Duisende ruk op na Sandton ondanks terreurwaarskuwing

Duisende mense was Saterdag in die strate van Sandton. (Foto: HRH Thabang Trodd/Twitter)

Duisende mense het Saterdag na dele van Sandton, Johannesburg, opgeruk ondanks die jongste vrese oor ʼn moontlike terreuraanval in die gegoede gebiede van die stad.

Van die menige gebeure wat vir die naweek beplan is, het vanjaar se LGBT Pride-parade veral voete gelok.

Talle foto’s wat op sosiale media gedeel is, wys hoe honderde mense in die strate van Sandton af geloop het. Diegene wat nie eens deel was van die parade nie het selfs in die strate rondgestaan en geselsies aangeknoop.

Owerhede het vroeër organiseerders van dié geleentheid, en talle ander wat in die luukse distrik beplan is, verseker dat dit veilig is om voort te gaan met hul bedrywighede. Lt.genl. Elias Mawela, polisiekommissaris, het ook sy versekering gegee dat alle nodige maatreëls ingestel is om mense in die stad te beveilig.

Die parade het nietemin te midde van opgeskerpte sekuriteit plaasgevind, met verskeie veiligheidsmaatskappye wat die strate gepatrolleer het.

Die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika het Woensdag ʼn waarskuwing van ʼn moontlike terreuraanval in Sandton uitgereik.

Die aanval sou glo Saterdag plaasgevind het, maar besonderhede oor die tydsberekening, metode of moontlike teiken van die aanval was nie aan die ambassade bekend nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het kort nadat die waarskuwing uitgereik is dit as “ongelukkig” beskryf en gesê dat dit “paniek in die land veroorsaak”.

Hoewel die waarskuwing steeds talle mense afgeskrik het om Sandton in te vaar, het Suid-Afrikaners hulle oudergewoonte nie juis daaraan gesteur nie.

Vanuit plasings op sosiale media is dit egter duidelik dat daar gesamentlik ʼn diep sug van verligting geslaak is dat die naweek se bedrywighede in Sandton tog ietwat glad verloop het.

Kyk hoe probeer Suid-Afrikaners ʼn grap uit elke situasie maak:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

Ek het iewers gelees dat die terroriste aanval eintlik geloods was teen die VSA-geboue van die konsulaat en nie teen SA of die gay-parade nie. Dit laat mens wonder wat steek die VSA weg? Geen wonder SA was nie in kennis gestel nie.

Miskruier ·

Amerika het niks hier verloor nie, ook nie China of enige ander land nie.

Delia ·

Presies was Ramaphosa reg. Net vrees ingeboesem en probeer paniek saai…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.