Dís wat dit kos om jou spens (amper) vol te maak

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

In die nasleep van die feestyd volg die sogenaamde langste maand van die jaar en die meeste Suid-Afrikaners het vanjaar behoorlik ʼn “Januworry” agter die rug. Een van die redes hiervoor is omdat inkopies in Januarie selfs nog duurder was as in vorige maande.

Die jongste Household Affordability Index-verslag deur die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMBEJD) wys dat dit gemiddeld R86,66 meer gekos het om inkopies in Januarie te doen as in Desember.

Die effense styging beteken dat die prys van noodsaaklikhede weereens duurder geword het. Dan word daar nie eens gepraat van ander benodighede, soos kinders se skoolklere, wat oudergewoonte weer peperduur was nie.

Volgens PMBEJD se jongste verslag is tamaties, aartappels en rys van die items wat verbruikers die meeste geld uit die sak gejaag het. Dit is omdat ʼn 6 kg-sak tamaties naastenby R140 kos nadat dit 14% duurder geword het as in Desember.

In Januarie het die prys van aartappels met 13% gestyg, wat beteken dat ʼn 10 kg-sak jou byna R119 kos. Dit is R13,64 meer as verlede maand.

Die prys van rys het ook met 5% gestyg, mieliemeel is R12,45 duurder vergeleke met die vorige maand en groente soos spinasie en groen soetrissie is ook met sowat R5 duurder.

ʼn Sak bevrore hoenderporsies van 10 kg was in Januarie gemiddeld R8,83 duurder vergeleke met die vorige maand, wat die prys hiervan op R417,51 te staan bring.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Daar is wel enkele items in vandeesmaand se kosmandjie wat goedkoper geword het, soos meel wat R3,26 goedkoper is, en lemoene wat verbruikers nou R14,72 minder uit die sak jaag as verlede maand.

Ook wit- en bruinbrood is goedkoper. Witbrood kos jou nou R3,50 minder en bruinbrood is R5,61 goedkoper as dit in grootmaat gekoop word.

Gegewe die prysaanpassings kos dit gemiddeld R5 324,86 om ʼn kosmandjie met net die basiese items te koop. Vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar is dit R407,44 duurder om nou inkopies te doen.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Oral duurder

In Januarie het die prys van ʼn mandjie kos in die meeste digbevolkte gebiede gestyg.

Dit was die duurste om in Pietermaritzburg inkopies te doen, aangesien dit jou R203,74 (4%) meer uit die sak gejaag het vergeleke met verlede maand.

Inkopies in Durban was ook R149,17 (2,9%) duurder in vergelyking met die vorige maand, terwyl diegene in Kaapstad R84,44 (1,6%) meer vir hul inkopies moes opdok. Die inwoners van Johannesburg het ook R13,68 (0,3%) meer betaal as in Desember.

Huishoudelike en persoonlikehigiëne-produkte

Die indeks vir huishoudelike en persoonlikehigiëne-produkte het in Januarie effe toegeneem. Dit is alles produkte wat nodig is vir basiese higiëne, maar dié produkte ding ook mee met noodsaaklike voedselitems.

Volgens die verslag het die prys van waspoeier die meeste gestyg. ʼn 3 kg-sak kos in Januarie gemiddeld R96,57 wat R3,61 meer is as in Desember.

Die koste van tandepasta is ook R2,54 meer, wat beteken dat drie 100 ml-houertjies nou R62,77 kos.

Reukweerder, aanrol én aanspuit, is wel gemiddeld R3 goedkoper.

Die kosteveranderinge bring die gemiddelde koste van huishoudelike en persoonlikehigiëne-produkte op R1 005,81 te staan; dit is R6,22 (0,6%) meer vergeleke met die vorige maand.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Manie ·

Niemand kan SSA se inflasie syfers meer glo nie, want dis ‘n klug. Hulle beweer dat inflasie in 2023 net 5% was, terwyl die verbruiker se werklike inflasie nader aan 15-20 % vir die jaar was. Wie porbeer hulle bluf?

Rooi rissie ·

Nee wat ons staar hongersnood in die gesig en die regering en kettingwinkels skep net. Hoe moet n mens oorleef met n basiese salaris van R5500 n maand dan moet jy huur betaal en jy moet krag water en skoolfonds betaal en dan nog brandstof werk toe wat bly oor om kos mee te koop? Iewers moet die bom vinnig bars hiers miljoene Suid Afrikaners wat ver onder die broodlyn lewe.Niemand help mekaar meer in vandag se dae nie en geleenthede om alternatiewe hulp te kry word minder en minder. Waar gaan als eindig?

Nommer 7 ·

@Rooi rissie, met ‘n salaris van R5,500pm , kwalifiseer u vir 100% skoolgeld afslag vir skoolgeld gelyk aan, of meer as R6,600 per jaar. Sien Staatskoerant 29311 van 18 Oktober 2006.

Tokkel ·

Wie is die plekke wat wat die wins maak dan?? Kettingwinkels of boere, wat ek nie kan glo nie.

Joy ·

Sonder enige lekkernye kos ons kruideniersware (vir 4 volwassenes) ongeveer R8 000 (basiese benodighede, vleis, groente). Ek doen inkopies om die goedkoopste pryse te vind en reken selfs my petrol in om by die winkels uit te kom.

Yolandie ·

Ek weet nie waar hulle die pryse ens uitgrawe nie, maar nie al hulle navorsing is akkuraat nie. Elkgeval met dit gesê is die regering van ons klipgard besig om die middelklas stadig maar seker dood te wurg……..en dan gaan hulle darem lelike ding sien.

Rooi rissie ·

Nommer 7. Ek praat oor die algemeen hoor. Ek is bewus van die skole wat subsidie of beurse gee. Jy as ouer het steeds skooluitgawes skryfbehoeftes skool klere boekfooie ensovoorts hoor. My kinders is almal groot ek betaal nie skoolfonds nie. Ek voel net bitter jammer vir die mensies wat net sassa kry hoe moet hulle oorleef met die bietjie geldjies en die hoë kos prysse.

Papsak ·

Ek se net dit is n flippen skande skaam hulle hulle nie om ons so dood te maak met hierdie pryse sal nie spog as ek hulle was nie

Johan Botha ·

Joy se berekeninge strook met my eie ondervinding. Die nagevorsde pryse weerspieël nie die pryse wat werklik betaal word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.