Familie verpletter ná rowerkoeël op plaas sprankelseun eis

Jayden en sy jonger broer Damian (Foto: Verskaf)

Die familie van ʼn 14-jarige seun van Gauteng is in rou gedompel nadat die tiener Saterdag in ʼn aanval op ʼn plaas in die provinsie doodgeskiet is.

Jayden Louw is dood toe ʼn groep swaar gewapende mans op sy gesin se plaas net buite Bapsfontein toegesak het. Maroela Media het vroeër berig vyf mans het omstreeks 13:00 met twee voertuie, ʼn swart Mazda 3 met ʼn Mosambiekse nommerplaat en ʼn wit BMW 1-reeks, toegeslaan.

Volgens Amanda Botha, ʼn jare lange huisvriend van die Louw-gesin, was Jayden en sy ma, Lyall (50), asook sy jonger broer, Damian (10), tydens die voorval tuis.

“Lyall het vertel dat sy op die bank gelê het toe sy ʼn klop aan die deur hoor. Sy het opgestaan en die deur op ʼn skrefie oopgemaak omdat sy nie die mans geken het nie.”

Botha vertel dat die mans glo na Lyall se stiefdogter, Tanya (28), op soek was. Sy woon ook saam met die gesin op die plaas en was nie in daardie stadium tuis nie.

“Lyall sê sy het oomblikke later die vuurwapens in die mans se hande opgemerk en dadelik begin terugveg en probeer om die mans uit die huis te hou. Hulle het egter die deur oopgedwing en die huis oomblikke later binnegedring.

“Daarna het hulle vir Lyall hardhandig hanteer en haar gedwing om vir hulle te wys waar die kluis is. Nadat hulle alles gevat het wat hulle kon, het hulle haar gedwing om hulle na ʼn tweede kluis in die huis te neem.”

(Foto: Verskaf)

Lyall het in daardie stadium glo kliphard vir haar twee seuns geskreeu om uit die huis te kom en te vlug.

“Lyall sê sy kan nie regtig presies onthou wat in daardie oomblikke gebeur het nie; sy weet net twee skote is afgevuur en haar seun het gebloei.”

Botha vertel dat Lyall die aanvallers gesmeek het om haar toe te laat om haar seun na ʼn hospitaal te neem.

“Julle kan alles vat, ek wil net my seun by die hospitaal kry,” het Lyall volgens Botha by die mans gepleit.

Die boewe het egter glo vir Lyall gesê dat haar seun oukei sal wees en hulle het kort daarna te voet van die toneel gevlug.

“Toe die boewe weg is, het ʼn angsbevange Lyall dadelik vir Jayden in die voertuig gelaai en met hom na die Netcare Linmed-hospitaal in Benoni gejaag.”

Jayden se pa, Duan, was tydens die tragedie by die werk. Hy het ʼn vragmotor bestuur toe hy van die voorval ingelig is en het dadelik gereël dat iemand die vragmotor by hom oorneem sodat hy na sy seun in die hospitaal kon gaan.

Jayden is egter ʼn paar uur later in die hospitaal dood.

“Ons het die hartverskeurende oproep Saterdag omstreeks 15:40 ontvang. Ek weet nie wat om te sê nie. Dit is die seerste seer wat ons familie nog ooit moes deurmaak, dit is regtig bitter moeilik vir ons almal,” sê Ché Smit, Jayden se oom.

“Ek hoop net die mans wat hiervoor verantwoordelik is, word so gou moontlik vasgetrek. Hulle het ʼn gesin se lewe verwoes.”

Llewellyn Hemmens, AfriForum se streekshoof vir veiligheid in die Noordstreek, was een van diegene wat op die voorval gereageer het en Hemmens was self op die toneel.

“Dit is ʼn verskriklik traumatiese gebeurtenis vir die gesin en die nuus het die hele gemeenskap geruk. Ons het vir die gesin traumaberading aangebied.”

Smit beskryf Jayden as ʼn “ster-kind”.

“Hy was ʼn uitblinker, hy het A’s in alles gekry. Maak nie saak wat hy aangepak het nie, jy kon seker wees dat hy ʼn sukses daarvan sou maak.

“Hy was ongelooflik sportief en musikaal; jy moet net al sy medaljes en sertifikate sien,” sê Smit.

Jayden op sy 14de verjaardag in Maart vanjaar (Foto: Verskaf)

Botha vertel dat Jayden ʼn babbelende jong man was; altyd positief en ongelooflik lief vir kosmaak.

“Hy wou eendag ʼn sjef wees. Hy was so lief daarvoor om kos te maak en in die kombuis met iets besig te wees. Hy was regtig so spesiaal en het ons almal altyd laat lag.

“Op slegte dae sou hy net by jou kom sit. Hy het die manier gehad om alles beter te maak met sy vrolike geselskap. Hy kon jou opreg laat lag.

“Jayden gaan ontsettend gemis word,” sê Botha.

Volgens Smit was lede van die polisie se forensiese afdeling Saterdag op die toneel en het ondersoekbeamptes die familie Sondag besoek.

“Ons het egter nog geen verdere terugvoer ontvang nie.”

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ʼn saak van roof en moord is by die polisie aanhangig gemaak.

“Die ondersoek is aan die gang en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

“Ons doen ʼn beroep op enigiemand met inligting wat kan help om die verdagtes vas te trek om asseblief die naaste polisiestasie of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Roek ·

Niks anders as wrede terrorisme wat plaasvind in ons land nie! Dit is voorwaar ‘n groot tragedie !!

Karoo ·

Inige Simpatie aan die Louw familie, sterkte aan die Mamma wat haar pragtige seun nie kon red nie.

Patch ·

Hartverskeurend! Ek word woedend as ek sulke berigte lees. Ek kan nie eers begin dink hoe seer daardie ouers en kleinboet se harte is nie.

Gaitsigubib ·

Ai my jongste is ook 14….. ek kan my die pyn nie voorstel nie.

Sonblom ·

Ek is so jammer vir die Louw familie. Dit is verskriklik. My innige simpatie.

Jaco ·

Om hierdie te lees. Van ‘n jong seun wat sy lesw moes verloor, in hierdie wettelose land van ons. Dit maak by bitter. Die dinge wat in die land aangaan maak my bitter , bitter en kwad teenoor, ons patetiese, verskoning van ‘n regering. Ek voel so magteloos, dat hierdie in my land moet gebeur. Baie sterkte aan die familie van die jong man. Ek is self die pa van 2. Kan my nie indink, die hartseer, wat hierdie ouers moet deurmaak nie.

Lyall ·

Baie dankie vir almal so mooi woorde. My seun was die vriendelikste en lewenslustigste persoon ooit.

Elmarie ·

Ek het my seun toe hy 16 was verloor, nie op dié manier nie, maar glo my, ek verstaan jou pyn. Ek wens julle almal sterkte en vrede toe. Dis ‘n báie moeilike pad en mens struikel baie, maar daar is Een wat julle vashou al voel dit soms nie so. Lees asb (onder Goeie Goed) Toekomsvenster: Hy weet beter. Sterkte en mag liefde julle dra

Darts girl ·

My innige simpatie met Jayden se familie en vriende, my hart breek vir julle. Rus in vrede Jayden daar sal geregrigheid wees vir wat met jou gebeur het. My en my familie se gebede is met die familie en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.