ook na projekte soos die AngloGold Ashanti-hospitaal aan die verre Wes-Rand verwys wat veronderstel was om vir Covid-19-doeleindes gebruik te word. Eindelik is net ʼn skrale getal pasiënte behandel, al is die fasiliteit teen sowat R700 miljoen opgeknap.

Hy sê die verslae oor ondersoeke na dié projekte, asook ʼn ondersoek na die peperduur ontsmetting van skole (waaraan die provinsiale onderwysdepartement binne drie maande sowat R431 miljoen bestee het), is tot vandag nog nie bekend gemaak nie en niemand is nog verantwoordelik gehou nie.

“Ons is moeg vir die gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid,” sê Msimanga.

“Vir jare is ons belowe dat ons die leefstyl-ouditverslae van die premier en sy kollegas onder oë sal kry, maar dit is ook nog nie gedoen nie. Daar word gereeld belowe dat dit bekend gemaak sal word, maar dan word dit onder die mat ingevee. Dit wys dat daar iets is om weg te steek.”

Premier kap terug

Makhura het kort voor die DA se amptelike aankondiging al teruggekap oor bewerings dat die verslae nie bekend gemaak is nie.

Vuyo Mhaga, woordvoerder van die premier, het erken dat die PPE-verkrygingsprosesse tydens die Covid-19- en ander infrastruktuurprojekte gebuk gegaan het onder korrupsie.

Hy voer egter aan dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) sommige van die gevalle breedvoerig ondersoek het en dat die verslae reeds bekend gemaak is.

“Die SOE se ondersoek na die Anglo Gold Ashanti-hospitaal het ernstige onreëlmatighede in die departemente van onderskeidelik gesondheid en infrastruktuur in die aanwys van verskeie diensverskaffers onthul. Die provinsiale regering het daarna op aanbeveling van die SOE nege senior amptenare voorlopig geskors hiervoor,” sê Mhaga.

Hy sê die premier het die afgelope agt jaar “baie tyd afgestaan in ʼn poging om hervorming in te stel wat daarop gemik is om integriteit te institusionaliseer en ʼn etiese kultuur binne die regstelsel te bevorder wat waardes soos goeie bestuur, deursigtigheid en aanspreeklikheid volhou”.

Volgens Msimanga het die DA reeds die ondersteuning van ʼn aantal politieke partye in die Gautengse wetgewer en hy is vol vertroue die mosie sal slaag.

“Ons soek ʼn premier wat antwoord op die desperate oproepe van inwoners en wat verantwoording doen vir dít wat onder sy toesig gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Miena ·

Ag elkeen blameer die ander ene. Dit laat my dink aan die liedjie The Living Years –
“Every generation,
Bblames the one before,
And all of their frustrations,
Come beating on your door…

You just can’t get agreement
In this present tense
We all talk a different language
Talking in defence”

SomeOne ·

wie sal in elk geval belangstel om so ‘n gemors oor te neem, skrap die premierskap in geheel en moenie eers daaraan dink om weer so ‘n pos te skep nie, besparing in alle vlakke

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.