‘Ek het my kind verloor,’ sê ma ná uitspraak

Thea Pretorius en haar seun Gerhard Jansen van Vuuren (Foto: Verskaf)

Hoewel Thea Pretorius verwag het dat haar seun, Gerhard Jansen van Vuuren, skuldig bevind gaan word aan die moord van sy gewese meisie, Andrea Venter, druk die hof se uitspraak tog swaar op haar hart.

“Dit is moeilik om te verduidelik hoe ek voel, want hy bly my kind en geen ma sal so iets vir haar kind toewens nie,” vertel ʼn hartgebroke Pretorius aan Maroela Media.

Vir Pretorius is Venter se moord en haar seun se skuldigbevinding “ʼn riller” en sukkel sy party dae om die “werklikheid te aanvaar”.

Jansen van Vuuren is Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg skuldig bevind op aanklagte van moord met voorbedagte rade en aanranding.

Volgens regter Ian Cox het Jansen van Vuuren doelgerig opgetree toe hy op 2 Mei 2011 vir Venter by die Sibaya Sands-sekerheidskompleks in Randburg, waar sy gewoon het, met ʼn mes aangerand en daarna haar keel oopgesny het. Hy het toe sy eie keel met die mes oopgesny.

Volgens die nadoodse ondersoek het Venter 12 steekwonde opgedoen.

Pretorius vertel dat sy met Venter se dood ʼn dogter verloor het en dat sy nou ook haar seun verloor het. “Sy lewe gaan nou handomkeer verander.”

Gerhard Jansen van Vuuren in die hooggeregshof in Johannesburg. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Pretorius het Jansen van Vuuren langer as ʼn jaar gelede in die hof gesien en het sedertdien nie weer kans gesien om hom in die beskuldigdebank te sien sit nie. “Hy is wel elke dag in my gedagtes en in hierdie stadium kan ek net bid dat hy genade en vrede ervaar. Ek sal hom ook probeer ondersteun op enige manier wat ek kan.”

Pretorius se stem het effens gebreek toe sy gehoor het dat daar geen familielede van Jansen van Vuuren in die hof se galery was ten tyde van die uitspraak nie. “Gerhard het niemand nie.”

Pretorius het vroeër die jaar aan Maroela Media vertel haar seun se gewelddadige kinderjare is die rede waarom hy nou in die beskuldigdebank sit. Jansen van Vuuren se pa, Johannes Gerhardus Jansen van Vuuren (Gerhard sr.), het hul gesin oor die jare fisiek mishandel.

Die egpaar is geskei toe Gerhard slegs twee jaar en sy suster, Yvonne, ses jaar oud was. Yvonne het jare later selfmoord gepleeg.

Volgens Pretorius was Jansen van Vuuren nog altyd sy pa se kind. “Hy was ook ʼn produk van sy pa, soos dié weer van sy pa was. Dit is ʼn bose kringloop.”

Dries Venter treur steeds oor sy geliefde dogter Andrea [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Vir Pretorius was haar seun se verhouding ʼn spieëlbeeld van haar en haar man se huwelik.

“Ek het Andrea gesmeek om hom te los en nie dieselfde pad as ek te stap nie. Sy het egter gesê sy kry hom jammer en wil hom probeer verander.”

Pretorius en Venter se pa, Dries, en broer, Kobus, het ook vroeër vertel dat Jansen van Vuuren in 2005, toe hy en Venter ʼn verhouding aangeknoop het, heel ordentlik voorgekom het. Hy het egter handomkeer verander toe hy in 2008 van Engeland – waar hy vir ʼn ruk gewerk het – teruggekeer het.

Venter se peetouers, Dawie en Hilda Viljoen, het Maandag ná die hofverrigtinge vertel dat Jansen van Vuuren sedert sy terugkeer erg gewelddadig geraak het. Venter het in 2008 ʼn beskermingsbevel teen Jansen van Vuuren gekry, wat hy verontagsaam het.

“Andrea was baie bang vir hom. Sy kon hom ook nie los nie, want hy het gedreig dat hy haar ouers gaan laat doodmaak,” vertel die Viljoen-egpaar.

Dit het in die hof uitgekom dat Venter en Jansen van Vuuren weke voor haar moord ʼn berader gaan spreek het.

Jansen van Vuuren se regsverteenwoordigers het aangevoer dié paartjie wou aan hul verhouding werk en het planne gehad om te trou.

Dries het hierop fronsend sy kop in die getuiebank geskud en gesê indien dit wel so is, is dit omdat Jansen van Vuuren vir Andrea gedwing het om by hom te bly, “net soos hy haar met alles gedwing het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.