Einde van hittegolf in sig

Einde van hittegolf in sig. (Foto: Freepik)

Die versengende hitte wat groot dele van die land na hul asem laat snak, sal na verwagting net tot Dinsdag duur. Reën word boonop dan vir etlike provinsies voorspel, weens ʼn tropiese laagdrukstelsel wat tans oor Mosambiek draai.

Die hittegolf het temperature oor die naweek in groot dele van die land tot naby 35 °C laat styg.

Lehlohonolo Thobajana, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê inwoners kan van Woensdag ʼn beduidende verskil in die temperatuur verwag.

Die SAWD voorspel dat temperature in Gauteng Maandag ʼn maksimum van 34 °C sal bereik, met ’n minimum van 15 °C, met moontlike buie en donderbuie.

“Hittegolftoestande met hoë temperature sal tot Dinsdag oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, Noordwes, Vrystaat asook die sentrale en noordelike dele van die Oos-Kaap voortduur.”

Ekstreme en ongemaklike weersomstandighede in Namakwaland, die Weskus en noordelike dele van die Wes-Kaap en die binneland van die Wes-Kaap word ook tot dan verwag.

Volgens Charles Mabaso, woordvoerder van Tshwane-nooddienste, kan hoë temperature hittekrampe, hitte-uitputting of sonsteek tot gevolg hê.

“Drink water, beperk buitemuurse aktiwiteite – veral tydens die warmste tyd van die dag – dra los klere, bly in die skaduwee indien moontlik en hou ʼn ogie oor kwesbare individue, kinders en diere.”

Wat die laagdrukstelsel in Mosambiek betref, sê die weerdiens Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal kan tussen Dinsdag en Donderdag winderige, reënerige weer verwag. Meer inligting sal later hieroor bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Casper ·

Wat ‘n verligting.Ons het ongekende hoë temperature ervaar en reën sal welkom wees.

Hoopvol ·

‘Temperature tot 35°C’! Dit is wel erg, maar ons het 43°C vandag. Die hitte tref jou in die gesig as jy uitstap…en mens kan nie heeldag binnenshuis vertoef nie. Ysland klink vir my al hoe meer idillies – veral met beurtkrag in dié warm seisoen…

Sê maar net ·

Dis so warm, mens loop op wit en geel lyne in die pad dat jou voete nie deur jou skoene brand nie. En van skadu-kol, tot skadu-kol. Sjoe, is erg!

Patch ·

En dit gaan elke jaar net hoër en hoër word. Ek kan nie wag vir die winter nie, naas lente my gunsteling seisoen.

Misky ·

Dit was gister (Sondag, 10 Maart) 44 grade in Richardsbaai gewees. Ons smelt behoorlik hier!!!!!

Delia ·

Ek hoop alle diere eienaars sorg dat hulle diere genoeg water en skuiling het.

Christine ·

Dis goed dat mense gevra word om water ???? uit te sit vir voels en diere
In Abu Dhabi kom daar gereeld versoeke op inwoners se selfone deur van die regering daar dat water uitgesit moet word vir voels agv die uiterste temperature daar

Ronél ·

Mag die Vader ons land seën met reën voordat die WINTER aanbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.