Foto’s: ‘BSV’ se Mathys, Albert nou ‘swarries’ ná spogtroue op plaas

Boer Mathys en Annamie is op die plaas in Clanwilliam getroud. (Foto: Corné Visser Studio)

Ons hoor gereeld van Boer soek ʼn vrou (BSV)-manne wat eggenote en pa’s word, maar dis min dat ʼn boer sommer ʼn swaer ryker van dié gewilde maatsoekreeks af wegstap.

Dít was egter die geval vir boere Mathys en Albert van BSV se 13de seisoen. Dié twee het op 30 Maart amptelik familie geword toe Mathys en Albert se suster, Annamie, tydens ʼn pragtige plaastroue voor die kansel gestaan het.

Maroela Media het voorheen berig dat Albert en Mathys mekaar leer ken het toe hulle destyds deur die program se vervaardigers op dieselfde WhatsApp-groep geplaas is.

Hulle het mekaar uiteindelik tydens die verfilming van die reünie-episode ontmoet, waarna Albert vir Mathys na sy plaas genooi het. Vandaar het hulle ʼn goeie vriendskap gevorm.

Annamie is een van Albert, ʼn rooibosteeboer op Clanwilliam in die Wes-Kaap, se sussies. Haar en Mathys se paadjies het  eers in Augustus 2022 op Albert se troue met Chanté Kruger gekruis.

“Ek doen altyd mooi navorsing as ek hoor iemand in my binnekringe het ʼn enkellopende sussie of vriendin, maar Annamie het in Nederland gewoon toe ek aanvanklik vir Albert leer ken het,” vertel Mathys aan Maroela Media.

“ʼn Week voor Albert se troue wou ek tee by hom bestel, maar hy’t my na Annamie verwys omdat die troue hom besig gehou het. Ek het dadelik gedink sy’s ʼn baie oulike meisie.”

Hy het raad van ander BSV-vriende, insluitende boer P.F. en Marthinus, ingewin.

Mathys en Annamie. (Foto: Corné Visser Studio)

“Ons het koppe bymekaargesit en besluit ek moet op die troue my move maak. Die ander manne het my lekker geterg, maar ná ʼn glasie wyn het ek genoeg selfvertroue bymekaargeskraap om met haar te gesels,” sê hy met ʼn skaam lag.

Drie weke daarna het sy vir die eerste keer by Mathys gaan kuier, en op 31 Oktober het hulle amptelik ʼn paartjie geword.

“Die ding van Boer soek ʼn vrou is dat mens skielik baie meisies ontmoet, maar ek het veral na Annamie se tweede kuier by my geweet hier broei iets spesiaals. Ek het vinnig rustig en tuis by haar gevoel; sy’s alles wat ek nog altyd in ʼn vrou wou gehad het. Sy’s my huis.”

Nog voordat hy en Annamie verloof was, het Mathys reeds vir Albert tergend “swarrie” begin genoem.

“Kyk, hy’t my vinnig laat verstaan dat ek eers deur hom sal moet kom voordat daar oor trou gepraat word. Ek het toe nooit sy toestemming gevra nie, maar dis nou te laat. Ons is familie – hy sit nou opgeskeep met my,” skerts Mathys.

Die groot dag

Die onthaal was presies wat hulle gedroom het. (Foto: Verskaf)

Die troue was op Albert en Annamie se familieplaas in Clanwilliam en was volgens die bruidegom “ʼn groot spanpoging.”

Familie en vriende het ingespring om kratte te pak, liggies te hang en tafels aan te dra.

Die klomp het onder mekaar gespot dat sou die boerdery nie uitwerk nie, hulle troubeplanners kan wees.

“Nee genade, ons trek toe vinnig ons woorde terug, want dis baie harde werk!”

As hy nou terugkyk, was dit alles die moeite werd.

“Die eerste oomblik wat al die kersies en liggies aan was, was dit ʼn wow-oomblik. Dit was presies soos wat ons dit wou gehad het. Ons koester daardie herinneringe, en elke keer as ons nou weer op die plaas kuier, sal ons aan ons troudag dink.”

Volgens Mathys was hulle albei se spanningsvlakke laag op die groot dag.

Familie en vriende het saamgespan om die dag spesiaal te maak. (Foto: Corné Visser Studio)

“Ons is beide die tipe mense wat nie oor klein goedjies bekommer nie. Al die onverwagse krisisse het ons laat oorwaai en in die oomblik geleef.”

ʼn Spesiale stemboodskap van Annamie het hom wel kort voor die seremonie ʼn traan laat pink.

Die paartjie het ook werk gemaak van Mathys se nou bekende sêding oor sy droomvrou: “Maak nie saak wat sy doen nie, dans sal sy dans!”

“Ons het nog kos op ons borde gehad toe ons besluit om die dansbaan te open en het in die vroeë oggendure eers klaar gekuier. Die voete wou nie lekker loop die volgende dag nie.”

Hy sien nou uit daarna om die getroude lewe saam met sy nuwe bruid aan te pak.

“Mense vra my baie of Boer soek ʼn vrou regtig werk, want ek het nie iemand tydens die seisoen gevind nie. Dit werk beslis, want ek het iemand daardeur ontmoet op die mees onverwagse manier.”

Hy glo mense moet hul eie tydlyne en spertye om ʼn maat te vind laat staan.

“Die tyd wat ek alleen was, het ek baie hard gebid en werklik gehunker na iemand. Ek het soveel keer ná ʼn lang dag langs die stofpad stilgehou en oor die vlaktes en paaie gekyk en gewonder wanneer my vrou nou eendag oor hierdie pad sal aankom. Nou is sy uiteindelik hier – op die Here se tyd.”

Mathys en Albert is nou swaers. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Impact ·

Baie geluk aan die bruidspaar en die swaers. Dit is nou beplaning ne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.